| |
| |
| |
Hendrik Bernardus Thom
13 december 1905 - 4 november 1983
Veertig jaar gelede het ek met prof. Thom kennis gemaak. Dit was in die Geskiedenisklas vir eerstejaars. Hy het 'n Inleiding tot die Suid-Afrikaanse Geskiedenis gedoseer: die stigting van die voc, die ontdekking van die seeweg óm die Kaap, die stigting van die Kaapse verversingspos, Jan van Riebeeck se probleme, en die tydperk van die Van der Stels. Op 'n nugter, saaklike, objektiewe wyse, maar terselfdertyd interessant en prikkelend, is die geboortetaferele van Blank Suid-Afrika voor ons oë ontplooi - 'n verhaal wat die meeste van ons toe reeds in breë trekke geken het, maar 'n verhaal wat nou, uit die voorstelling van 'n meester in sy vak, vir ons nuwe perspektief gekry het.
Daardie indrukke is later bevestig, veral tydens die nagraadse studie. Noukeurig, presies, sistematies en objektief; met 'n liefde en belangstelling vir die Geskiedenis wat onwillekeurig aan studente oorgedra is; besielend en hulpvaardig. Nie 'n eensydige historikus nie, maar iemand met 'n goeie balans.
Hendrik Bernardus Thom is op 13 Desember 1905 gebore. Sy vader was toe 'n onderwyser in 'n eenmanskool in die distrik Aliwal-Noord, en van 1912 af hoof van die skool op Burgersdorp. Aan die laasgenoemde skool het Thom in 1923 in die eersteklas gematrikuleer.
In daardie deel van die Kaapkolonie was van ongeveer 1878 af 'n sterk gevoel vir die Afrikaner se taal en kultuur. Baie mense het hulle verset teen die feit dat Nederlands - die Afrikaanse taalbeweging het eers kort tevore begin - teenoor Engels geweldig afgeskeep is en byvoorbeeld nie in die parlement gebruik kon word nie. In 1882 is dit egter verander; van toe af kon Nederlands náás Engels in albei Huise van die parlement gebruik word. Die mense van Burgersdorp, en ook ander mense, was daaroor só verheug dat hulle 'n groot fees gevier het en besluit het om op daardie dorp 'n Nederlandse taalmonument op te rig, wat inderdaad gebeur het. Die Burgersdorpers het ook gedurende die Tweede Transvaalse Onafhankelijkheidsoorlog van 1899-1902 met die Transvalers, en met die Vrystaters wat die Transvalers gehelp het, gesimpatiseer. Van al hierdie dinge het die jong Hendrik (of soos hy algemeen genoem is, Quintie) Thom gewéét, en dit het vroeg reeds by hom 'n bewustheid van die geskiedenis as 'n bepa- | |
| |
lende faktor in die mens ze doen en late gekweek.
In 1924 het Thom na die Universiteit van Stellenbosch gekom en hom ingeskrywe vir die graad ba. Sy leermeesters in Geskiedenis was prof. W. Blommaert, 'n Belg van geboorte en 'n leerling van die beroemde Belgiese historikus Henri Pirenne, en prof. S.F.N. Gie. Hy het baie goed gepresteer: in 1926 behaal hy die graad ba cum laude, met Geskiedenis en Hollands as hoofvakke, en in 1928 ook die graad ma in Geskiedenis cum laude. Daarna is Thom oorsee vir verdere studie. In 1928-1929 studeer hy aan die Friedrich Wilhelms Universität in Berlyn en in 1930 aan die Sorbonne in Parys. Terselfdertyd het hy in Nederland en Duitsland die navorsing vir sy doktorale proefskrif afgerond, en in Desember 1930 promoveer hy aan die Universiteit van Stellenbosch onder leiding van prof. Blommaert. Sy proefskrif handel oor die geskiedenis van skaapteelt in Suid-Afrika van 1652 tot ongeveer 1930. Prof. Blommaert het veral klem gelê op argivale navorsing. Dit was 'n redelike nuwe tradisie in die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing en prof. Thom het later hierdie tradisie voortgesit, dit stewig gevestig en dit deur middel van sy nagraadse studente landswyd uitgedra. Sy bydrae in dié verband was só betekenisvol dat dr. G.D. Scholtz, 'n bekende historiograaf, verklaar het dat professore Blommaert en Thom die grondleggers van die Stellenbosse Skool in die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing was. Daarmee word bedoel die nuwe tradisie hier te lande van deeglike argivale navorsing gebaseer op 'n goeie kennis van bronneleer en bronnekritiek, en dan 'n objektiewe, kritiese beoordeling van die opgediepte materiaal. Prof. Thom se ánder Stellenbosse leermeester in Geskiedenis, prof. Gie, het by sy studente 'n liefde gekweek vir die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Sy oudstudente vertel dat hy 'n flambojante persoon was, met 'n aanvoeling vir die dramatiese in die Geskiedenis.
