‘Afrikaanse Taaltoestande tydens Jan van Riebeek’ (TWK, I, 1-1922); ‘Oor die afleiding van bottel’ (TWK, I, 2 - 1922); ‘Oor die Afkoms van die Boere’ (TWK, I, 4 - 1923); ‘Die huidige stand van die Ondersoek na die Ontstaan van Afrikaans’ (TWK, VI, 2 - 1927, en VI, 3 - 1928) en ‘Uit die Biografie van 'n Hottentot’ (TWK, X, 3 - 1932).
In hierdie stukke het hy o.a. 'n helder lig laat val op taaltoestande aan die Kaap gedurende die tweede helfte van die 17de eeu, bv. op die taal van blankes (soos Van Riebeek e.a.) en van nie-blankes (soos die Hottentottolk en -tolkin, Herry en Eva). Die inhoud en slotsom van sy monografie en van die bogenoemde artikelreeks is nogmaals deur hom saamgevat in sy bydrae tot die Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner (Deel II, 1947) oor ‘Die Ontstaan van Afrikaans’ waarin hy sy standpunt van vroeër (kursiverings deur my) handhaaf en as volg formuleer: ‘Dat Hollands bobaas gebly het in Suid-Afrika, 'n onafgebroke ontwikkeling deurgemaak het, deurgaans die beinvloedende taal was, maar in sy natuurlike ontwikkeling in die rigting van vereenvoudiging steun ontvang het van die hom omringende sterk vereenvoudigde mengeltale wat ontstaan het in die mond van vreemdelinge wat Hollands moes aanleer’ (bl. 22). Byna al die genoemde bydraes vind 'n natuurlike afronding in Bosman se aandeel aan die nuwe uitgawe van die Dagverhaal van Jan van Riebeeck en sy persoonlike publikasie van die Briewe van Johanna Maria van Riebeeck en ander Riebeeckiana (albei van 1952).
Afgesien van sy bydraes oor die oorsprong van Afrikaans, het hy hom ook met ander vraagstukke i.s. Afrikaans besig gehou. Ek verwys veral na die volgende stukke: -
‘Afrikaanse Spraakkuns’ (TWK, III, 1-1924); |
‘Oor Grammatika en nog wat’ (TWK, III, 3 - 1925); |
‘'n Paar Afrikaanse Eienaardighede’ (De Nieuwe Taalgids, XVII, 6, 1923); |
‘'n Ondersoek na die gevelariseerde -ing in Afrikaans’ (N.T., XXXI, 2, 1937). |
In Die Huisgenoot het hy herhaalde male vir die skrywende lekepubliek leiding oor spelling en skryfwyse probeer gee, bv. oor die tipe: huistoe of huis-toe of huis toe (D.H. van 13 Junie 1947) en oor die aaneenskrywe van woordgroepe as samekoppelinge, 'n bydrae wat soveel byval gevind het dat dit later in brosjurevorm uitgegee is. Werk van hierdie aard het op 'n hoër vlak uitgeloop op sy insiggewende stuk oor ‘Taalfunksie en Spellingvorm’ (TWK, Nuwe Reeks, XVI, 2 - 1956).