Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 15. Keet - Tomlinson.Tobie Muller (1925).Tobie Muller was gedurende sy studentejare al 'n merkwaardige figuur op Stellenbosch. Na 'n skitterende loopbaan aan die Victoriakollege en aan buitelandse universiteite het hy op 'n kritieke tydstip in die taalstryd die besielde woordvoerder van die jongere geword en deur sy veelsydige talente veel gedoen om die oorwinning vir Afrikaans te behaal. Dit was 'n gelukkige gedagte van twee van sy vriende en medestryders om hierdie lewensbeskrywing op te stel as ‘'n inspirasie vir jong Suid-Afrika’. Volgens die voorberig moet dit nie beskou word ‘as 'n literariese produk of wetenskaplike lewensbeskrywing’ nie, ‘maar net as 'n eenvoudige poging om die invloed van 'n merkwaardige lewe.... te bestendig.’ In hoofsaak kan ek my verenig met hierdie selfkritiek van die skrywers. Hulle bepaal hul deurgaans tot 'n opsomming van die uiterlike lewensfeite en deins meestal terug vir 'n ontleding van sy innerlike persoonlikheid. En juis daaruit tog moet die ‘inspirasie vir jong Suid-Afrika’ kom! Dit sal altoos 'n moeilike taak bly om die diepste kern van 'n kragtige persoonlikheid so voor te stel, dat dit 'n besielende invloed kan uitoefen op lesers wat die held van die boek nooit self geken het nie. In 'n portret soek ons nie net na 'n versameling van lyne en kleure, wat ons in staat | |
[pagina 563]
| |
stel om die identiteit van die geskilderde persoon vas te stel nie. Ons wil nie die attestaat of doopseel van die man lig nie, maar in intieme aanraking kom met die man self. Wat daar so dikwels in 'n lewensbeskrywing ontbreek, wat ons daar ten spyte van die titel so selde in kry is lewe. Om dit te bereik moet die biograaf beskik oor dieselfde dramatiese vermoë wat ons by die goeie romanskrywer aantref. Hy moet nie net met noukeurige sorg sy biografiese gegewens versamel nie, maar daar ook lewe inblaas deur sy vertolking. Hy moet die innerlikste dryfvere in beweging, in aksie voorstel; nie soseer wat die held gedaan het nie, maar wat hy was, is van belang. Die mens en nie die daad moet op die voorgrond tree. Die biograwe van Tobie Muller kan dit nie bereik deur ‘'n kort verslag van sy skool- en kollegelewe’ nie; nog minder deur die kleurlose joernalistiek van hoofstuk VII. Af en toe slaag hul egter wel daarin om ons met Tobie Muller se persoonlikheid in aanraking te bring. Ek noem b.v. die koddige Hoog-Hollandse brief van die vyftienjarige as hy die eerste swart donsies op sy bo-lip ontdek en die beskrywing van sy sielkundige proefneming met Hollandse sigare (p. 18). Verder die interessante hoofstukke oor die Afrikaanse Taalvereniging, wat gegewens van kultuurhistoriese waarde bevat uit die stormperiode van die taalstryd op Stellenbosch. Hier sien om werklik Tobie Muller, die geesdriftige verdediger van die moedertaal in aksie! Hier geniet ons van sy geniale uitvalle, en ons verkneukel ons oor die kopskote wat hy sy gesaghebbende bestryders toedien! Hierdie persoonlike herinneringe van die taalstryd is van besondere betekenis, en dit is te hope dat ook ander medestryders hul ervarings sal te boek stel. Die uiteensetting van die pragmatisme as dinkmetode val buitekant die bestek van 'n werk ‘wat op eenvoudige en populêre wyse opgestel is’, maar die bylaes bevat uittreksels uit Tobie Muller se letterkundige nalatenskap, wat 'n interessante lig werp op die strewe en ideale van hierdie talentvolle leier van die Stellenbosse jeug. Daarin is o.a. opgeneem Die Geloofsbelydenis van 'n Nasionalis, op die besondere betekenis waarvan al in Hoofstuk II gewys is.Ga naar voetnoot1) As geheel beskou, bevat hierdie lewensbeskrywing dus veel wat ons nie graag sou wil mis nie. As ons die lang saaityd in Tobie Muller se lewe vergelyk met die kortstondige werkperiode waarin hy met geesdriftige ywer tog nog die vreugde van 'n haastige oes kon smaak, dan dink ons met weemoed aan die verlies wat ons jong nasie gely het deur die ontydige heengaan van hierdie warme idealis. Met dankbaarheid aanvaar ons die hulde van sy twee vriende, wat seker daartoe sal bydra om sy invloed te laat voortlewe. En die ideale van Tobie Muller het ons so nodig by die ontwikkeling van ons volkskultuur! |
|