Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde, 1985
(1985)– [tijdschrift] Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde [1901-2000]– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 81]
| |
Willem Jacobus du Plooy Erlank
| |
[pagina 82]
| |
vure en vlagvertoon, op die kollegeterrein 'n Union Jack neergehaal en verbrand - 'n protes teen die Engelse imperialisme.Ga naar eind6 Hy moes daarvoor boet met skorsing uit die koshuis en terughouding van 'n studiebeurs. Maar hy het sy studie met lof voltooi en die onderwys betree. Van 1921 tot 1928 het hy Latyn gegee aan die hoërskool van Wolmaransstad en daarna, van 1929 tot 1935 in Johannesburg, Afrikaans aan die Hoër Seunskool Helpmekaar. As onderwyser word hy beskryf as toeganklik en hulpvaardig, maar streng, met eerbied vir sy leerlinge en 'n boeiende voordrag omdat hy nooit 'n les herhaal het nie.Ga naar eind7 Onderwyl hy in Johannesburg was, het hy aan die Universiteit van die Witwatersrand onder C.M. van den Heever die graad b.a.-Honneurs behaal. In 1931 het hy in die huwelik getree met Hester Cornelia Visser van Hanover, wat hy op 'n nuwejaarsviering in Parys onder die wilgers van die Vaalrivier ontmoet het. Uit die huwelik is 'n seun gebore. Na sy universiteitsjare het hy in die politieke en kulturele woelinge van destyds (bv. erkenning van Afrikaans in 1925), sover sy amptelike pligte hom toegelaat het, hom met krag en oorgawe gewerp in die vorming en rigtinggewing van 'n Afrikaanse volksbewussyn en die voorsiening in 'n kulturele nood. En met die jare het hy hierin volhard, eers met 'n kinderverhaal en met verse in die trant van twintig, sedert die middel van dertig, met realistiese prosavertellings, wat tot sy beste werk behoort, met bewerkte of vertaalde dramas as geleentheidstukke en op gevorderde leeftyd met die vertaling of bewerking van klassieke stukke uit die Europese literatuur. Op die breër terrein het hy 'n leidende rol gespeel by die oprigting of werk van kultuurorganisasies. So was hy stigterslid van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (fak) (1929), die Handhawersbond (1930-'35, gestig om die Randse taalbewuste Afrikaners te verenig, in skakeling met die Transvaalse Onderwysersvereniging), die Voortrekkerjeugdbeweging (1931), die Mynwerkersbond, Spoorbond, die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (1931, gestig veral vir die Spoorwegpersoneel) en van die Afrikaanse Skrywerskring; hy was voorsitter van die Transvaalse Kunsvereniging (teenhanger van die Welsh Eisteddfod), wat onder sy voorsitterskap tot 5000 inskrywings per jaar ontvang het, lid van die ou Nasionale Toneelorganisasie, en redakteur van die Christelike Skoolblad, lyforgaan van die Transvaalse Onderwysersvereniging. Hierdie resultate is in 'n hoë mate bevorder deur sy inslag as redenaar. Reeds van 1921 af het hierdie natuurlike talent hom 'n gesogte spreker | |
[pagina 83]
| |
