Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde, 1983
(1983)– [tijdschrift] Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde [1901-2000]– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 149]
| |
Anna Johanna Dorothea de Villiers
| |
[pagina 150]
| |
Miskien was dit sy patriargale aard en tradisievastheid wat daartoe bygedra het dat hy aan sy jong kinders huisonderwys in Hollands laat gee het, soos dit in die tyd van die Kompanjie gebruiklik was en daarna nog lank voorgekom het.Ga naar eind2 In die maand Mei is jaarliks vakansie gehou en het die hele familie, vergesel van 'n tydelik in diens genome onderwyseres, 'n kinderoppasster en 'n kok, na die Strand aan die Valsbaaise kus verhuis. Na vier jaar huisonderwys is die jong Anna na die Laerskool van die nabygeleë Kuilsrivier gestuur en vervolgens na die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch, waar sy in 1918 die matrikulasie-eksamen afgelê het. Aan die Universiteit van Stellenbosch het sy daarop in 1921 die graad b.a. behaal, met Hollands-Afrikaans en Engels as hoofvakke, en in 1924 die graad m.a., met 'n skripsie oor Die plaas van Guido Gezelle in die Vlaamse letterkunde. In dieselfde jaar het sy ook die Hoër Sekondêre Onderwysdiploma behaal. Hierna, tot 1934, was sy op verskillende plekke en in verskillende hoedanighede werksaam, wat etlike jare in die onderwys insluit: 'n paar maande op Riversdal, waarvandaan haar moeder afkomstig was, op Oudtshoorn, wat die agtergrond vorm van haar roman Sterker as die Noodlot, en in Wynberg by Kaapstad. Gedurende die eerste helfte van 1927 was sy as assistente van prof. J.J. Smith verbonde aan Die Afrikaanse WoordeboekGa naar eind3 en vanaf 1930 drie jaar lank as vertaalster aan die Kantoor van Sensus en Statistiek in Pretoria. Intussen het sy haar nagraadse studie intensief voortgesit en in 1934 onder prof. dr. E.C. Pienaar van Stellenbosch gepromoveer op die proefskrif Die Hollandse Taalbeweging in Suid-Afrika. Hierin word die stryd teen verengelsing deur bevordering van Nederlands in die breë verband van opvoeding, kerk, pers en vereniging uitvoerig beskryf en gedokumenteer; en in samehang daarmee, ook die geleidelike splitsing van Hollands en Afrikaans aangetoon, wat gelei het tot interne stryd en versoening en uiteindelik in 1925 tot die erkenning van Afrikaans as landstaal naas Engels, deur insluiting van Afrikaans onder die woord ‘Hollands’ in die grondwet. Sy lewer tewens 'n pleidooi dat die vroeë geskrifte in Hollands wat plaaslik gewortel is, erken word as deel van die Afrikaanse letterkundige skat. Haar promosie het die weg tot die hoër onderwys gebaan: sy het dosente in Afrikaans aan die Pretoriase Tegniese Kollege geword en in | |
[pagina 151]
| |
1939 lektrise in die Kultuurgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria. Terwyl sy hier werkzaam was, het sy met ingang van 1940 die pos aanvaar van prinsipale van die Hugenote-Universiteitskollege in WellingtonGa naar eind4 - die eerste Afrikaanse vrou wat in dié hoedanigheid aangestel is. As hoof van die Universiteitskollege het sy gedien in die Raad, Senaat en Senaatsbestuur van die Universiteit van Suid-Afrika, waarvan die huk 'n konstituerende lid was, en in 1948 het sy die Universiteit van Suid-Afrika en die huk op die kongres van Ryksuniversiteite in Oxford verteenwoordig. In dieselfde jaar is 'n eredoktorsgraad in die Regte aan haar verleen deur die Universiteit van Londen. In hierdie periode het sy ook lid geword van Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (1943) en van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde te Leiden (1951). In 1970, tydens 'n besoek aan die vsa, is sy as blyk van erkenning van haar dienste in Wellington, ere-alumna gemaak van die Mount Holyoke College. Die jaar 1949 het sy bestee aan post-doktorale studie aan die Universiteite van Gent en Leiden. Na die sluiting van huk in 1951 het sy na 'n kwarteeu