| |
| |
| |
Hoofstuk III.
Die Winkel - Kantien - Hotnotriele - Tronk.
Coenrad se winkel was die ou handelsplek van Iedries en Sina. Met die gesels oor die ou dae het die pad kort geworde en eer hul hulle kom kry, was hul voor die winkel. In 'n naasaan gebou was 'n kantien, waar hul eers 'n snaps gaan neem het.
Hier by die drinkplek het hul nooit so gerus gevoel nie, omdat hul so gemaklik na tronk kan gelei word, want die dieners of konstabels was hier erg waaksaam. As jy Sina, die ou windmeul, oor haar inkopery hoor spog, sal jy wrintig dink, sy gaan 'n wavrag negosiegoed inkoop. Iedries verdien vyftien shillings in die maand as bokwagter, kry nog verder kos, tabak, drank, sool- en oorleer, en ook ou klere. Sina verdien met was-goed aanneem ook maandeliks vyftien shillings. Platjie kry 'n halfkroon per maand as varkwagter. Van hierdie geld gebruik ou Iedries en sy meid ieder 'n halfkroon vir drinkgeld; ofskoon wyn teen drie bottels vir 'n shilling in daardie tyd in die kantiens verkrygbaar was,
| |
| |
het hul tog so baie aan drank bestee, want hulle het gedrink en getrakteer.
Dus na hul in die winkel terug was, en na hul kopdoeke, koffie, suiker, snuif, swawelhoutjies, gare, naalde, spelde, knope en dergelyke riewatjies gekoop het, roep ou Sina: ‘Kom, Iedries en Platjie, nou is ek klaar, kom laat ons na ons ou drinkplek toe gaan!’
Op weg soontoe sê Sina: ‘Die volk weet te vertel dat dit vandag die verjaarsdag van Bob, die kantienbaas is. Hy sal ons, wat sy ou klandiesie is, moet trakteer.’
‘Dit sal nie altemitters wees nie - hy sal nie by sy ou volk laat slap lê nie,’ antwoord Iedries vol moed.
Die Paarl is die grootste wyndistrik in Suidafrika. Die wynboere daar staan skouer aan skouer om hulle boerderysake te bewaak. So verstaan die konstabels goed dat hul nie die ou paaiboelies van die kantiene moet wees nie - tensy daar een tog te ver deur die wingerd verdwaal is. Die voorwaardes om nie in die hande van die diener te val nie is: Waak, sonder nood-wendig nugter te wees; staan jou man, sonder haantjie-streke uit te haal om te toon wat kierie- en vuiswerk kan doen; praat, sonder luidrugtig in vreemde tale te spreek, en gaan jou weg in vrede, sonder links of regs te snuffel om uit te vinde hoeveel keer jy die grond kan raak vat.
| |
| |
‘Maar solang jy jollie booi, jollie booi op jou bene bly,’ sê Iedries, ‘dan sal die diener met verbystap skuins oor sy neus kyk en sê: Steddie booi, steddie booi.’
Want die wat langs 'n publieke weg gaan neerlê om rus te vinde, sal in sy sluimer deur nagmerries verstoor worde; hy wat eerste of twede mannetjie wil speel, moet weet 'n derde mannetjie kom ongemakkelik op sy lyf af; hy wat gekruide woorde gebruik, moet weet dat dit nie somaar 'n geroep in die woestyn is nie, en hy wat na iets kruis en dwars soek, moet weet dat hy daar niks verloor het nie. Dit alles is daar binne in die tjoekie verkrygbaar, en wel, sonder vergoeding.
Steeds op weg na die plek van Bob lopende, kom hul by die tronk verby en Platjie vra: ‘Tata, is dit die tronk, waarin hul al die skelm mense instop?’ En hy bly staan om te kyk.
‘Ja my kind, dis wel die tronk, waar hul net maar die mense instop, wat uitgevinde word - die onbetrapte vabonde bly buite,’ was Iedries se antwoord, terwyl hy Platjie aan die arm trek met die woorde: ‘Kom, moenie hier staan nie - dit lyk of ons tronk soek.’