gemaak op kongresse, volksfeeste en by ander kulturele geleenthede en hy het dit met die jare geslyp en versober tot 'n gedugte en dwingende instrument in sy stryd en strewe. Hoflik, ingehoue en met 'n welluidende stem, het hy sy argumente puntsgewys ontwikkel in 'n logiese voortgang, ontledend en afwegend, met gloeiing sonder oplaaiing. Deur goeie voorbereiding en die logiese opbou kon hy dikwels optree sonder aantekeninge. So 'n toespraak in 1931 oor die kulturele betekenis van die volkslied voor die tweede fak-kongres het beslag gegee aan die opstel van die fak-Volksangbundel. Die reis na Kaapstad, vertel mev. Erlank, was hul huweliksreis, maar hy was so verdiep in sy voorbereiding dat sy nie met hom mog praat nie. Die oggend vroeg voor die vergadering het hy onder die ou Pier die referaat gaan instudeer. Iemand wat van bo af gekyk het, het egter onraad vermoed en die polisie ontbied! Na die kongres het dr. H. Gutsche, oud-skoolinspekteur van Transvaal, wat reeds met 'n sangbundel besig was, hom uitgenooi om as medewerker te help met keuring uit bestaande versamelings, soos die bundel van dr. N. Mansvelt (1907) en dié van mej. J. van Niekerk (1927), en die lewering van verse vir toonsetting uit eie werk en dié van ander. Omdat hyself nie musiek kon lees nie, moes mev. Erlank dikwels help. Die fak was inmiddels ook besig, en na voltooiing in 1935, het die bundel onder die vleugels van die fak gekom. Dit het in 1937 verskyn en spoedig volksbesit geword.Ga naar eind8 Die bundels waaruit sekere materiaal vir die Sangbundel oorgeneem of aangepas is, is voorafgegaan deur sy eerste werk, die kinderverhaaltjie Stafie en Santie by die Kabouterberg (1927). Dit is 'n lewendige avontuurverhaaltjie met lokale en tradisionele sprokieselemente. ‘Stafie’ hou waarskynlik verband met ‘Gustav’, 'n familienaam wat teruggaan op die Sweedse stamvader (1791). In die veld kom die twee boerekinders 'n singende geel sysie van die kabouterland ‘Vervanhier’ teë en as Stafie na Santie roep hoor hy die stem van Ego My-gek.Ga naar eind9 Gedurende die nag word die twee, tot kabouters verklein, deur Sysie en Ego, wat alles nasê en onthou, na die kabouters vervoer en tot koningspaar gekroon. Stafie word versoek om die kabouters te bevry van hul vyande, veral die bobbejane, wat die lammers verskeur. In die bobbejaangrot verloor Stafie sy vuurvlieglampie in 'n geveg, verdwaal hopeloos, kom op 'n waterdraak af, wat hy verslaan, slaap op die vel van 'n gedode bobbejaan en roep ten einde raad na sy veldkornet Ego, wat met 'n lampie verskyn. Vermom in bobbejaanvelle lok hulle die ondiere na buite en verslaan | |
[pagina 84]
| |
hulle. Die verhaaltjie tref my as belangrik vanweë tematiese elemente, veral die eggo wat, omdat dit tewens registrasie is, 'n suggestiewe en sinryke simboliese potensie kry. As My-gek kan hy help om die bobbejaan in die self te ontbloot; en as veldkornet 'n bondgenoot wees wat uitlei en help bevry. Die eggowerking kan ook omgekeer word en dit kan hom voordoen in ander vorme. Die vernaamste van die verspreid verskene gedigte van Eitemal vanaf 1919 is byeen gebring in Weerklankies (1928), 'n uiteenlopende versameling vaderlands-, liefdes-, mymer- en Christelik of Oosters godsdienstige verse, dikwels met eenvoudige natuurtekening of -simboliek, soms bekoorlik of speels, soms retories of sentimenteel, maar ook duidend op die ruim bestek van 'n ontwikkelende, soekende gees. Die volgende bundel, Phaeton en ander gedigte (1931), toon tegniese vordering en 'n strakker vormgevoel. Dit bevat o.a. die lang gedig Phaeton, die ontwikkelingsgang van die digtersiel in vyfvoetige jambes, met dramatiese vaart en inspeling van Wes-Transvaalse natuurelemente; liefdesverse, studenteliedjies, die ‘weerklank’-gediggie Die begrafnis en Japanse haikoes - bv:Ga naar eind10 Die wat drome saai
Sal ontnugtering maai,
Maar daaroor dink die digter nie.