teruggekeer na die Woordeboek van die Afrikaanse Taal as mederedaktrise. Hier was sy werksaam tot haar aftrede in 1966. As lid van die redaksie het sy haar steeds beywer om woorde van kultuurhistoriese belang en terme uit die verskillende gebiede van die vrou tot hul reg te laat kom. Haar kantversameling, waarop sy erg trots was, is gebruik as basis vir die plaat ‘Kant’ in die Woordeboek. In hierdie periode het sy opgetree op twee internasionale taalkongresse: in 1963 in Amsterdam met 'n referaat oor plekname van die Voortrekkers, en in 1967 in Boekarest oor Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Die literêre werk van dr. De Villiers was, eweas haar proefskrif, gerig op die geskiedenis. In 'n vijftal historiese romans het sy sekere belangrike tydperke vanaf die begin van die volksplantinig weer tot lewe probeer bring en daarby ook die lig laat val op die rol van die vrou. Die romans toon nie skerp karakteruitbeelding of dramatiese situasiekildering nie, maar hulle gee 'n tekening van sedes en gebruike, die gees van die tyd en die uitwerking van groter gebeurtenisse op die lewe en lot van die gewone man en vrou. Sterker as die Noodlot (1930), wat hom afspeel in die oorgangstydperk 1882 tot 1927, is die verhaal van 'n vrou uit 'n plattelandse omgewing, wat omstandigheidsagterstande en 'n | |
[pagina 152]
| |
liefdesteleurstelling oorwin, en haar ontwikkel deur doelgerigte keuse tussen moontlikhede tot 'n beroepsvrou in eie reg in 'n stadskultuur. Die werk het stellig 'n outobiografiese inslag. Die Wit Kraai (1938) het die lotgevalle van die Voortrekkers in Natal in die jare 1834 tot 1861 tot agtergrond en is die verhaal van die legendariese Boereverkenner Hans de Lange (Hans Dons), wat vir die Trekkers dade van redding en roem verrig het, maar na 'n noodlottige handgemeen met 'n plaasarbeider, hoofsaaklik deur 'n swygende en misplaaste trots voor die gereg, tot 'n tragiese einde kom aan die galg. Hercule des Près (1947) het die vestiging van die Hugenote aan die Kaap in 1688 tot tema en verhaal hoe Hugenoot en Hollander mekaar gevind het in gemeenskaplike verset teen die onreëlmatige praktyke van die bewindhebbende Kompanjiesamptenare. Purper Daeraad (1952) is die relaas van die eerste jare van die volksplanting aan die Kaap. In Die Storm trek verby (1958) is sy terug by die Voortrekkers in die vestigingsjare 1857-1864 van die republieke Transvaal en die Oranje-Vrystaat en skilder sy die politieke woelinge wat gelei het tot die Transvaalse burgeroorlog van 1864. Twee bundels sketse word gewy aan vroue wat in die Suid-Afrikaanse geskiedenis op die voorgrond getree het. In Vrouegalery (1962) word uit die Nederlandse tydperk o.a. behandel Maria van Riebeeck, Augusta de Wit, dogter van die Kommissaris-Generaal, wat haar vader in 1803 te perd op 'n landtog vergesel het en 'n dagboek gehou het, en Catharina Aldegonda van Lier (oorl.1801), suster van 'n Kaapse dominee. Laasgenoemde was in sekere opsigte geesverwant aan twee Voortrekkersvroue, wat hier opgeneem is, maar saam met ander uitvoeriger behandel word in die tweede bundel Barrevoets oor die Drakensberg (1975). Hulle is Susanna Catharina Smit (geb.1799), eggenote van die Voortrekkerpredikant Erasmus Smit en suster van die Voortrekkerleier Gert Maritz, die vrou aan wie die woorde van die bundeltitel ontleen is, en Dorothea Magdalena Goosen (geb.1774). Al drie vroue het soos Hadewych en haar geesgenote van ouds gesigte gesien en stemme gehoor in vervoerende mistieke liefdeservaringe met 'n Hemelse Bruidegom; die twee eersgenoemdes het 'n dagboek gehou, die ander 'n manuskrip nagelaat en al drie het geestelike verse geskryf - Catharina van Lier o.a. die gedig ‘Moet gij steeds met onspoed strijden,’ wat opgeneem is in die Evangelische Gezangen van die Hervormde Kerk in Nederland. Haar historiese en kultuurhistoriese navorsing het verder neerslag | |
[pagina 153]
| |