'n Besondere liefde vir Suid-Afrika en al sy inwoners, veral die Afrikanermense, word óók by prof. Thom aangetref. Hy het sy studente geïnspireer om hulle kragte en talente aan navorsingswerk oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis te wy. Daarmee het hy veel sukses behaal, soos later meer uitvoerig aangetoon sal word. Sodoende is 'n aansienlike bydrae gelewer tot die historiese literatuur ten opsigte van Suid-Afrika. Dit is egter opvallend dat prof. Thom nooit oor die Algemene Geskiedenis, waarmee hier bedoel word dié van ander lande, oorspronklike navorsing gedoen het nie. Die enigste uitsondering was Nederland in die sewentiende eeu, as agtergrond vir die Kaapse verversingspos.
| |
| |
In Berlyn het prof. Thom onder meer prof. Friedrich Meinecke se private seminare oor die historiese metodeleer bygewoon. Dit was 'n eer wat hom te beurt geval het, want dié beroemde historikus het 'n beperkte getal senior studente tot dié seminaar toegelaat. Thom het ook klasse van prof. Hermann Oncken en prof. Franz Rühl bygewoon, en kennis gemaak met die beroemde kenner van die sosialisme, prof. Werner Sombart. In Parys, weer, het hy klasse van Ch. Seignobos, die medeskrywer (saam met Langlois) van 'n baie bekende leerboek oor die historiese metodeleer, bygewoon. Hy het ook by prof. Hauser, wat Ekonomiese Geskiedenis gedoseer het, klasse geloop, en kennis gemaak met Henri Déhérain, wat hoofbibliotekaris van die Bibliothèque Nationale was en verskeie geskrifte oor Suid-Afrika gelewer het. Thom se oorsese verblyf het hom in staat gestel om sy vakkennis aansienlik uit te brei. Dit het ook sy blik verruim en sy perspektief verfyn - 'n bate wat hy later aan sy studente oorgedra het. Ten slotte het dit sy kennis van Duits en Frans ten goede gekom - twee tale wat vir 'n historikus 'n baie groot bate is.
Terug in Suid-Afrika, was Thom van 1931 tot 1934 lektor in Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch. Met ingang van 1935 is hy bevorder tot senior lektor, en twee jaar later het hy prof. Blommaert, wat in 1934 oorlede is, as professor opgevolg.
In 1934 is hy ook getroud. Sy eggenote was Maria du Toit, wat in Tulbagh gebore is en vir wie hy reeds voordat hy oorsee is, as student op Stellenbosch leer ken het. Sy het hom in alle opsigte - ook in verband met sy navorsing tot die end toe - op 'n uitsonderlike wyse bygestaan.
Dwarsdeur prof. Thom se termyn as hoogleraar - wat van 1937 tot 1954 geduur het - het hy hoofsaaklik Algemene Geskiedenis gedoseer en hom veral toegespits op die ontdekkingsreise van die vyftiende en sestiende eeue, die koloniale geskiedenis van die sewentiende, agtiende en neëntiende eeue, en konstitusionele verwikkelinge in die vsa en die Britse Ryk. Wat laasgenoemde betref, het hy gekonsentreer op die konstitusies van Kanada, Australië en Suid-Afrika, wat met die eerstejaar-ma-studente in die vorm van seminaarklasse behandel is. In hierdie studie het prof. Thom altyd aangedring op die suiwer gebruik van terminologie.
Prof. Thom het hom in die eerste plek uitgeleef deur middel van klasvoorlesings en leiding aan nagraadse studente. Omdat die Geskiedenisklasse altyd relatief groot was, het hy langs hierdie weg baie persone bereik. Hy het hulle besiel met 'n liefde vir die vak en hulle aangemoedig om nagraads met hulle studies voort te gaan. Hy het hulle ook gehelp om on- | |
| |
derwerpe vir skripsies en proefskrifte te vind, en hy was niet tevrede nie voordat hy daarvan oortuig was dat elke student 'n onderwerp gevind het wat by sy of haar belangstelling aansluit.
