Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde, 1956
(1956)– [tijdschrift] Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde [1901-2000]– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 140]
| |
Johannes van Melle
| |
[pagina 141]
| |
Verder was dit die Afrikaanse landskap wat die skrywersdrang in hom versterk het: die uitgestrekte streke, die ongeskonde natuur waar nog geen spore van die mens se arbeid en vernielsug te sien was nie. Daarby het gekom die lewe van die Afrikaanse boer wat so avontuurlik en tegelyk idillies was ‘dat dit enige skrywer moes aanlok om daaroor te skryf’. Maar ook uit hierdie opgawe van prikkels is die aard van sy werk nouliks te verklaar. Om meer as een rede doen Van Melle se werk taamlik ‘bont’ aan. In die eerste plek is daar die medium. Hy begin met Nederlands en slaan later (gedeeltelik) oor na Afrikaans. In Bart Nel, sy beste roman, is, veelseggend genoeg, die verhalende dele in Nederlands, die dialoog in Afrikaans weergegee. Aanvanklik skryf hy poësie, vind selfs ‘tot (sy) verwondering’ 'n uitgewer vir sy bundeltjie Gedichten (1935), en lê hom eers vanaf ongeveer sy twintigste jaar toe op prosa. Ook het hy twee toneelstukke gepubliseer: Die huwelik van Pop le Roux (1935) en Wraak (1937). Sy eintlike bydrae lewer hy op die gebied van die prosa, maar nou is daar hier weer só veel wat met die literatuur weinig te make het - teksbeskouings en teologiese verhandelings soos: Die simboliek van die openbaring van Johannes (1942), Die profesieë van Daniël (1942), - van Esegiël (1945), - van Jesaja (1945), - van Sagaria (1947), Die simboliese getalle van die Bybel (1947). Ongetwyfeld het ons in dié bontheid van sy werk een van die oorsake waarom Van Melle nog nie die erkenning kry wat hy verdien nie. Daar is ook ander redes. Van Melle se beste werk is nou eenmaal so beskeie en sonder vertoon dat dit nie die haastige leser tot stilstand kan bring nie - 'n lot wat M.E.R. ook getref het. Verder is sy werk ongelyk in waarde, en dit alles is daarop bereken om die leser se geduld op die proef te stel. Boonop staan Van Melle met sy ‘realisme’ effens in die skadu van sy belangrike voorganger Jochem van Bruggen aan wie hy in enkele opsigte verwant is. En dan is daar ten slotte die rol van 'n deel van die Afrikaanse kritiek van die dertiger jare wat hardhorend gemaak deur die luidrugtige dreuning van die ‘styl’-meesters van dié tyd vir die minder opdringerige suiwerheid van Van Melle geen oor kon hê nie. Nietemin begin die besef vandag deurdring dat Van Melle naas heelwat knutselwerk enkele fel dinge gelewer het wat behoort tot die allerbeste wat ons prosa besit. Onder sy romans sou 'n mens kan noem Dawid Booysen (1933) wat met sy volslae tooiloosheid kon dien as belangrike teëgif teen die liriese prosa van dertig. Dan is daar die ver- | |
[pagina 142]
| |
afrikaansing van Bart Nel onder die titel En ek is nog hy (1942), vir my die sterkste roman in Afrikaans. Uit sy talle kortverhaalbundelsGa naar voetnoot1, soos Oom Freek le Grange se derde vrou (1935), Oom Daan en die dood (1938), Vergesigte (1938), Mense gaan verby (1940), Venster aan die straat (1942), Paaie wat wegraak (1941), Begeestering (1943), sou 'n mens miskien die volgende verhale spesiaal kan noem: Die joiner, die ironiese Weer by die huis, Die tuiskoms, Betyds, Oom Karel neem sy geweer saam en Drusse, waarvan veral die laaste twee in enige taal 'n kosbare besit sou wees. Op Van Melle se romans en kortverhale sal ons vervolgens effens dieper moet ingaan. Hierbo is in 'n bepaalde verband melding gemaak van Jochem van Bruggen en M.E.R. Dis nie