Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde, 1973
(1973)– [tijdschrift] Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde [1901-2000]– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 120]
| |
Theodorus Johannes Haarhoff
| |
[pagina 121]
| |
en opvoedkundige studies. Een van die deurlopende temas in sy geskrifte is die waarde van die verdraagsame, liberale gees wat ons van die Romeins-Griekse beskawing geërf het. Hy het graag 'n parallel getrek tussen die groei van die Afrikaanse taal uit die 17e eeuse Nederlands en die ontwikkeling van Latyn tot die Romaanse tale. Hy het 'n vorm van ‘holisme’ voorgestaan - ‘the synthetic tendency in the universe,... the principle which makes for the origin and progress of wholes in the universe’, soos genl. J.C. Smuts dit in sy bekende boek Holism and evolution (1926) stel. Haarhoff het sy belangrikste bydrae op die gebied van die vertaling gelewer. Hy het aangetoon dat Afrikaans as taal hom goed leen tot die weergawe van die oorspronklike prosodie van 'n hele reeks Griekse en Latynse digters en dramaturge. Vir Die Antieke Drama (1946) het hy die s.a. Akademie se prys vir vertaalde werk ontvang. Sy vertalings het dikwels 'n sonore, effens argaïese sfeer en 'n ritmiese swier waartoe Afrikaans as taal hom goed leen. Haarhoff het o.a. beweer dat die besitlike voornaamwoord ‘se’ in Afrikaans een van die bewyse was van dié taal se geskiktheid vir die klassieke daktiliese heksameter. Haarhoff het intens belang gestel in die groei van die Afrikaanse verskuns en hy het graag met wie ook al oor die ‘vormloosheid’ van sekere moderne skeppinge geredeneer. Alhoewel heelwat van die werk wat uit die Dertiger-vernuwing in die Afrikaanse poësie vir hom vreemd voorgekom het, het hy nietemin veel waardering vir die groter gesofistikeerdheid, die meer omvattende tematiek en die ‘Europese’ verwysingstegnieke in die jonger verskuns gehad. Die poësie van Uys Krige het op die mees direkte wyse tot hom gespreek en in samewerking met sy kollega, professor C.M. van den Heever, is Krige se eerste digbundel Kentering (1935) persklaar gemaak en uitgegee. Haarhoff het ook die besonder geesdriftige inleiding tot die bundel geskryf. 'n Groot deel van die poësie wat Haarhoff geskryf het, is vertalings, verwerkings of vrye na-digtinge van die klassieke digkuns. Sy ‘oorspronklike’ verse het soms 'n retoriese dreun, afgewissel met 'n speelse, byna kinderlike sangerigheid. Hy het vroeg reeds 'n eie aksent tot die digkuns van sy mede-Twintigers toegevoeg met sy verse oor die mitologie en figure uit die klassieke oudheid. Hy het 'n groot aantal artikels oor opvoedkundige sake geskryf. Die opkoms van die wetenskap en die tegnologie het hy gesien as 'n bedreiging vir die humanistiese studies en hy het dikwels gewaarsku dat dié feit ten | |
[pagina 122]
| |
grondslag lê van 'n vervlakking van ware opvoedkundige standaarde. Die term ‘geleerde barbarisme’ kom meermale in sy geskrifte voor en die waarde van 'n Grieks-Romeinse basis in die opvoeding word steeds beklemtoon. Haarhoff was 'n groot voorstander van dubbelmedium-onderwys en hy het telkens gewaarsku teen die verbrokkelende resultaat, soos hy dit gesien het, van moedertaalonderwys wat kinders van die twee taalgroepe in Suid-Afrika geskei hou. Hy het by meer as een geleentheid vir Alexander, Augustus, Vergilius en Seneca as getuies geroep om die waarde van kulturele samewerking te beklemtoon. Hy het pront-uit gepraat van 'n vorm van ‘apartheid’ tussen Afrikaanssprekende en Engelssprekende Suid-Afrikaners en dit as 'n ‘onreg teenoor ons kinders’ bestempel. In menige briewe aan koerantredakteurs het hy steeds sy geloof bely dat ‘the other language and culture should be regarded as an enrichment, not as a threat.’ Haarhoff het nie geskroom om as akademikus aan omstrede politieke polemieke mee te doen nie. Sy ‘liberale’ opvatting oor die stemreg en die parlementêre verteenwoordiging van die nie-blanke rasse in Suid-Afrika het hy met groot geesdrif en oortuiging gepropageer. Soms het hy die bespreking van 'n roman (soos Abel Coetzee se Waarheen, Vader) gebruik om op die ‘tragedie’ van apartheid te wys en om vir 'n groter verdraagsaamheid vir mense van gemengde bloed te pleit. Maar oorheersend en oorkoepelend oor alles wat Haarhoff geskryf het, staan sy geloof in die waarde van die antieke beskawings. Hiermee hang saam die konstante wyse waarmee hy geskiedkundige parallelle trek. So vergelyk hy bv. die Griekse onafhanklikheid van 1821 met die Grieke se vryheidstryd teen Spartaanse verdrukking in die 5de eeu v.C. In Tria Corda bring Haarhoff hulde aan sy drie liefdes: ‘die vaderland waarin hy wortel geskiet het, die Europese stede waarin hy sy gees ontwikkel het, en (nie minder lewend nie) daardie antieke wêreld wat nog altyd liefde vir sy skoonheid kan uitlok.’ Vir Nederland het Haarhoff 'n groot liefde en bewondering gehad. Toe 'n groep Afrikaanse skrywers onder leiding van D.B. Bosman, N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw in 1940 'n bloemlesing ten behoeve van Nederlandse vakgenote in hul ‘uur van beproewing’ saamgestel het, was Haarhoff een van die bydraers. Sy gedig By die ontvangs van 'n brief uit Holland ná die inval lui soos volg:Ga naar voetnoot1 | |
[pagina 123]
| |
Dis rooi in bollevelde en goud en skyn van blou -
Ai, vriend, toe het die lewe bly gevloei.
Waar is die hande wat gehelp het, waar's hul nou?
Waar is die hart se lag, die lentebloei?
Rooi bloed-gedrenkte velde; staal-blou; en goud - van waar?
Ai, vriend, die donker het jou gees gevang.
Waar is die drome wat ons hier gedroom het, waar
die toekoms waar ons harte na verlang?
Jou brief - Ek dink: nou het die valgordyn
Ons onverbiddelik geskei, geskei.
Maar God sal die verdelging 'n perk stel en termyn,
En goud sal kom uit wat jy ginds moes ly.
Sy studente en kollegas het groot waardering gehad vir sy innemende en minsame karakter. Sy hele optrede - dikwels ook in omstrede sake - was gerig op die positiewe en die saambindende en hy het met voorbeelde uit die Romeinse geskiedenis aangetoon watter middelpuntsoekende kragte daar in etiese en estetiese beginsels opgesluit lê. 'n Ware aristokraat van die gees het ons ontval.
ernst van heerden | |
Voornaamste geschriftenSchools of Gaul: a study of pagan and Christian education in the last century of the Western empire. London, Oxford University Press, 1920. Primi Gradus. Kaapstad, Maskew Miller, 1923. Die klassieke in Suid-Afrika. Pretoria, Van Schaik, 1931. Tria Corda. Gedigte. Pretoria, De Bussy, 1931. Vergil in the experience of South Africa. Oxford, Blackwell, 1931. The holistic attitude in education. Johannesburg, University of Witwatersrand Press, 1932. Die liefde van Catullus. Bloemfontein, Nasionale Pers, 1933. The achievement of Afrikaans. Johannesburg, cna, 1934 (met C.M. van den Heever). On Catullus xliv.21 in Classical Philology (Chicago) 29(3), Julie 1934, p.255-256. Die kortverhaal van die Grieke en Romeine. Uit die oorspronkelike versamel en vertolk. Pretoria, De Bussy, 1935. Afrikaans: its origin and development; lectures delivered before the University of Oxford on 19th and 20th Februari, 1936. Oxford, Clarendon Press, 1936. Briewe aan Reinhardt. Reissketse. Bloemfontein, Nasionale Pers, 1936. An interpretation of Horace in Forum i (48:2), Febr. 25, 1939. Life and thought in the Greek and Roman world. London, Methuen, 1940 (met M. Cary). Harvest Home. An English rendering of the Afrikaans idyll Somer by C.M. van den Heever. Johannesburg, Afrikaanse Pers, 1945. Die antieke drama. 1: Tragedie. Johannesburg, Afrikaanse Pers, 1946. | |
[pagina 124]
| |
Koorsang uit Euripides (Troades) in Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring ii, 1946, p.30-31. The stranger at the gate: aspects of exclusiveness and co-operation in ancient Greece and Rome, with some references to modern times. Oxford, Blackwell, 1948. South African poetry in Alex Premiger (ed.), Encyclopaedia of Poetry and Poetics. Princeton University Press, 1965. |