Dít het ook met my gebeur. Toe ek besig was met die finalejaarkursus vir die ba-graad sê prof. Thom eendag dat ek hom ná die klas moet kom spreek. As so iets gebeur, voel 'n student maar lugtig, want wat het jy dalk gedoen? Hy vra toe vir my wát ek van voorneme is om die volgende jaar te maak. Eers 'n ma-graad in die Filosofie kry, en daarná Kweekskool toe, antwoord ek. ‘Nou, luister mooi’, sê hy, ‘ek wil nie van Filosofie 'n student afrokkel nie, want die professor in dié vak is my swaer, maar ek dink dit sal vir jou beter wees om liewer die ma in Geskiedenis te doen. Boonop, ek sal vir jou daarvoor 'n beurs kry.’ Laasgenoemde was vir iemand in mý financiële posisie 'n groot aanloklikheid. Gevolglik besluit ek om sy advies te volg. Ek skrywe toe onder sy leiding 'n skripsie oor 'n onderwerp uit die Suid-Afrikaanse Sendinggeskiedenis. Toe ek naasteby daarmee klaar was, sê hy vir my: ‘Nou moet jy aangaan met 'n doktorsgraad in dieselfde rigting, dan word jy eendag 'n dosent aan die Teologiese Kweekskool.’ En só het ek toe ook onder hom as promotor 'n proefskrif geskrywe. Maar nooit by die Kweekskool uitgekom nie, want hy het my 'n pos in sy departement aangebied.
'n Groot aantal mense het onder prof. Thom se leiding gevorderde grade behaal. Verskeie van hulle het later dosente aan Suid-Afrikaanse universiteite geword of ander betrekkings van belang beklee. Die volgende het professor geword: C.F.J. Muller (unisa) J.J. Oberholster (uovs), P.S. du Toit (US), C.G. Coetzee (Fort Hare), W.J. de Kock (Wes-Kaapland), C.R. Kotzé (Wes-Kaapland), en die skrywer van hierdie artikel P.J. van der Merwe, wat van 1955 tot 1977 professor in Geskiedenis op Stellenbosch was, het ook tot op die ma-vlak by hom klasse geloop. Ander oudstudente van hom wat as historici naam gemaak het, was dr. A. Kieser, wat Direkteur van Argiewe geword; dr. Anna Boëseken, wat Hoof van die Staatsargief se Publiklasie-Afdeling was; dr. Willem Punt, die geestelike vader en eerste Direkteur van die Stigting Simon van der Stel; en dr. J.H. Breytenbach en dr. J. Mouton, albei van die Staatsargief se afdeling Publikasies.
In die tweede plek het prof. Thom sy vak gedien deur goeie navorsing te doen, veral oor die Kompanjiestyd en oor die Groot Trek, en deur daaroor geskrifte van hoë gehalte te lewer. Sy ma-skripsie en ook sy D. Phil.-proefskrif het gehandel oor die geskiedenis van die skaapboerdery in Suid- | |
| |
Afrika tot ongeveer 1930. Bymekaar genome, is dié twee 'n standaardwerk, en dit is in 1936 gepubliseer. Die volgende jaar - 1937 - verskyn in die (Nederlandse) Tijdschrift voor Geschiedenis (No. 52) van hom 'n artikel Kolonisasie-denkbeelde van Jan van Riebeeck. Voorts is daar Thom se biografie oor die Voortrekkerleier Gert Maritz, getitel Die Lewe van Gert Maritz. Dit is in 1947 gepubliseer en is spoedig as 'n model vir hierdie historiese genre voorgehou. Daar volg nóg 'n werk oor die tydperk van die Groot Trek, te wete 'n bundel opstelle, getitel: Die Geloftekerk en ander studies oor die Groot Trek. Dit is gepubliseer in 1949. Die eerste en vernaamste van hierdie opstelle handel oor die vraag of die kerkgeboutjie in Pietermaritzburg wat nou nog bestaan, en bekend is as Die Geloftekerk, inderdaad eg is in dié sin dat dít die kerkie is wat die Voortrekkers opgerig het ter nakoming van hulle gelofte aan die Here indien hulle Dingaan verslaan. Prof. Thom het bevind dat die Voortrekkers van Natal te arm was om 'n imposante kerk op te rig en dat hulle toe besluit het om éérs 'n voorlopige kerk te bou. Dít het hulle inderdaad gedoen. Weens verskeie onvoorsiene omstandighede, soos hulle armoede en die feit dat die meeste Voortrekkers redelik kort daarna uit Natal weggetrek het na die huidige Oranje-Vrystaat en Transvaal, het hulle egter nooit dié soort gebou wat hulle in gedagte gehad het, opgerig nie. Waaruit prof. Thom dan heeltemal onverwags aflei dat die ou geboutjie inderdaad as die Geloftekerk beskou moet word, en dat 'n mens dit só moet opvat dat die Voortrekkers wel hulle voorneme nagekom het. Terloops, hierdie opstel is 'n oefening in die egtheidskritiek, wat handel oor die vraag of iets dít is wat dit voorgee om te wees, en sover ek weet, was dit prof. Thom se enigste poging in hierdie verband. Wat handboeke vir universiteitsgebruik betref, het prof. Thom as medewerker opgetree by die skrywe van die handboek getitel Geskiedenis van Suid-Afrika, onder die redaksie van Van der Walt, Wiid en Geyer. Vir Deel ii het hy 'n hoofstuk geskrywe oor Die Beleid van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie. Hierin het hy veral op die voc se ekonomiese beleid nuwe lig gewerp, en hy was in staat om dit te doen vanweë sy kennis van ekonomiese geskiedenis. Wat bronnepublikasies betref, het prof. Thom twee voltooi, te wete W.S. van Ryneveld se Aanmerkingen over de verbetering van het vee aan de Kaap de Goede Hoop, 1804 en die Daghregister van Jan van Riebeeck. Eersgenoemde is in 1942 deur die Van Riebeeck-Vereniging gepubliseer en laasgenoemde in 1952-1958.