Vanaf die jare dertig lewer hy ook prosasketse, en die veel opgevoerde drama in vyf bedrywe En hadde de liefde niet (1935). Laasgenoemde bevat leemtes wat karaktertekening en bou betref, maar in die kultuurtoestande van die depressiejare met toestroming na die stede, ook die les dat ongetemperde geld- en magsug kan lei tot menslike tragiek. In 1935 het hy lid geword van Die s.a. Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hierop het hy in die drie jaar 1936-1938 aan die Gemeentelijke Universiteit in Amsterdam in die letterkunde gestudeer onder prof. dr. N.A. Donkersloot, terwyl mev. Erlank in die Toneelschool 'n kursus gevolg het in die spraakproduksie en -korreksie. Die dreigende oorlog het hulle laat terugkeer. Die Amsterdame studie het gelei tot 'n verruiming, differensiasie en verheldering van gees t.o.v. die letterkunde en, in breër sin, die kultuur as produk van die gees, soos blyk uit die proefskrif Slauerhoff en het zoeken naar nieuwe vormbeginselen in de naoorlogse poëzie van Nederland (1939), waarop hy aan die Universiteit van Pretoria gepromoveer | |
[pagina 85]
| |
het. Dit is 'n studie van ideële vormbeginsels in die kader van die vorm/inhoudrelasie. Na 'n historiese aanloop oor die krisis van die individualisme, skets hy na grondslag en verskiet die naoorlogse ismes: die herpotensiëring van oorgelewerde bowaardes en vormbeginsels (humanitarisme, godsdienstige dogmatisme, kulterele progressivisme, sosialisme) en die soeke na nuwes, waarby hy hom veral toespits op die amorfisme - ingevoer as vormbeginsel van die vitalisme as inhoudsbeginsel. In sy individualiserende aspek druk die vitalisme hom uit in 'n hewigheidskultus as ontvlugtingsdrang, aanranding, persoonlikheids- en werklikheidsbevesting, e.d., en by Slauerhoff, wat uitvoerig behandel word, in 'n selfverwesenlikingsdrif teen gevormdheid, selfverlies in die vormloosheid van see en massa, 'n swerwende liefde en in die dekadensie - 'n vormvliedende manlike sy van sy persoonlikheid in samehang met 'n swakkere, vormsoekende, vroulike teenpool. Gebrek aan 'n metafisiese bowaarde laat die vitalisme egter uitloop op die nihilisme of ewigheidsangs, wat ook terugwerk op die verlede.Ga naar eind11 Die slothoofstuk handel oor ‘De schoonheid als gevormdheid’. Dit is 'n prikkelende, ernstige verhandeling. In sekere opsigte egter, soos bronversorging, doen dit enigsins onaf aan. Sy studie en promosie het 'n nuwe lewensfase ingelui. Hy het dosent in die metodiek geword aan die Normaalkollege, Pretoria (1939-1949). Tussendeur het hy egter ook die Afrikaanse letterkunde bespreek en dramas vertaal of bewerk vir studenteopvoerings onder leiding van mev. Erlank. Bynaam hier: ‘Ertjies’.Ga naar eind12 Vanaf 1950 tot sy aftrede in 1966 beklee hy die leerstoel vir die Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. In sy onderrig was hy gerig op gevalbehandeling, maar ook op vergelyking en, met die oog op Afrikaans, wortelaanduiding. 'n Oud-student skryf in 'n huldeblyk: ‘Prof. Erlank was altyd in die klas die netjiese, uiters gesofistikeerde man, vir wie die skoonheid van die Nederlandse digkuns nie net iets was wat op papier gevind is nie, maar wat weerklank gevind het in sy hele persoonlikheid.’Ga naar eind13 Hy het ook dikwels hulpdiens bewys aan jong skrywers.Ga naar eind14 In 1952 het hy lid geword van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde. Dit spreek vanself dat goeie betrekkinge met Nederland hom na aan die hart gelê het. Dit was dan ook stellig vir hom 'n bekroning van sy loopbaan om na sy aftrede diens te doen as Raad Kulturele Sake by die s.a. Ambassade in Den Haag (1967-1972).Ga naar eind15 Letterkundig het Eitemal hom na sy Nederlandse studie ontwikkel as verteller en vertaler/bewerker, met 'n konkrete, pittige taalgebruik. | |
[pagina 86]
| |
