| |
| |
| |
| |
Petrus Johannes van der Merwe
Middelplaas (Griekwastad) 2 december 1912-Stellenbosch 14 september 1979
Petrus Johannes van der Merwe is op 2 Desember 1912 op Middelplaas, Griekwastad, in die Kaapkolonie gebore. Sy vader en moeder, gebore Barnard, van Rondevlei, George, was beide onderwysers. Eersgenoemde was hoof van 'n plaasskool maar het ook met skape, beeste en perde geboer. Die seun Petrus Johannes, kortweg Piet genoem, het tot Standerd 6 met 'n karretjie skool toe gery en het baie goed op laerskool gedoen.
In 1925 is hy na 'n koshuis op Griekwastad waar hy in 1928 in die eerste klas gematrikuleer het. Sy skoolhoof was N. Basson en sy geskiedenisonderwyser Greyvenstein wat van hom getuig: ‘Hy was 'n skrander leerling en het al sy eksamens met lof geslaag’ - een van die beste leerlinge wat hy ooit gehad het. Hy moes soek om hom nie volpunte in geskiedenis te gee nie. Ook skryf sy onderwyser dat hy 'n baie voorbeeldige seun was, deeglik, hardwerkend en betroubaar, 'n boekwurm en nie 'n sportman nie.
In 1929 is hy na die Universiteit van Stellenbosch waar hy in 1931 die b.a.-graad cum laude in Geskiedenis iii, Afrikaans-Nederlands iii, Geografie ii, Ekonomie i en Engels i verwerf het. Daarna het hy vir die m.a. ingeskryf en dit onder leiding van prof. W. Blommaert in 1933 cum laude geslaag met 'n dissertasie oor Die geskiedenis van die trekboer onder die Oos-Indiese Kompanjie. Sy professor in Afrikaans-Nederlands het in 1944 getuig dat hy 'n uitstekend goeie student was en 'n entoesiastiese en wetenskaplike navorser, 'n treffende objektiewe en onpartydige vertolker, 'n vriendelike mens met 'n goeie karakter. Prof. H.B. Thom het hom in 1941 ‘een van die briljantste studente’ wat hy geken het, genoem. Hy het nagraads egter by professor Blommaert gewerk. Self getuig P.J. van der Merwe in Die trekboer in die geskiedenis van die Kaapkolonie 1657-1842, in 1938 oor W. Blommaert: ‘Ten slotte gedenk ek met weemoed my vroeggesterwe professor aan wie se nagedagtenis ek met erkentlikheid en dankbaarheid hierdie werk opdra. Op sy aansporing het ek met die studie van ons pioniersgeskiedenis begin en onder sy inspirerende leiding het ek my eerste navorsingswerk gedoen.’
Nadat P.J. van der Merwe in 1933 ook die Sekondêre Onderwysersdiploma cum laude in agt vakke geslaag het, is hy in 1934 met die Porterstipendium na Nederland waar hy tot met sy promosie in 1937 by Johan
| |
| |
Huizinga in Leiden gestudeer het. Gegewens oor sy Leidse studiejare is skraal maar prof. W.E.G. Louw wat toe student in Amsterdam was en prof. E.M. Hamman wat saam met hom student in Leiden was, het enige inligting verstrek. Om na aan die Rijksarchief te wees het Van der Merwe in Den Haag gewoon; ook het hy gaan navorsing doen in onder andere die Pruisiese Staatsbiblioteek in Berlyn. Hy het heelwat gereis en onder andere München besoek. Sy proefskrif is deur W.E.G. Louw taalkundig en stilisties versorg terwyl professor Hamman die bladsyproewe gelees het.
Van der Merwe het op 24 September 1937 by Huizinga op Die noordwaartse beweging van die boere voor die Groot Trek, 1770-1842 in die teenwoordigheid van professore N.J. Krom en H. Th. Colenbrander wat die twee eksterne eksaminatore was, gepromoveer. Professor Holleman wat destyds professor in die regte in Leiden was maar later van Stellenbosch, deel ons in 1941 mee dat Van der Merwe se ‘skerp verstand, sy intens metodiese en gewetensvolle werkwyse en ongewone behoedsaamheid waarmee hy tot sy gevolgtrekkings gekom het en sy konklusies weergee’, bewondering afgedwing het. By die geleentheid van sy promosie sê Holleman dat al drie professore met mekaar gewedywer het oor hul lof daarvoor ‘en hom ieder op sy eie wyse, 'n aankomende geleerde en historikus van groot bekwaamheid genoem.’