Die Daghregister was 'n geleentheidspublikasie. Die Van Riebeeck-Vereniging, wat dié onderneming van stapel gestuur het, het dit gedoen om
| |
| |
Van Riebeeck se aankoms in 1652 te herdenk en om die nageslag se aandag te vestig op die betekenis van sy koms. Prof. Thom was verantwoordelijk vir die historiese aantekeninge by die Nederlandse teks (wat deur prof. D.B. Bosman geredigeer en van taalkundige aantekeninge voorsien is), en hy het ook onderneem om die vertaling van die teks in Engels te versorg, en om dit van 'n inleiding en voetnote te voorsien. Prof. Thom was vier jaar lank - van middel 1948 tot die helfte van 1952 - voltyds daarmee besig, en daarná nog tot 1958 deeltyds, want dit was 'n kolossale projek. Die resultaat was 'n publikasie gróót in omvang en 'n skitterende voorbeeld van nougesette vakmanskap. Deurdat die Daghregister die eerste keer volledig in Engels beskikbaar geword het, het die Engelstalige publiek ook toegang verkry tot een van die belangrikste dokumente in die Suid-Afrikaanse geskiedenis - 'n dokument waarvan die redakteur van die South African Commercial Advertiser al in 1853 - 100 jaar tevore - gesê het: ‘[It] should be as precious to the Cape Colonist as Domesday Book is to the Englishman.’ Om besig te wees met die Daghregister het vir prof. Thom ongelooflike genot verskaf. Sy eie sin vir humor het hom Jan van Riebeeck se humorsin (of as Van Riebeeck dit nie self geskrywe het nie, dan die regte skrywer s'n) terdeë laat geniet, en jare later het hy nog daarin groot behae geskep om Van Riebeeckstaaltjies alias Daghregisterstaaltjies te vertel. Een onthou ek nog goed. Op 'n plek in die Daghregister, staan, so vertel hy: ‘Heden morgen, Gode zij loff, zyn acht schepen van Patria in de Tafelbaay uit de mist opgedonderd.’ Dan vra hy ewe serieus en wetenskaplik: ‘Hoe vertaal 'n mens nou dít in Engels?’ Sy laaste gepubliseerde werk - D.F. Malan (1980) - het egter nie by historici dieselfde entoesiastiese ontvangs geniet as byvoorbeeld Die Lewe van Gert Maritz nie. Terwyl laasgenoemde 'n voorbeeld is van deeglike navorsing, goeie interpretasie, 'n gebalanseerde oordeel en 'n aanvaarbare sintese, kan dit nie van al die hoofstukke in D.F. Malan gesê word nie. Laasgenoemdes is nie almal op dieselfde peil nie; 'n mens kry die indruk dat sommige net ‘voorlopig’ geskrywe is. Trouens, die skrywer het dit een keer self teenoor my laat deurskemer. Sekere aspekte van dr. Malan se lewe wil hy later nog graag volledig uitwerk, het hy toe gesê. Gedurende die laaste jare van sy lewe was hy inderdaad hard daarmee besig.
As dosent was prof. Thom noukeurig, presies, deeglik, sistematies, objektief, met 'n liefde en belangstelling vir sy vak wat onwillekeurig aan die studente oorgedra is. Hy was ook besielend en hulpvaardig. Hy was nie 'n eensydige, ‘subjektiewe’ historikus nie, maar iemand met 'n gebalanseerde
| |
| |
lewenshouding. Ek het dikwels nagedink oor moontlike ánder redes vir professor Thom se sukses as dosent, en tot die gevolgtrekking gekom dat dit ook in hoë mate toegeskryf moet word aan die feit dat hy by voorkeur sy inligting uit die oorspronklike bronne gehaal het, soos die geval was met sy leermeester Blommaert, wat weer op sý beurt dit geleer het van sy beroemde Belgiese Geskiedenis-professor aan die Universiteit van Ghent: Henri Pirenne. Nóg 'n rede vir Thom se sukses was dat hy 'n besondere liefde gehad het vir Suid-Afrika en al sy inwoners. Hy het dikwels vir my gesê dat die Afrikaner moet probeer om al die ander groepe in Suid-Afrika gelukkig te laat voel, dan sal hyself ook gelukkig en voorspoedig wees.