toevallig nie; by alle verskille vertoon hulle werk belangrike ooreenkomste met dié van Van Melle. By al drie staan op die voorgrond die rustige waarneming, die wyse betragting van die lewe; by al drie die afkeer van intrige, die gebrek aan 'n snelle handeling. Nie een van hulle se belangstelling lê in die rigting van die daadmens nie. Die gebrek aan uiterlike handeling word by al drie egter in 'n mindere of meerdere mate vergoed deur 'n diepte en suiwerheid van sielkundige uitbeelding, want volkome tereg maak Vestdijk êrens die interessante opmerking dat daadmense nie vir psigologiese ontleding toeganklik is nie. Dit hoef ons dus nie te verwonder dat die verhale van al drie, as gevolg van hulle primêre belangstelling in die mens, 'n statiese karakter vertoon nie. Tot op sekere hoogte is al drie hierdie kunstenaars didaktici, verlang hulle vir hulle figure 'n reiniging en 'n beter, selfs gelukkiger eindbestemming. Om dit te bereik is daar vir die kunstenaar wat aan die realiteit probeer vashou minstens drie weë oop: Hy kan optree as opvoeder, ingryp in die gang van sake, die karakter met liefde omgord en hom langs baie omweë uiteindelik die geïdealiseerde land binnelei. Daar is egter 'n ander groep kunstenaars wie se diepe respek vir die soewereiniteit van 'n karakter so 'n procédé onaanneemlik maak. Met hulle keuse van karakters gaan hulle uiters versigtig te werk en stel die groep só saam dat persone voortdurend wedersyds op mekaar kan inwerk. Sodoende word die mooiste fasette van die persoonlikheid | |
[pagina 143]
| |
blink geskuur en teen die lig gehou - ‘yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van 'n ander.’ Die derde kunstenaar is krities, bitter soms, selfs sinies. Hy aanvaar nie, maar ondersoek. Hy is daarop uit om sy karakter sy valse sekerheid te ontneem, sy ‘tweede gesig’ te ontbloot. Stap vir stap wil hy die dinge ondergraaf waaraan die mens glo. Met opset stel hy dus sy figure bloot aan 'n reeks onsimpatieke en ondermynende kragte, nie om hom te vernietig nie, maar om die suiwerste kern van sy menslikheid bloot te lê. Die leser sal hier agtereenvolgens die werkmetode van Van Bruggen, M.E.R. en Van Melle erken. Van Bruggen is sterk patroniserend. Met sy optimistiese lewenshouding, sy onwrikbare geloof in die ou orde (die idilliese landelikheid van weleer) is hy geneig om dinge te vermooi en om te red waar daar kragtens die bepaalde situasie geen redding meer moontlik is nie. Van milieu tot milieu voer hy Ampie net om hom te oortuig dat die plaaslewe onder die vaderlike oog van Oom Kasper tog maar vir hom die heilsaamste is. Dit sal M.E.R. haar nie maklik veroorloof nie. Vol skroom staan sy voor die wonder van die menslike persoonlikheid. Selfs op die gevaar af dat sy ons geduld te seer op die proef mag stel, verkies sy om heel versigtig te beweeg en om as 't ware saam met die leser die hele situasie te rekonstrueer. Ook by Van Melle sal ons nie die oorheersing van die persoonlikheid kry nie - nie uit eerbied soseer nie, maar miskien eerder as die gevolg van 'n sekere twyfel, wantroue selfs, aan sy eie oordeel. Hy sal dit nie op hom neem om vir sy karakters 'n utopia voor te hou nie. Skynbaar onbewoë voer hy sy mense deur die smeltkroes, toets hulle sekerhede en ontdek só die eintlike mens. Hiervan merk ons al iets in Dawid Booysen, maar dié procédé lewer sy gelukkigste resultate in die figuur van Bart Nel. Hier het ons 'n mens wat met 'n jeugdige selfversekerdheid, teen alle argumente in sy eie weg wil gaan, en trots alle beproewinge (die teleurstellings van die rebellie, finansiële terugslae, die verbrokkeling van sy gesin) oënskynlik geen verandering ondergaan nie. Aan die einde kan hy nog hierdie trotse en uitdagende woorde uitspreek: ‘Hulle het nou alles, hulle het my grond, my vrou, my kinders. Maar my het hulle nie .... my kry hulle nooit. Ek is Bart Nel van toe af, en ek is nog hy.’ En tog is hy 'n oneindig wyser mens. Nou dat sy veilige skanse weggeval het, staan hy voor ons as die eintlike Bart Nel, | |