Na sy terugkeer het P.J. van der Merwe aan die begin van 1938 'n tydelik deeltydse lektor aan die Universiteit van Stellenbosch geword nadat hy in 1934 as student reeds 'n deel van professor Blommaert se werk verrig het terwyl dié met siekteverlof was. In 1939 het hy senior lektor geword en onder andere as plaasvervanger vir prof. J.A. Wiid opgetree. Hy het tot 1954 jaarkursusse vanaf eerstejaarsvlak tot Honneurs aangebied en in 1955 professor geword. Sedert 1959 tot met sy aftrede op vyfensestig jarige leeftyd in 1977 was hy hoogleraar in Suid-Afrikaanse geskiedenis in die Jan Marais-leerstoel. Daar is met groot lof in getuigskrifte uit 1941 en in 1944 van hom as dosent en navorser gepraat. In die eersgenoemde jaar het hy aansoek gedoen vir 'n professoraat aan die Vrystaatse Universiteitskollege, Bloemfontein, maar dit is aan C.J. Uys toegeken, terwyl sy aansoek in die laatsgenoemde jaar na die Universiteit van die Witwatersrand ook nie geslaag het nie, want die professoraat het na J.S. Marais gegaan.
Prof. H.B. Thom getuig in 1941 dat Van der Merwe se doseerwerk ‘besonder suksesvol’ was: ‘Sy optrede as dosent is ferm en helder, en hy verstaan die kuns om sy studente tot deeglike wetenskaplike werk aan te spoor. Daarby het hy 'n aangename persoonlikheid sodat hy nie slegs as
| |
| |
dosent nie, maar ook as kollega baie gewild is.’ Hoewel die studente, volgens 'n ander Stellenboschse geleerde Van der Merwe se deeglikheid, gestrengheid, puntenerigheid en kennis geloof het, was sy naam onder verreweg die meeste studente dié van ‘'n moeilike, ongenaakbare en soms selfs baie bruuske professor, vir wie 'n mens netjies in jou spoor moes trap.’ Volgens ander getuienis het hy teen die einde van sy dienstyd wel versag. Hy het 'n tiental of meer m.a.-studente met hulle dissertasies gelei en in sy hele loopbaan as dosent slegs twee doktorale studente, namelik professore E.L.P. Stals en Bun Booyens. Beide waardeer in hulle proefskrifte sy kennis, ‘geniale insig in die probleme van die navorser’ en sy hulpvaardigheid en ‘tipiese deeglikheid’ rakende vorm, inhoud en metodes. Sy dosering op Honneursvlak van die metodeleer, historiografie, paleografie en argiefkunde het verseker dat die studente goed voorberei word vir nagraadse studie in navorsing.
Gedurende sy professorskap was Van der Merwe eksterne eksaminator vir elke dissertasie of proefskrif wat by sy departement ingedien is en het hy deur 'n strenge professionele kode gesorg dat Stellenbosch se departement geskiedenis hoë standaarde handhaaf. Sy beoordeling van dissertasies vir publikasie in die Argiefjaarboek van die Argiefkommissie was ewe gestreng. Uit sowat twintig wat hy beoordeel het, het hy tien vir publikasie aanbeveel. Sedert 1955 het hy ‘praktiese werk’ vir klein groepe studente op voorgraadse vlak ingevoer waarin die Nederlandse ‘tutoriale’ metode met detailstudies (wat die groot lyne en eietydse geskiedenis verwaarloos het), toegepas wat sommige studente as ‘inkwisisies’ ervaar het. Studente wat wou voortgaan met nagraadse werk is gebaat deur die oefening in analitiese dinkwerk, logiese beredenering en vertolking van gegewens naas vormgewing, voetnoottegniek, die opstel van 'n bibliografie, met andere woorde deeglike wetenskaplike vorming.