Prof. Thom het talle bydraes gelewer vir vaktydskrifte, maar hy het ook aan die gewone mens gedink en, met die oog daarop, vir tydskrifte soos Die Huisgenoot wat vir 'n breë publiek bedoel is, artikels geskryf. In Die Huisgenoot is byvoorbeeld artikels oor D.F. Malan gepubliseer, onder andere een oor Dr. Malan se familie, wat die eerste hoofstuk van 'n biografie oor hierdie staatsman was. In 1938 - die eeufeesjaar van die Groot Trek - het hy ook oor aspekte van daardie gebeurtenis vir Die Huisgenoot artikels geskrywe. Verder het professor Thom vir die Suid-Afrikaanse Bibliografiese Woordeboek bydraes gelewer, byvoorbeeld oor Gert Maritz en oor die Universiteit van Stellenbosch se groot weldoener Jannie Marais. Vir sommige ander artikels in daardie reeks het hy as raadgewer opgetree. Die eerste hoofredakteur van die sabw - dr. W.J. de Kock - was een van sy doktorale studente. Prof. Thom het ook bydraes gelewer vir vaktydskrifte hier en oorsee. Wat laasgenoemdes betref, was hy lank 'n redaksielid van die bekende Nederlandse tydskrif Bijdragen voor de Geschiedenis der Nederlanden. Hy was jare lank verantwoordelik vir die Suid-Afrikaanse Kroniek in dié reeks, wat 'n jaarlikse uiteensetting en evaluering van die voorafgaande jaar se historiese produksie in Suid-Afrika was. Hy het sommige van die oorsigte self geskrywe, ten spyte van sy vol program as Rektor, en soms ander mense, meestal oud-leerlinge, gekry om dit te skrywe. Prof. Thom het hom nie net onderskei as dosent in Geskiedenis en as navorser nie; hy het hom ook beskikbaar gestel vir diens ten opsigte van sy vakgebied buite die klaslokaal en die studeerkamer. Hy het gedien in die besture en beheerrade van verskeie vakverenigings en aanverwante liggame wat met Geskiedenis te make het. Een van hulle was die Argiefkommissie, waarvan hy 1950 tot 1955 die Voorsitter was. Nog een was die Historiese Monumentekommissie, waarvan hy van 1948 tot 1954 'n lid was. Daarby kom die Van Riebeeck-Vereniging, die Kruger-Sterfhuis-komitee en die
| |
| |
Stigting Simon van der Stel. Van 1962 tot 1968 was hy 'n lid van die Raad van Trustees van die jong Stellenbosch-Museum wat hoofsaaklik kultuurhistories ingesteld is. As lid van die Argiefkommissie het hy hom beywer om vir die Suid-Afrikaanse argiefbewaarplekke aanwinste te verkry - nie net plaaslik nie, maar ook oorsee. Hy was onder andere voorsitter van 'n kommissie van deur die Minister van Onderwys, Kuns en Wetenskap aangestel is om, in samewerking met die Argiefkommissie, moontlikhede in verband met die kopiëring van dokumente in oorsese argiefbewaarplekke te ondersoek. Op grond van aanbevelings wat deur húlle aan die handgedoen is, is drie historici met die rang van argivaris tydelik na Groot-Brittanje, die vasteland van Europa en die vsa gestuur om dáár dokumente wat op die Tweede Vryheidsoorlog betrekking het, op te spoor en te kopieer. As lid van die Historiese Monumentekommissie (nou genoem Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede) het prof. Thom veel gedoen vir die bewaring van ons historiese geboue, terreine en ander gedenkwaardighede. Mede deur sý toedoen is Stellenbosch, met sy unieke boukundige erfenis, bewaringsbewus gemaak. Die historiese poortjie in Pleinstraat, die sierlike preekstoel van die Rynse Kerk aan Die Braak, en die eikebome in Dorpstraat en Die Laan is byvoorbeeld op sý voorstel tot gedenkwaardighede geproklameer. Hy het self 'n voorbeeld vir bewaring gestel deur toe te sien dat sy sierlike staanhorlosie, wat omstreeks 1770 aan die Kaap vervaardig is, en sover bekend die enigste in sy soort is wat in die agtiende eeu hier gemaak is, tot 'n antieke voorwerp ingevolge die Wet op Nasionale Gedenkwaardighede geproklameer is.