Reeds in Amsterdam het hy begin skryf aan die eselsromannetjie Jaffie (1953), waarvan 'n fragment in Die Huisgenoot verskyn het.Ga naar eind16 ‘'n Naïef beleefde idee’ word daarin uitgewerk in ‘die weergawe van eie jeugherinnerings en godsdiensbelewings rondom twee eseltjies as sentrale figure.’Ga naar eind17 Die jong Jaffie word deur sy oom Vaaltyn onder die eenvoudige bedrywighede en verhoudinge op Uitkyk opgevoed in die Christelike leer van liefde, lydsaamheid en verwagting soos dit deur hulle geslag van die vaal esels met 'n kruis op die rug in die tyd van Christus ervaar of beluister en sedertdien oorgelewer is. ‘As jy jou eie verlede ken, (moet) jy daaruit jou eie toekoms dink vir jouself.’Ga naar eind18 Hortend, op sy eselsmanier, word Jaffie vertel van gebeurtenisse soos die geboorte en vlug van Christus en die intog in Jerusalem, toe die vaal eseltjie Valta die ‘adelkruis’ van die Meester ontvang het; maar ook van die diepere dinge soos die mistieke liefdesleer, van die diepere beeld in die individu, broos soos die spieëlbeeld in die drinkbak, waardeur individu gebind word aan medeindividu in naasteliefde en -diens. Hiernaas kry hy egter ook praktiese lesse in ‘die beste bekbyte en skopskote.’Ga naar eind19 In die enigsins onaardse atmosfeer van 'n haelstorm op Kersdag word Vaaltyn gedood deur 'n bliksemstraal en Jaffie, wat ontwaak in sy jeugdige krag en aardse drange, verower die eselleiding op die ‘raasbek’ Ribbok, van 'n ander eselsgeslag, en in werklikheid sy onverskillige vader. J.C. Kannemeyer noem Jaffie ‘'n klein meesterstuk’.Ga naar eind20 Gesien die ontstaanstyd is dit waarskynlik ook binne die studiekader van literêr-teoretiese betekenis.Ga naar eind21 Van uitstekende gehalte is ook Skaduwees teen die Muur (1958), 'n bundel prosasketse en verhale (enkeles reeds uit dertig), lewendig en meestal met boertige komiek geskryf teen 'n Wes-Transvaalse natuurlike en menslike agtergrond. Die slotverhaal, Die pontbaas van Dieprusrivier, die rivier wat die dorpsdeel met kerk skei van dié met hotel, verloop egter tot simboliese, haas magiese verdieping. Die vertaling van toneelstukke om in 'n behoefte te voorsien, is reeds vermeld. So praat die ou rivier (1956) is 'n bewerking van die Maria Magdalena van Hebbel. Na bou, karakteruitbeelding en verstegniek is dit minder geslaag, maar sekundêr is die strekking miskien aktueel: die inslaan van nuwe weë met behoud van ou durf en deug. Die bewerking gaan oor in die vertaling van Westerse klassieke - ‘efemere volkswerk (wat) nuwe sin gekry het’.Ga naar eind22 As vertaler lewer hy oor die algemeen uitmuntende, teksgetroue werk, skynbaar moeiteloos en met groot virtuositeit. Vir die Shakespeare-her- | |
[pagina 87]
| |
denking het hy vir die Universiteit van Stellenbosch Macbeth (1965) vertaal en vir die inwyding van die Universiteitsteater H.B. Thom Faust i (1966) van Goethe. Hiervoor het hy in 1969 die Akademieprys vir Vertaalde Werk ontvang. Daarop volg Hamlet (1973), Midsomernagdroom (1974) en Die Wintersprokie (1975). Met geoefende taalbedrewenheid keer hy ten slotte terug tot die bewerking of herskepping, nou uit die Nederlandse taalgebied, met Reinaard die Jakkals (1981). Die middeleeuse teks van Van den Vos Reynaerde is redelik getrou gevolg, maar binne dié raam is sekere insidente uitgebrei en bekende plaaslike jakkals-en-wolfstories toegevoeg, met 'n speelse terloopse raps na heilige koeie - bv: ‘'n balk in my wapen’, ‘jakkals-nasionaal’, ‘progressief liberaal’, ‘die demokratiese meerderheid’, ‘'n Olimpiese wêreldrekord’ en ‘die gloed en vuur van 'n Eitemal’(!).Ga naar eind23 Aan die einde van die verhaal word 'n strafekspedisie na Malpertuis gestuur, maar: Toe die katte soos die stille bekruip
uit vier windrigtings nader sluip,
[...]
het holoog-vensters hul aangestaar.