Toe hul onder by Bob aankom, kyk hul eers goed rond of hul nie dieners sien nie; want Platjie is nog te jonk om 'n kantien binne te stap. Toe hul veiligheid ontdek, stap hul by 'n sydeur in en Sina brul uit: ‘Geluk seur Bob! Lang lewe, salig sterwe!’
| |
| |
Iedries spartel in die spinnerak om woorde van geluk-wense te vinde en sê somaar: ‘Seur, mag jy so lank lewe dat jou sakke van die baie geld skeur.’
‘As my sakke skeur en die geld val uit, dan het jy mos die voordeel daarvan om dit op te tel,’ merk Bob op terwyl hy glase afdroog.
‘Seur, so het ek dit darem nie gemeen nie; nou sal ek liewers iets anders wens. Met alle eerbiedigheid en beleefdigheid presenteer ek my voor seur om my geluk-wense vir seur uit te stort. Mag seur lank lewe en sterk bly; baie geld maak en ryk bly, en altyd goeie aptyt hê en sterk tande besit om die kos fyn te kou.’
‘Dit klink beter, outa,’ sê Bob.
‘Geluk, seur,’ sê Platjie, waarop Bob almaal bedank.
‘A, lank nie gesien nie - trakteer, trakteer, Seur!’ roep Sina uit, terwyl haar oë van verwagting blink.
‘Goed, ek sal jul op my verjaarsdag op bier trakteer. Ek het die vat ekspres vir my klandiesie laat kom; maar nou het die bier so effe 'n krakie; maar dit sal g'n saak maak nie. Maar kyk, hoor jul, julle gaan nie my bier by die ander kantiene sieg maak nie.’
‘Dit sal ons so nooit as nooit doen nie!’ roep die twee uit. Bob vat brandsuur bier en gee daarvan aan ieder 'n glas vol.
Iedries drink en klap sy tong en sê: ‘Seur, ek het belowe om seur se bier nie sieg te maak nie; maar kyk,
| |
| |
as seur nie gou hierdie bier deur die volk laat uitdrink nie, sal dit altenmitters suur worde.’
‘Wat!’ roep Sina uit, ‘seur het gesê die bier het 'n krakie, maar ek sê: die bier het 'n dekselse bars!’
Platjie het sy bier by die sydeur uitgeskiet en wil net uitstap, toe Bob hom terug roep, en toe gee hy hul van die beste soetwyn, wat hy het met die vraag: ‘Hoe lyk jul dit?’
‘A nee, seur, dis egte stof hierdie, wat 'n koning kan drink - dit smaak na druiwe, dit ruik na druiwe en dit rol goems! nes druiwekorrels in my maag,’ was Iedries se versekering.
Hierop gaan die twee oues sit en roep na Platjie, wat uithol: ‘Waar loop jy?’
‘Ek gaan met daardie klonkies albaster speel en toltol draai,’ was Platjie se antwoord; want hy het juis die oggend albasters en 'n tol gekoop.
By hierdie tyd kom Windvoël se musiekbend om op die verjaarsdag van Bob en by die end van die maand te speel. Want in daardie dae is al die volk by die maand gehuur en betaal. Die bend gaan teen die muur in die kantien sit. Apols Keiser is vioolspeler en dit lyk of hy die viool wil dood wurg as hy die strykstok so fyn oor die snare stryk. Moos Lampies sit weer die konsertina ewe lewendig in die ribbetjies te kielie; terwyl Klaas Windvoël hulle moses op 'n ramkie of hotnot gitaar is.
| |
| |
Hy gooi sy kop so effe skeef en vooroor en demp die klank van die snare met sy beroemde spits ramkie ken. Oei, dan pronk hy soos 'n haarvoor perd, as hy trots met sy kop in die tuig speel.