[pagina 144]
| |
die forse persoonlikheid met diep-in 'n kern van verset. 'n Sterker moment as dié ken ek nie in ons prosa nie. M.E.R. se werkmetode dwing haar om haar figure met die uiterste sorg te kies. In elke verhaal kry ons 'n groep persoonlikhede wat suiwer op mekaar afgestem is. Van Melle, daarenteen, konsentreer op die enkele figuur (vergelyk die titels). Die vaagheid van sy byfigure is derhalwe geen gebrek nie, maar 'n artistieke noodwendigheid. Niks mag die meedoënlose isolasie van die hoofkarakter teëwerk nie. Gaandeweg het Van Melle se belangstelling egter in 'n ander rigting gegaan. Hy openbaar 'n steeds sterker wordende neiging tot die droom, die mistiek, ‘die groter rykdom van gedagtes’ soos hy dit êrens noem, en gepaard daarmee 'n versaking van die realiteit. Vir 'n kunstenaar van Van Melle se aanleg moes dit rampspoedige gevolge hê, soos trouens deur sy volgende twee romans bewys word. Eintlik kan Denker! Kom Kyk! (1944), 'n boek waarmee die skrywer 'n skets wou gee ‘van die geestelike toestand van die mensdom voor die tweede wêreldoorlog’, nie 'n roman genoem word nie. Daarvoor is die boek te fragmentaries, te arm aan beelding. Die hoofpersoon, wat niks meer is nie as 'n naam, word deur 'n reeks landstreke gevoer net om die skrywer die geleentheid te gee om oor elke wantoestand onder die son 'n opinie uit te spreek. In sy volgende roman, Saad wat opkom (1949), het Van Melle na my mening weer 'n taak onderneem wat teen die draad van sy natuurlike aanleg ingaan. Sy doel is nog dieselfde as met Dawid Booysen en Bart Nel: die uiteindelike daarstelling van 'n man uit een stuk. Maar waar hy in sy eerste romans uitgaan van die karakter self, onthullend en suiwerend te werk gaan tot hy uiteindelik op die harde pit van die persoonlikheid stuit, keer hy nou die proses om net om sodoende te probeer vasstel hoe daardie kern gevorm is. Niks gaan ooit verlore nie, maar soos die saad op ontkieming wag, so sal elke ervaring en invloed insink en hulle uiteindelik laat geld in die finale samestelling van die persoonlikheid. Waar die skrywer dus vroeër skulptureel te werk gegaan het, nie-essensiële versieringe weggebeitel het tot op die been, wil hy nou met 'n soort psigologiese boetseerkuns die mens stuk vir stuk konstrueer rondom die draadskelet. As dit die bedoeling van die skrywer was, het hy nie in sy opset geslaag nie. Wel word Van Dyk aan uiteenlopende invloede blootgestel: die natuur, die liefde, die sosiale ellende, die godsdiens en die filosofie, maar nooit kry 'n mens | |
[pagina 145]
| |
die gevoel dat jy hier met karaktervormende faktore van 'n beslissende aard te doen het nie. Die eindresultaat is dan ook nie 'n man nie, maar 'n skim wat volkome verdwyn onder die propagandalas wat op hom druk. Natuurlik is daar met hierdie procédé as sodanig niks verkeerd nie, hoewel die gevaar groot is dat 'n skrywer só sy objektiwiteit prysgee en 'n man na sy hart probeer skep - 'n swakheid waaraan Van Melle hier seker nie ontkom het nie. By Van Melle móét hierdie tegniek misluk veral omdat sy gebrekkige konstruksievermoë nou duidelik aan die lig tree. As statiese kunstenaar beskik hy nie oor die dinamiek, die herskeppingsvermoë om uit die samespel van tallose kragte 'n oortuigende mens te laat groei nie. Daarom kry ons in Saad wat opkom, nes in Denker! Kom Kyk! 