Sy metode kom duidelik uit in Nog verder noord waarin hy sy studente prakties toon hoe daar te werk gegaan word met die kritiese interpretasie van 'n historiese bron met betrekking tot 'n bepaalde punt. Hy het die student geleer om versigtig met afleidings en gevolgtrekkings te wees en dat hy sy verantwoordelikheid om 'n uitspraak te gee, nie kan ontwyk nie. Hy was uiters konserwatief in dié sin dat eietydse geskiedenis ontwyk en slegs op die verwyderde verlede gekonsentreer is. Sy metodiese deeglikheid, verwysingstegniek en bibliografiesamestelling kom uit in Die bronnelys en voetnote wat op die versoek van die Argiefkommissie geskryf is. Die boek het eenvormigheid in verband met dissertasies landswyd ten goede gekom.
| |
| |
P.J. van der Merwe was 'n groot navorser. Prof. H.B. Thom praat in 1941 van hom as ‘'n besonder toegewyde en skrander navorser’ wat sy gegewens met insig en begrip vertolk en oordeel dat sy stelling van feite en gevolgtrekkings van ewewig getuig. Hy noem sy proefskrif by Huizinga ‘'n skitterende bydrae tot ons kennis omtrent die pioniersgeskiedenis van Suid-Afrika waardeur hy hom as die kalme, onbevooroordeelde historikus’ betuig, wat volgens Thom in 1947 ook sy studente besiel het met 'n geesdrif vir navorsing. Dr. P.J. Venter, assistent-hoofargivaris vir die Unie, het Van der Merwe in 1944 as ‘'n reuse werker’ beskryf wat sy tydgenootlike historici wat omvang en kwaliteit van navorsing betref, oortref. Dr. Coenraad Beyers, hoof-argivaris van die Unie, het hom in 1944 ‘'n instelling’ in die Kaapse argiefbewaarplek genoem en ‘'n navorser par excellence’ met ‘'n onvernietigbare uithouvermoë’. Dit was ter ondersteuning van 'n navorsingsbeurs deur die Colonial Office in Londen, wat egter nie aan hom toegeken is nie. Sy rektor, prof. R.W. Wilcocks, het in 1941 daarop gewys dat Van der Merwe ‘hoog aangeskrewe’ was by vakgenote wat hy tot die einde toe gebly het.
Hy was lid van die redaksie van die Argiefjaarboek sedert 1957 en sedert 1962 lid van die Argiefkommissie, sedert 1955 lid van die Raad van die Van Riebeeckvereniging, lid van die Nasionale Pleknaamkomitee sedert 1954, lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde; ook was hy vir jarelank die voorsitter van die Stellenboschse Biblioteekkomitee, waarop hy gewaardeerde diens gelewer het. In 1948 het hy die Suid-Afrikaanse Akademieprys vir die pioniersgeskiedenis van die Afrikaner gekry, en in 1958 het hy Nederland onder die Nederlands-Suid-Afrikaanse Kultuurverdrag besoek en enkele voorlesings daar gehou.
Professor van der Merwe het sevenenveertig jaar aan navorsingswerk gewy, sewe boeke gepubliseer en met sy vroeë dood op 14 September 1979 agt studies onvoltooid nagelaat. Hy het gehoop om hulle na sy vyfensestigste verjaarsdag te voltooi. Ongelukkig het die Universiteit Stellenbosch hom tot sy aftrede met 'n volle drag voorgraadse werk belas in plaas daarvan om hom na sy sestigste jaar 'n navorsingsprofessoraat toe te ken wat hom in staat sou stel om sy lewenswerk te voltooi. Sy pleidooi om 'n assistent in sy laaste diensjare wat hom vryer kon maak om sy manuskripte te voltooi, was onsuksesvol.