Prof. Thom se bydrae in verband met die Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis kan moeilik oorskat word. Prof. J.L.M. Franken, wat op Stellenbosch professor in Frans was, het in 1937 die aandag gevestig op die behoefte aan 'n publikasie waarin die resultate van argivale navorsing gepubliseer sou kon word, en waarin argivarisse probleme in verband met hulle werk sou kon bespreek en die aandag sou kon vestig op nuwe bronnemateriaal. Prof. Thom het hom met dié gedagte vereenselwig. Die Minister van Onderwys is genader, en die Regering het toegestem om 'n publikasie van dié aard te subsidieer. Die eerste band is in 1938 uitgegee en dit is spoedig tot twee lywige volumes per jaar uitgebrei. Sodoende het een van die mees betekenisvolle reekse in ons historiese literatuur tot stand gekom. Baie historici wat later bekendheid verwerf het, het hulle debuut in die Argief-Jaarboek gemaak. Die feit dat hulle werk dáár in druk verskyn het, was vir hulle 'n geweldige aanmoediging. Terselfdertyd is hierdie studies
| |
| |
- die meeste waarvan andersins vir baie min mense toeganklik sou gewees het - vir 'n groot groep mense beskikbaar gestel. Prof. Thom het van die begin af tot 1954 in die redaksie van die Argief-Jaarboek gedien. Toe moes hy hom, weens die veelvuldige pligte wat sy aanstelling as Rektor meegebring het, daaraan onttrek.
Die Van Riebeeck-Vereniging, waarna hierbo verwys is, is gestig met die doel ‘om seldsame en waardevolle boeke, pamflette en dokumente betreffende die geskiedenis van Suid-Afrika te druk, of te herdruk, vir verspreiding onder die lede en vir verkoop aan die publiek.’ Prof. Thom was van 1938 tot 1954 'n Raadslid van die Vereniging. Hy het nie net sélf belangrike bronnepublikasies, soos Van Ryneveld se Aanmerkingen over de verbetering van het vee aan de Kaap en Van Riebeeck se Daghregister, geheel of gedeeltelik vir sý rekening geneem nie, maar verskeie persone gevind of aangemoedig om vir die Vereniging publikasies te redigeer.
Hier moet nog vermeld word dat prof. Thom dikwels by historiese feesgeleenthede, soos Geloftedag, Krugerdag en Republiekdag, as spreker opgetree het. Hy was 'n gesogte en boeiende spreker. Sy toepassing was nooit vergesog nie, en sy boodskap was duidelik en besielend. In 1938, tydens de Voortrekkereeufees, het hy byvoorbeeld op die sentrale fees van Suidwes-Afrika, wat op Otjiwarongo plaatsgevind het, as hoofspreker opgetree. In 1949, tydens de inwyding van die Voortrekkermonument, was hy een van die hoofsprekers by Monumentkoppie. Prof. Thom was ook 'n lid van die Sentrale Reëlingskomitee van die Uniefees (1960). In aansluiting hierby moet gewag gemaak word van prof. Thom se verbintenis met die Sentrale Volksmonumentekomitee (svk). Hierdie komitee is gestig met die doel om aandag te gee aan die oprigting van monumente vir die Afrikanervolk, by name in verband met die Groot Trek. Die svk was ten nouste betrokke by die oprigting van die Voortrekkermonument in Pretoria en die Voortrekkermonument by Winburg. Prof. Thom het van 1946 af in die svk gedien tot in 1968 toe dié liggaam sy taak as afgehandel beskou het en homself ontbind het. Uit die aard van die saak sou sulke prestasies nie onopgemerk verbygaan nie. Dit het inderdaad waardering uitgelok, en prof. Thom is gevolglik herhaaldelik vereer.
Op grond van sy vakwetenskaplike studies, veral sy skitterende biografie oor Gert Maritz, is die Stalsprys in 1952 aan hom toegeken deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy is tot lid verkies van verskeie Suid-Afrikaanse en buitelandse geleerde verenigings, byvoorbeeld die Nederlandse Koninklijke Akademie vir Wetenschappen,
| |
| |
die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde te Leiden, die Linschoten Vereniging, The Hakluyt Society, en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy was ook 'n erelid van die Suid-Afrikaanse Historiese Vereniging.
Kort voor sy aftrede as Rektor in 1969 het die Regering wéér sy dienste ingeroep en hom aangestel in 'n Kommissie van Ondersoek i.v.m. 'n nuwe vlag vir die Republiek van Suid-Afrika. Dít op sigself was 'n onderskeiding vir prof. Thom - nie net vir sy kennis van die heraldiek nie, maar ook vir sy historiese insig en gebalanseerde lewensuitlyk. As eerlike Afrikaner-historikus het hy geweet wat in die harte van sy mede-volksgenote omgaan, maar terselfdertyd het hy agting, eerbied en respek vir ons anderstalige landgenote se geestelike erfenis en aspirasies. Dít alles moet in 'n staat se nasionale simbole op 'n sinvolle wyse verklank en uitgebeeld word. Dáárom was prof. Thom 'n gelukkige keuse vir hierdie belangrike kommissie, wat egter nie 'n verslag uitgebring het nie.