'n hele reeks verdienstelike en minder verdienstelike insidentjies waarin die hoofpersoon betrokke raak, maar insidente wat nouliks met mekaar verband hou, baie selde aaneensluit, met die gevolg dat die werk eenheid en noodwendigheid ontbeer. Ons voel nie dat hierin 'n wêreld geskep word waarin 'n persoon met 'n bepaalde psigiese samestelling tot 'n onvermydelike eindbestemming moet ontwikkel nie. Ook in die eerste romans val die konstruksiegebreke op, hoewel 'n sterk sentrale figuur die eenheid daar kon red. Dit wil voorkom of Van Melle geen ‘langtermynbeleid’ kon volg nie. Van Dawid Booysen sê hy self dat die boek hom ‘al gaande tot 'n roman ontspin het’. Van Melle is by uitnemendheid die situasiekunstenaar wat aangewys is op die aaneenskakeling van boeiende en skerpgesiene taferele. (Miskien het ons hier 'n beperking eie aan die realisme). Dit verbaas ons dan ook glad nie dat Van Melle hom veral op die kortverhaal toelê nie, en dan by voorkeur die verhaal waarin die storieelement 'n ondergeskikte rol speel. Hy is op sy gelukkigste wanneer hy slegs in enkele bladsye 'n probleemsituasie kan konstrueer, wanneer hy slegs die vyandelike magte in 'n krisisfase slagvaardig teenoor mekaar kan opstel sonder dat hy gevra word om 'n oplossing te vind. Alhoewel hierdie probleemverhale nie altyd foutloos is nie - die teenstellings word dikwels al te bewus en resepmatig uitgewerk -, het Van Melle langs dié weg van sy mees blywende werk gelewer. So 'n verhaal is Drusse wat juis aan sy ongesogte kontraste sy weergalose trefsekerheid ontleen. Aan die een kant is dit die uitgelate seuns met hulle barbaarse spele, brute lewenslustige kwajongens wat alleen | |
[pagina 146]
| |
‘drus’ as daar niks beters te doen is nie. Daarteenoor die siek ventjie van die Nonnestraat wat in die gedrus van sy maats juis sy hoogste genot vind. Dan die onvergeetlike klimaks. Die seuns hoor van die siek jongetjie en besluit om hom te behaag. Dié keer sal hulle drus soos nog nooit tevore nie. Deur al die strate van die stadjie gaan die mars sodat elke moontlike drusser kan aansluit. Steeds uitdagender groei die gedreun aan van die klompe op die straatkeie, al dreigender tot die onvoorsiene en verpletterende terugslag van die slot ..... ‘So drus hulle dan heen. Oor ‘Help jou Self’, langs die Soutgrag, deur die Hoek van Armoede, die Golf van Guinea, die Blou Steen, die Vuilstraat en die Straat van Sint Adriaan, deur en oor al die kort, smal, eeue-oue straatjies, pleintjies en brûe, met hulle outydse name; so met 'n groot draai na die Nonnestraat. By die ingang daarvan gaan 'n roering deur die bende asof hulle op 'n toneel kom. Hulle gaan 'n opvoering gee vir 'n sieklike seuntjie. Die seuns hou hulle koppe hoër, maak hulle borste wyd. Maar toe die voorstes by die huis van mevrou Duwewaarde kom, verval hulle meteens in 'n skuifelende, aarselende gang en 'n verskrikte gefluister gaan deur die skare. Die gordyne en luike van die huis is algar toe as teken dat daar 'n dooie is. Hulle het te laat gekom met hul gedrus; die seuntjie was nie meer daar om dit te sien nie. Stil en sprakeloos, met hulle ernstige oë na die somber huis, gaan almal verby, bedruk soos 'n roustoet. 'n Paar neem hul pet af; een trek sy klompe uit. In die deure en vensters staan mense en kyk na die vreemde skouspel van 'n menigte seuns wat sonder praat, ernstig, stil verbygaan. Dan gaan hulle ook weer na binne, en stil en doods lê die Nonnestraatjie daar weer in die grys môre.’
A.P. Grové |