Waarin lê sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing? In sy proefskrif Die noordwaartse beweging van die boere voor die Groot Trek het hy
| |
| |
'n sektor van die pioniersgeskiedenis van die Afrikaners van 1770 tot 1842 behandel en die uitbreiding van die half-nomadiese grens- of trekboere in die rigting van die Oranjerivier tot in die Transgariep beskryf en sekerheid gebring in die tref van 'n onderskeid tussen die Trekboer en die Voortrekker. Dit is 'n sosiaal-ekonomiese geskiedenis in die tradisie van Blommaert waarin kulturele aspekte van die trekboermense en hulle verhoudinge tot die Boesmans, Griekwas en die owerheid behandel word. Faktore soos droogtes, sprinkane, trekbokke en water en weiding kom onder andere ter sprake. Die boek is in 1938 opgevolg met Die trekboer in die geskiedenis van die Kaapkolonie, 1657-1842, waarin die evolusie van die veeboer na trekboer en sy landwaartse beweging aangetoon word. Die rol van wild en veeruil met die inboorlinge, die leningsplaasstelsel, die tradisie om selfstandig te boer, lewenstoestande en beskawing in die veld en die eerste botsing tussen trekboer en swartmens kom ter sprake. Ook hierdie werk is van sosiaal-ekonomiese en kulturele aard. In 1940 volg 'n verdere uitbouing van die botsing tussen trekboer en swartmens namelik in Die Kafferoorlog van 1793 waarin Theal gekorrigeer en 'n duidelike beeld van Maynier geskets word. Daarin word aangetoon dat die oorsake van die botsing weiveld en water was, en dat beide kante skuld daaraan gehad het.
In 1945 volg Trek. Studies oor die mobiliteit van die pioniersbevolking aan die Kaap wat een van die oorspronklikste werke in die Suid-Afrikaanse historiografie is. Hy het sy pioniers tot in die twintigste eeu opgevolg en heelwat materiaal uit mondelinge oorlewering geput, waarvoor hy vyftienduisend myl per motor afgelê het. In die boek word onder andere jagter-veeboere, landtoggangers, grootwildjagters, die oorskotbevolking in streke van ouer maar ook streke van jonger vestiging behandel en die psigologiese oorsake van die trek weg van die beskawing af aangedui. Ook is die begrippe trekgees, die trekgewoonte en trektradisie ontleed asmede die tipiese trekke van die uitbreidingsproses soos wintertrekke, die uitlêstelsel, die trek van winter- na somerreëngebiede en omgekeerd, insidentele migrasies, nomadisme, treklewe en die verval van die trekstelsel. Sy Pioniers van die Dorsland (1949) handel oor sy persoonlike ervaringe met die pioniers van die Noordweste - Dorsland, Namakwaland en die Kalahari- ‘Voortrekkers’ wat 'n bittere stryd om water gehad het. In al sy werk kry ons met die mens te doen wat hy uit bronne aan ons voorstel.
In 1953 het Van der Merwe 'n hoofstuk gelewer vir die eerste deel van Geskiedenis van Suid-Afrika waarvoor A.J.H. van der Walt, J.A. Wiid en A.L. Geyer die redakteurs was, namelik Van verversingspos tot landboukolonie
| |
| |
1662-1707 (p.82-112) en in deel twee Die inboorlingbeleid van die Kompanjie (p.348-383) waarvoor hy deur sy navorsing uitmuntend geskik was. Sy werk Nog verder noord waarin in 1962 getoon is hoe hy aan die hand van 'n enkele dokument (die Bronkhorst-verslag, 17.3.1837) wetenskaplik te werk gaan om feite vas te stel en tot sekerheid in sy gevolgtrekkinge te geraak deur ander historici se bevindinge te betwyfel, wetenskaplik te ontleed en sy eie konklusies te verstrek. Die bronnelys en voetnote is die resultaat van sy eie navorsing wat verwysings- en voetnoottegniek en die opstel van 'n bronnelys betref. Prof. W.K. Hancock het Van der Merwe se drie boeke oor die trekboer in The Economic History Review van 1958 hoog aangeslaan en hom die ‘Turner’ van die Suid-Afrikaanse grensuitbreidingsgeskiedenis genoem. Ook P.J. van Winter het hoë agting vir sy werk uitgespreek. Van der Merwe het Huizinga gevolg in sy strewe om die mens in die geskiedenis te ‘verstaan’. Hy was versigtig met hipoteses wat hy eers wetenskaplik wou toets, en krities ingestel teenoor onder andere historici soos G. McCall Theal, Eric Walker en W.M. Macmillan sie se paaie hy in sy navorsing gekruis het. In P.J. van der Merwe het Stellenbosch sy grootste historikus en Suid-Afrika een van sy briljantste historici verloor.