gevind in bydraes tot verskeie publikasies, soos die Geskiedenis van Suid-Afrika, die Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner en die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, en in radioreekse. Van laasgenoemde het Volksgebruike uit vervloë dae (1965) en Ons Huisvlyt (1966) in boekvorm verskyn. Dr. De Villiers het 'n bedrywige sosiale lewe gelei. Sy was lid van verskeie vereniginge en bestuursliggame, behalwe die reeds genoemdes, en het o.a. gedien in die hoofdbestuur van die Suid-Afrikaanse Taalbond (oorspronklik in 1890 geestig ter bevordering van die regte van die Hollandse taal, maar later ontwikkel tot 'n eksaminerende liggaam ter bevordering van Afrikaans), in die bestuur van die tak Stellenbosch van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Universiteitsvroue, in die bestuur van die tak Stellenbosch van die Stigting Simon van der Stel (bewaring van historiese geboue) en verder in dié van die Heemkring (bewaring van Stellenbosse oudhede), en van die Werkgemeenskap Stellenbosch van die Afrikaanse Skrywerskring. Sy was jare lank lid van die Beheerraad van die Huishoudkundeskool op Riebeeck-Wes en het Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenschap en Kuns verteenwoordig in die Werkskomitee van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. Na haar aftrede het sy op Stellenbosch bly woon. Op 1 November 1979 is sy hier oorlede en is in die plaaslike kerkhof begrawe. In haar testament het sy dié boeke uit haar bibliotheek wat vir leksikografiese werk gebruik kan word, aan die Woordeboek bemaak. As persoon het dr. De Villiers veel van haar vader gehad. Sy was opgewek en dinamies van aard met 'n eie mening en toon in gesprek en vergadering en met iets van 'n outydse statigheid en swierige gebaar. Sy was trots op haar herkoms, geboortegrond, taal en kultuur en het dit laat blyk in haar studie en werk. Sy het geglo dat die intellektuele en morele peil van 'n volk in 'n groot mate bepaal word deur die vrou. 'n Sekere lewensoptimisme was haar eie: ‘Die lewe is te kort om jou toe te laat om ongelukkig te wees,’ laat sy een van die karakters sê in Sterker as die Noodlot (p.150).
F.J. Snijman | |
[pagina 154]
| |
Voornaamste geschriftenDie plaas van Guido Gezelle in de Vlaanmse letterkunde. 1924 (ongepubliseerde m.a.-skripsie Universiteit van Stellenbosch). Sterker als die noodlot. Kaapstad, 1930 (roman). Die Hollandse Taalbeweging in Suid-Afrika in Annale van die Universiteit van | |
[pagina 155]
| |
Stellenbosch 14b:2, September 1936 (proefskrif D. Litt., 1934). Die wit kraai. Bloemfontein, 1938 (roman). Hercule des Près. Kaapstad, 1947 (roman). Purper daeraad (Verhaal van die volksplanting aan die Kaap de Goede Hoop). Johannesburg, 1958 (roman). Die storm trek verby. Johannesburg, 1958 (roman). Vrouegalery. Kaapstad, 1962. Volksgebruike uit vervloe dae. Johannesburg, 1965 (radioreeks). Ons huisvlyt. Johannesburg, 1966 (radioreeks). Barrevoets oor die Drakensberg - Pioniersvroue van die neëntiende Eeu. Johannesburg, 1975. | |
Bijdraes tot verskeie publikasiesOu Hollandse geskrifte in C.M. van den Heever en P. de V. Pienaar, Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner 3, Kaapstad, 1950. Ons Nederlandse voorouers en Die Afrikaanse kultuurstryd (1870-1900) in A.J.H. van der Walt, J.A. Wiid en A.L. Geyer, Geskiedenis van Suid-Afrika 2, Kaapstad, 1951. Certain aspects of pioneer toponomy in South Africa in the nineteenth century in Proceedings of the Eighth International Congress on Onomastic Sciences, The Hague, 1966. The dictionary of the Afrikaans language in Actes du dixième Congrès International des Linguistes 4, Bucarest, 1970. Elizabeth Johanna Möller Conradie; Maria Margarethe Koopmans-De Wet; Catharina Aldegonda van Lier; Elizabeth Jane Dijkman, e.a., in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek. Kaapstad, 1968-... Adam Tas en ander bydraes in Stellenbosch drie eeue, Stellenbosch, 1979. |
|