Toe hul die eerste stuk klaar met geesdrif afgeklink het, roep Sina: ‘Seur Bob, hier's vier duwweltjies, gee die musikante 'n bottel wyn en laat hul vir my en my ou man onder die akkerboom kom speel, dan kan jul sien hoe 'n Drakensteinse meid 'n riel weg van haar lyf afdans.’
Toe die musiek gereed is, roep Sina vir Platjie en daarop sê sy aan Klaas Windvoël: ‘Kom gooi 'n riel vir ons oor die grond en niks anders nie as “Valsrivier langs die dorings”, dan kan jul aanskou hoe ek in my land geleer dans het.’
Daar was nog 'n paar ander, wat aan die riel kom deelneem het; maar hul weet nie eers wat riel dans is nie. Die rondstaanders, wat kom aas, probeer ook, maar Sina sê: ‘Nee wat, - julle kan maar gerus tuis bly!’
Die groot aantrekking van die dans was die gesin van ou Iedries. Aai, kyk hoe fyn vat Sina die passies, en gooi Iedries en Platjie ook nie weg nie - hulle kan werkelik nie ratter met hulle hande as met hulle voete wees nie. Toe die eerste riel klaar is, sê Sina: ‘Wag, laat ons eers ons ou litte gaan losmaak en dan
| |
| |
kan jul die Drakensteinse meid eers prys as jul lus het.’
Sy order nou 'n bottel wyn vir hulle drie en ook een vir die drie musikante en sê: ‘Dè! seur Bob, hier is ag oulap vir die twee bottels, wat ons vol aangespreek het en wat nou leeg antwoord gee.’ Vir die musikante sê sy: ‘Toe, speel nou vir ons “Die bont perd wat water toe draf”.’
Toe kan jy net hoor voetklap en trippel, steun en kreun, uitroep en roggel. Nou kan 'n mens sien hoe die deurstap en askoek afslaan moet uitgevoer worde. As Sina die passies so fyn uitkerwe, druk sy met haar hande in haar twee sye en swaai so nou en dan die een hand in die lug. Iedries spring in die lug, klop met sy twee voete askoek af, terwyl Platjie op 'n plek boor en so af en toe met die hak op die grond slaan, anders boor hy dalkies 'n gat dwarsdeur die aarde.
Een riel volg die ander met meesterlike snelheid op, en toe die bene begin swik, sing Sina: ‘Olie, olie van die druiwe, wat ons droefheid laat vergaan’, en roep uit asem verder uit: ‘Nou raak ons poot uit, speel nog vir die laaste “Kammies, rol op jou velle”.’
Hul val weg, ledries skoffel nog flink, hy druk op die grond en gaan soms op sy sy lê, nes 'n hoender wat in die stof rol - gee 'n druk op die hand, en daar trippel hy weer.
| |
| |
Na die laaste dans afgeloop is, stel Sina voor: ‘Kom, ons gaan nou die stof uit onse keel uit spoel, en dan gaan ons daar by die dennebome langs die taaibos rus.’
Sy tel haar geld, en sy en Iedries het ieder nog 'n shilling oor.
Met slappe knieë volg hul 'n voetpaadjie tot by die bos, waar hul gaan sit. Maar afmatting en vaak oorval hul en spoedig lê die drie te snork. Hulle aanwesigheid by die bos word deur 'n seker Hendrik gevolg en hy beloer hul fyn.
Om die kantiene dwaal altyd 'n seker klas leeglopers rond. Sodra hul van die buitevolk sien inkom, weet hul net gou 'n praatjie aan te knoop, met die doel om 'n dronkie wyn uit die buiteman te kry. Hul is dan ook die eerste om so een te beveg en te berowe. Gou weet een van hulle die buiteman wys te maak dat hy op sy baas wag (hy het miskien nooit 'n baas vir maande en maande gehad nie) en vertel so gou as die baas tuis kom, gaan hy sy geld haal om sy weldoener vir sy sopie te vergoed, om hom wederkerig nog meer drank te staan; en die storie word van die oggend tot die aand vertel en van Maandag tot Saterdag vervolg. Verder as dit kom dit egter nie. Word die kantien oppassers gevra, waarvan hulle lewe, dan sê hul: ‘Van die arbeid van my tien vingers.’ Maar hul bly in gebreke om daarby
| |
| |
te voeg: ‘Wat my tien vingers vir my rowe.’ En hul is so geslepe dat hul die tronk altyd op een of ander wyse verby spring.