Deels op grond van prof. Thom se verdienstes as akademikus het twee Suid-Afrikaanse universiteite aan hom ere-doktorsgrade toegeken: die Universiteit van Stellenbosch in 1969 en die Universiteit van die Oranje-Vrystaat in 1979. Van 1969 tot 1976 was hy voorsitter van die Wetenskaplike Adviesraad van die Eerste Minister. En in 1980 is die Staatspresident se Dekorasie vir Voortreflike Diens aan hom toegeken.
In 'n geleentheidstuk wat professor doktor jonkheer P.J. van Winter, 'n voormalige hoogleraar in Geskiedenis aan die Universiteit van Groningen en 'n goeie vriend van prof. Thom, geskryf het, probeer hy vasstel wát van Thom 'n belangrike historikus en 'n suksesvolle hoof van 'n groot akademiese inrigting gemaak het. Hy kom tot die gevolgtrekking dat dit sy besadigheid, ewewigtigheid en algemene wysheid was, en hy voeg daarby dat sy vak - geskiedenis - daartoe 'n onmisbare bydrae gelewer het.
Ten slotte sal enkele opmerkings oor prof. Thom se skryfstyl hier gepas wees. 'n Historikus se geskrifte moet geléés word; indien dit nie gebeur nie, dan mis hy sy doel. Prof. Thom se historiese geskrifte ís en word nog beslis gelees. Hy was 'n goeie stilis: sy gedagtegang was suiwer, logies en nie onnodig gekompliseerd nie. Sy formulering was helder. Sy woorde is versigtig gekies, sy taal was Akademie-Afrikaans, en sy skryftrant was klassiek, waardig en gedrae. Sy onderwerp is rustig ontplooi. Dit beteken egter geensins dat hy nie 'n gevoel besit het vir die dramatiese in 'n situasie nie. Inteendeel. Maar selfs dán nog bly sy weergawe dié van 'n waarnemer - nooit dié van die deelnemer nie. Dit alles spreek duidelik uit die volgende
| |
| |
passasie in Die Lewe van Gert Maritz, wat in Natal oorlede is toe hy slegs 41 jaar oud was.
‘Saterdag 22 September 1838 het sy toestand baie ernstig agteruitgegaan. In die laer was daar innige belangstelling en meegevoel, en 'n mens kan verwag dat familie en vriende maar gedurig - teen hierdie tyd seker al met huiwerende fluisterstemme - kom verneem het hoe dit gaan. Die ernstige wending het begryplikerwyse alleweë diepe ontstemming veroorsaak. By die aandgodsdiens dié Saterdagaand het Erasmus Smit, self oud en sieklik, Maritz in sy gebed gelowig aan die sorg van die Here opgedra.
Die plegtigste oomblik van die mens se lewe, die oomblik wanneer hy die kleine skrede doen van die tydelike na die ewige, van die sienlike na die onsienlike, het vir Maritz genader. Dit was hom nie gegee om hierdie oomblik plotseling en sonder lyding en stryd binne te tree nie. Lankal het hy waarskynlik aan die nadering daarvan gedink, en nou, dié Saterdagaand, het hy by sy volle bewussyn swaar gely en onophoudelijk geworstel op sy laaste skof.
Sy worsteling het daarbuite by die elemente weerklank gevind; 'n swaar onweer het opgekom; verblindende bliksemsligte het die hemel deurklief; krakende, rammelende donderslae het die oor verdoof; en plasreëns het op die aarde neergestort - die heelnag deur. Die Trekkers, onder hulle skrale watente en tentseile, het maar min geslaap. Maritz, in sy laaste worstelstryd, het seker niks geslaap nie.
Sooilaer het die lig van die nuwe dag, die rusdag, Sondag 23 September 1838, met vreugde begroet, want die wêreld is taamlik oop daar, en die waens en die tente moes in die donker die volle geweld van die storm trotseer. Die aarde was nat en die reën, ofskoon verminder, het nog nie opgehou nie, sodat die gebruiklike Sondagoggend-diens nie kon plaasvind nie. Aan weerskante van die Klein-Tugela en omring deur sy swaar sooiemuur, het Sooilaer gelê; op die regterwal Koos Potgieter, Hans de Lange e.a., by wie ook Erasmus Smit was, links Maritz en sy mense; en tussen deur het die rivier gevloei, nou vanweë die reën 'n bruisende, sterk stroom.