Reinaard en syne het verhuis
na 'n land vér onder die Suiderkruis.Ga naar eind24
Reinaard het middelerwyl ook elke dier se stem en taal geleerGa naar eind25 en die nabootsing daarvan - ook in uitgebreide sin - gebruik om die naïewes en dommes in die val te laat loop. Sy nuwe avonture word toegevoeg tot die oues en twee wêrelde vloei ineen in die ‘bygewerkte’ joernaal van Reinaard. So gesien, is Reinaard die komplement van Stafie. Ek meen dat die Jakkals die Vos geen oneer aandoen nie. Prof. Erlank het ook as redenaar nog dikwels opgetree in die veranderende omstandighede wat deur die Tweede Wêreldoorlog ingelui is. Die ruimte ontbreek egter om op dié aspek in te gaan. Sy siening van die kultuurgrondslag en -ontwikkeling kan grotendeels afgelei word uit opvattings wat in sy letterkundige werk ‘geabsorbeer’ is.Ga naar eind26 Op 24 Junie 1984 is hy op Stellenbosch oorlede in sy huis Sommerhier, waar 'n ry bamboese laer af teen die helling beweeg oor die dorpsgesig benede. Na 'n kerkdiens is sy liggaam veras. Sy erflating kan, in die kader van die beskouing, kort saamgevat word: Die eggo van Eitemal.
Mei 1985 F.J. Snijman | |
[pagina 89]
| |
Voornaamste geschriften'n Min of meer volledige opgawe van werke en besprekings daarvan, verspreide gedigte, prosasketse, opstelle, referate, persoonlyke berigte ens. is te vinden in M.E.J. Bauermeister, Eitemal (W.J. du P. Erlank), 'n Bibliografie, Universiteit van Stellenbosch 1969, met 'n Aanvullende Bibliografie door mej. H.G. Boltman van die Universiteitsbibliotheek. 'n Vry uitvoerige opgawe van werke en besprekings is opgeneem in J.C. Kannemeyer, Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur i, Kaapstad 1978, p.247. Stafie en Santie by die Kabouterberg. Kaapstad 1927 (kinderwerk; met samenwerking van Imker). Weerklankies. Pretoria 1928 (poësie). Phaeton en andere gedigte. Pretoria 1931 (poësie). En hadde de liefde niet. Bloemfontein 1935 (drama). Kulturele betekenis van die volkslied in Die Huisgenoot, 29 Jan. 1932, p.19. Slauerhoff en het zoeken naar nieuwe vormbeginselen in de naoorlogse poëzie van Nederland. Universiteit van Pretoria, 1939 (Akademiese proefskrif; ongepubliseerd). Jaffie. Kaapstad 1953 (prosa; in Zoeloe vertaal; ongepubliseerde vertaling in Duits deur E. en H. Erbe). Die afgelope kwarteeu in die Afrikaanse letterkunde in Referate Twaalfde Tweejaarlikse fak-Kongres. Bloemfontein 1954, p.61. So praat die ou rivier. Kaapstad 1956 (bewerking). Skaduwees teen die muur. Pretoria 1958 (prosa). Geestelike volwassenheid by 'n volk in Tydskrif vir Wetenskap en Kunst, Okt. 1959, p.116. Shakespeare, Macbeth. Kaapstad 1965 (vertaalwerk). Goethe, Faust i. Kaapstad 1966 (vertaalwerk). Jozef van Hoeck, Voorlopige vonnis. Johannesburg, Dramatiese, Artistieke en Letterkundige Regte-Organisatie, 1969 (vertaalwerk). F. von Schiller, Don Carlos. Johannesburg, Dramatiese, Artistieke en Letterkundige Regte-Organisatie, 1969 (vertaalwerk). Shakespeare, Hamlet. Kaapstad 1973 (vertaalwerk). Shakespeare, Midsomernagdroom. Kaapstad 1975 (vertaalwerk). Shakespeare. Die Wintersprokie. Kaapstad 1975 (vertaalwerk). Die verhouding tussen Suid-Afrika en Nederland. Persoonlike indrukke. Pretoria 1975 (Genl. J.B.M. Hertzog-gedenklesing). Reinaard die Jakkals. Johannesburg 1981 (vertaalwerk; bewerking). |
|