1948 as redaksiesekretaris van die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns aangestel is, het dié blad gegroei tot die prestige-tydskrif wat dit vandag is.
Prof. Bosman se bydrae tot die ontwikkeling en uitbouing van die Akademie enersyds, en die Suid-Afrikaanse kultuur andersyds, was fenomenaal. Toe die nuwe Akademiewapen byvoorbeeld in 1946 ingestel is, het prof. Bosman die slagspreuk ‘Kennis en Skoonheid’ ontwerp, 'n voorstel wat onmiddellik deur die Raad aanvaar is. Ook die titel Tegnikon vir die tydskrif van die natuur- en wiskundige wetenskappe, is deur hom geskep.
Prof. Bosman het hom voortdurend daarvoor beywer om die inwerking van die Akademie nie beperk te laat bly tot sy onmiddellike invloedsfeer nie, maar om dit ook na buite uit te dra. Met die totstandkoming van die Kultuurverdrag tussen Nederland en Suid-Afrika, het hy veral gesorg dat die Akademie homself laat geld by die opstel van die verskeie bepalings, en dat hulle ook die blywende reg verkry het om die helfte van die lede van die Kommissie van Toepassing en Advies in Suid-Afrika te benoem. Hieruit het onder meer die gebruik ontwikkel om besoekende Nederlandse akademici onder hierdie Kultuurverdrag, in die Engelenburghuis te ontvang, 'n plegtigheid wat sekerlik veel bygedra het tot die erkenning van die Akademie as prestigeliggaam in Suid-Afrika.
Sedert 1948 was prof. Bosman sekretaris van die Kuratorium van die Engelenburghuis, tot 1954 ex officio as Akademiesekretaris, sedertdien benoem deur die Minister en gekies deur die Kuratorium. Veel is gedurende hierdie tydperk gedoen om onder meer die gebou te vergroot en op te knap.
Prof. Bosman het altyd 'n besondere belangstelling gehad vir werk van kulturele aard, veral wat betref die Afrikaanse taal en kultuur. So het hy byvoorbeeld vanaf 1938 tot 1952 op keurkommissies vir die Hertzogprys vir Drama gedien, en het hy in 1969 die proefskrif van wyle dr. L.W.B. Binge, Ontwikkeling van die Afrikaanse Toneel, 1832-1950, versorg. In 1972 help hy dr. Thelma Gutsche om die nodige finansiële middele te kry om haar gesaghebbende werk, The History and Social Significance of Motion Pictures in South Africa, 1895-1940, gepubliseer te kry. Op daadwerklike wyse help hy baanbrekende tentoonstellings vir Fanie Eloff en Coert Steynberg reël, en verseker op hierdie wyse erkenning vir die werk van hierdie twee Suid-Afrikaanse kunstenaars. In 1979, tydens die inwyding van die f.c.l.-Bosman-navorsingsentrum vir Drama