Stadig bekruip hy die plek, waar die gesin van Iedries gaan rus het. Maar toe hy Sina so vinnig as 'n muis sien opspring, koes hy weg en beloer haar fyn tussen die boomtakke deur. Die skrik het Sina baie meer nugter laat voel. Sy begin toe gedagte van slange en rotte te kry en dit duur weer 'n rukkie eer sy insluimer. Hendrik stap nader en luister met opgetrekte asem. Ja, hulle slaap. Saggies vat hy die knapsak, die handmandjie en die kierie; maar net toe hy 'n paar tree weg is, droom Sina weer van rotte, skrik wakker, en sien Hendrik met die goed wegkruip. Sy pomp Iedries in die sy en sê: ‘Staan op, kyk daar loop die Hendrik - jong, met ons goed weg - daar agter die bos het hy ingekruip.’
‘Wat pomp jy my in die ribbekas?’ brom Iedries.
‘Word tog wakker! Kyk, ons goed is vort en daar kruip Hendrik daarmee weg!’
Iedries gryp na sy kierie, maar dit is ook weg. Hy gryp klippe en agtervolg die weggekruipte Hendrik. Hy sien Hendrik en haak met 'n klip af - maar mis. Hy bly staan en laat weer een na Hendrik se kop vlie - weer mis, maar toe hy die derde klip na Hendrik se kop slinger, is dit raak - teen die nek - en Hendrik
| |
| |
val plat teen die grond. Maar eer Iedries by is, spring die dief op en presenteer hom met kierie in die hand. Hy is natuurlik meer nugter as Iedries, wat nou by hierdie tyd ook van skrik en opgewondenheid reg geword het. Iedries wil die dief pak, maar hy dien Iedries 'n harde slag met die kierie toe. 'n Hewige geveg begin met bloedspat en klere geskeur.
Platjie huil en Sina roep om hulp, en van al kante stroom volk en meide toe. In plaas van uitmekaar te maak, word dit 'n geveg in die bondel - ieder een het maters gekry om aan sy kant te help. Toe kan jy kieries hoor klap, vuisslae hoor, skop, - selfs sakmesse word nie uit die geveg gehou nie. Dit rumoer, knoop en vloek. 'n Paar ander volk kom by en skree: ‘Vorm 'n ring en laat die twee alleen die ding uitspook!’ Sina skree van hierdie kant af: ‘Toe Iedries, wys hom wie opstoppers wil gee, moet opstoppers verdra.’
'n Ander roep: ‘Toe Hendrik, werk hom!’
Iedries is klaar en plant Hendrik die vuis tussen die oë. ‘Hou jou pote uit my gesig!’ roep Hendrik.
Die end is, die diener kom by, blaas op sy fluitjie - nie om na riele te dans nie, maar wel om hulp vir hom. 'n Ander konstabel kom by en marseer die kampvegters met hulle medepligtiges na die tronk.
In diepe erns stap die stoet straat op; Iedries sug, Sina snik en Platjie huil, terwyl die aartskarnallie,
| |
| |
Hendrik, nogal vrolik onder die omstandighede uitsien.
‘Sien jy tog nie van Drakenstein se volk of mense nie, om vir die oubaas te gaan sê dat ons onskuldig in die tronk sit?’ sê Sina aan Iedries.
‘Wag, ons kan kyk,’ antwoord hy, maar so een het hom nie voorgedoen nie en hul hoor met trane in die oë die tronkdeur agter hulle toeslaan.
|
|