Benewens sowat tweehonderd artikels in tydskrifte soos Die Huisgenoot, Die Burger, Die Landbouweekblad en Sarie Marais het Van der Merwe gedurende 1950-1953 voltydse navorsing oor die Afrikaner-pioniersgeskiedenis van Rhodesië gedoen en naas argiefnavorsing meer as tweeduisend pioniers se herinneringe opgeteken. Vir hierdie hoofwerk het hy 'n aantal voorstudies gelewer wat onvoltooid agtergelaat is, naamlik Die Voortrekkers en die Matebeles, 1836-1838. Die werk van by die negenhonderd bladsye was klaar geskrywe maar die afronding en persklaarmaak moes nog gedoen word. Tweedens het Potgieter en Mzilikazi, 1838-1853 gevolg, wat met die uitsondering van die laaste hoofstuk of twee ook voltooi was. Navorsing oor Afrikanerjagters en handelaars in die noordelike binneland, 1853-1890 is ook afgehandel. 'n Heel groot gedeelte van die navorsing vir sy hoofwerk, Die pioniersgeskiedenis van die Afrikaner in Rhodesië, is tussen 1951 en 1954 voltooi maar nooit geskryf nie. Ook is navorsing verrig vir Die Afrikanertrek na Ngamiland, 1893-1899, Die ontwikkeling van die Noordweste, 1800-1900, Die geskiedenis van Griekwastad en die westelike Griekwas, 1800-1972, en Sendingwerk te Kuruman in die 19e eeu. Vir die laaste vier temas is die navorsingswerk gelyktydig gedoen terwyl dieselfde reeks bronne deurgegaan is, maar die tyd het ontbreek dat P.J. van der Merwe sy lewenstaak kon voltooi.
| |
| |
Hy beklee 'n ereplek in die ry van befaamde Europese historici wat die grondslag van die wetenskap van die geskiedenis in Suid-Afrika aan die Universiteit van Stellenbosch gelê het, naamlik E.C. Godee Molsbergen (1904-1910) 'n leerling van P.J. Blok, wat hom met die Nederlandse volksgeskiedenis besig gehou het en W. Blommaert (1911-1934) van Gent wat 'n leerling van Henri Pirenne was, wat sy lewe aan sosiaalekonomiese geskiedenis gewy het. Daarmee is 'n tradisie na Suid-Afrika oorgeplant en het Van der Merwe sy leermeester Huizinga se invloed ook in Suid-Afrika uitgestraal.
Die historikus Van der Merwe is in 1942 getroud met Margaretha Elizabeth Scheepers wat op 22 Maart 1919 in Pretoria gebore is en opgegroei het in die distrik Ermelo. Uit die huwelik is 'n dogter Margaretha en tweelingseuns gebore, Gottlieb Johannes en Jozua Joubert.
11 april 1980
F.A. van Jaarsveld
| |
Voornaamste geschriften
Die noordwaartse beweging van die boere voor die Groot Trek, 1770-1842. Den Haag 1937.
Die trekboer in die geskiedenis van die Kaapkolonie, 1657-1842. Kaapstad 1938.
Die Kafferoorlog van 1793. Kaapstad 1940.
Trek. Studies oor die mobiliteit van die pioniersbevolking aan die Kaap. Kaapstad 1945.
Pioniers van die Dorsland. Kaapstad 1949.
Nog verder noord. Die Potgieter-kommissie se besoek aan die gebied van die teenswoordige Suid-Rhodesië, 1836. Kaapstad 1962.
Die bronnelys en voetnote. Kaapstad 1972.
|
|