In die sieketent was daar geen beterskap nie; inteendeel, vir die aanwesiges moes dit duidelijk gewees het dat Maritz, hoewel hy nog gepraat het en by sy volle verstand was, vinnig die einde nader. Teen tienuur se kant is opgemerk dat die einde nie meer ver was nie, en is dit raadsaam geag om Erasmus Smit te laat roep om hom in sy laaste oomblikke by te staan. Maar Smit, wat jarelank aan die jig gely het, was só vol pyn dat hy maar met
| |
| |
moeite beweeg het en die rivier nie kon deurkom nie. 'n Paar gewillige jong manne het hom egter gou te hulp gesnel en op 'n gunstige plek deur die water gedra. So kom hy in die reën by die sterftent aan, nat, mankoliekig en moeg, maar toegewyd en pligsgetrou soos altyd. Hy het gekom om die uitvaart van die Voortrekkerleier te aanskou.
Maritz was reeds baie swak; sy groot gestel het magteloos daar gelê. Smit het hom probeer bemoedig en vertroos. Hy het met hom oor die dood en die heilswaarhede gepraat: ‘Almal moet sterwe,’ sê hy, ‘almal, vroeër of later; die dood is nie af te wend nie. En dit is van die allergrootste gewig,’ só gaan hy voort, ‘dat ons hier moet weet of ons deur die geloof in Jesus Christus verlos is en met God versoen is; dat ons moet weet of Jesus ons enigste ware troos in lewe en sterwe is; en dat ons moet weet dat ons nie meer aan ons self behoort nie, maar Sy eiendom is.’
Sag het Maritz op alles instemmend geantwoord. Toe lyk dit vir Smit of hy benoud is. ‘Is jy benoud, Gert?’ vra Smit. ‘Ja,’ antwoord Maritz. Smit laat volg: ‘Jesus was ook benoud. Kyk na Hom daar in Getsémané, kyk na Hom daar waar hy ly vir sy uitverkorenes aan die hout van die Kruis. Hierdie barmhartige Hoëpriester is 'n skuilplek, 'n magtige rotssteen, 'n verkoelende skaduwee.’
Deur die dag heen, tot laat in die aand toe, het Maritz voortgeworstel. Toe die end daar was, het hy ook, soos verskeie ander Afrikaners wat onsterflik geword het, aan sy volk gedink. In die aand was daar om sy sterfbed geskaar, naas Smit, sy bejaarde weduwee-moeder wat van die begin van die Trek af onder sy troue sorg was; sy vrou vir wie hierdie aandoenlike gesig van haar eertyds so aktiewe gesonde eggenoot diep in die hart moes gegryp het; en sy ses kinders: Salomon, die oudste, wat reeds 'n flinke jong man van 17 jaar was; Cornelis, 16 jaar; Debora, 'n dogter van 15 jaar; Gerhardus, 13 jaar; Johannes, 11 jaar; en die jongste, Maria, 'n dogtertjie van 9 jaar. Wenend het hulle daar gestaan, en saam met hulle miskien nog ander familiebetrekkinge en intieme vriende. Hierdie groepie was dit beskore om, daar in die reën-gedrenkte wêreld aan die oewers van die Klein-Tugela, Maritz se laaste woorde en sy boodskap aan sy volk te verneem.
Asof versterk deur die bemoediging van Smit, het Maritz hom tot die omstanders gewend en met swakke dog duidelike stem sy laaste gespreek. Hy is hom bewus van 'n teleurstelling dat hy die afsluiting van die Trek in Natal nie kon beleef nie, maar hy vind troos in die voorbeeld van die Ou-Testamentiese reusefiguur: ‘Dit is my gegaan soos Moses,’ sê hy, ‘ek het
| |
| |
die beloofde land gesien, maar bewoon sal ek dit nie.’ Dan vergeet hy homself en hy dink aan sy volk: ‘Graag het ek die bloei van my volk gesien, maar dit is my nie gegee nie. My raad aan julle is: wees getrou aan die Heer, en getrou aan julle owerheid.’ En hy skou die toekoms in: ‘Hoe moeilik dit ook lyk, julle sal die opbloei van ons volk seker aanskou in hierdie veelbelowende land’.’
‘Daarmee was sy kragte naastenby gedaan. Eindelik, gelowige mens uit 'n gelowige voorgeslag, gaan hy by die Kruis van sy Verlosser rus soek. Die Beeld van sy lydende Heiland rys voor hom op. Met 'n laaste kraginspanning begin hy sing - sukkelend, worstelend, soos 'n sterwende man sal sing - die treffende woorde van die bekende lydensgesang:
Is dat, is dat mijn Koning!
Dat aller vaadren wensch!
Is dat, is dat zijn krooning?
Zie, zie, aanschouw den mensch!...
Dit gaan al sagter en sagter. Onder die sing sterf sy stem weg... Die asemhaling kom tot stilstand... Gert Maritz het heengegaan.
Dit was elfuur in die aand. Buite was dit stikdonker. En reëndruppels het op die tentseile neergetik.’
D.J. Kotzé
|
|