4. Verslag aangaande die ‘Maatschappij’ in die Republiek van Suid-Afrika oor die jaar 1970
Die ledetal van die ‘Maatschappij’ in die Republiek van Suid-Afrika bedra tans (Desember 1970) 46. Tydens die afgelope jaar is geen nuwe lede gekies nie, maar die bestuur het prof. dr. B. Kok, rektor van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, Bloemfontein, as lid benoem. Prof. Kok het die benoeming aanvaar.
Prof. dr. S.P.E. Boshoff, in 1922 as lid gekies, het die begeerte uitgespreek om te bedank.
Gevoelige verliese is, in die eerste plek vir Suid-Afrika en terselfdertyd deur die ‘Maatschappij’ gely deurdat die volgende lede aan hul naasbestaandes, hul land en hul volk ontval het: Prof. dr. Willem J. de Kock (benoem in 1964), 'n bekende Suid-Afrikaanse historikus en redakteur van die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek (s.a.b.w.); prof. dr. Thomas H. le Roux (gekies in 1910), 'n vooraanstaande taalgeleerde en die oudleermeester van 'n groot aantal studente in die vak Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Pretoria; en dr. Pieter C. Schoonees (gekies in 1949), in lewe hoofredakteur van die Woordeboek Afrikaanse Taal (w.a.t.). Prof. dr. Wilfried de Pauw het, in verband met sy amptelike werksaamhede, na België teruggekeer.
Prof. dr. G.S. Nienaber, oud-hoogleraar aan die Natalse Universiteit, is deur die Universiteit van die Oranje-Vrystaat met 'n ere-doktoraat vereer en tree tans o.m. as 'n deeltydse lid van die Publikasieraad op.
Wyle dr. P.C. Schoonees is, as hoofredakteur van die w.a.t. deur dr. F.J. Snyman opgevolg, terwyl dr. I.D. du Plessis as die eerste kanselier van die Universiteit van Wes-Kaapland benoem is.
Aan prof. dr. M. Bokhorst is die Besondere Erepenning vir Kultuurhistoriese Prestasie deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken, terwyl die Akademie die Markus Viljoen-medalje vir Joernalistiek aan mnr. L.W. Hiemstra en die Akademieprys vir vertaalde werk