Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 3. Satiries-humoristiese Verhale.Sonde met die Bure (1921).‘Die ou wêreld is nou so treurig donker.... Om my dan self 'n bietjie op te beur - en as ek dit kan regkry, menige ander arme drommel ook wat altemit teen dieselfde versoeking moet stry om nie maar gedurig miesrabel te voel nie.... (het) ek hierdie noukeurige en onverbloemde verslaggie geskryf van 'n baie gelukkige vakansieplan....’ Die ou wêreld het té treurig geword, en daarom sit Langenhoven die hele werskaf onderstebo neer. Sy bure het hom versondig en nou sê hy: Ek maak soos ek lekker kry en kom julle nog verder met my lol, dan koggel ek julle almal uit! Dit is so ongeveer die stemming waarin Neelsie geskryf het. Sy vrou wou haar nie laat vermaak deur die weelderige leefwyse van haar bure nie - dit was in die dae van Oudtshoorn se volstruisgloria. Sy het aan hom gekarring en al sy besware ‘doodgealmiskie’. Hy koop ‘'n afgeleefde tremwa’ in die Kaap, en toe agtien osse die soort strandhuis nie kon trek nie, verower hy op 'n sirkusvendusie die olifant, Herrie. Dwars deur die dorp gaan die tog, Olifantsrivier op. Almal wat hom lastig val raak lelik gepier. Die burgemeester is eerste aan die pen en sy bemoeisug gee Neelsie 'n kans om sy ergernis oor belastingkwellings te lug. Op Stolsvlakte raak die pad versper deur die slingerende gevaarte en van weerskante word die verkeer opgedam. Maar Herrie verwilder die spul met sy gesnork deur 'n motorbeuel. So ver as Neelsie gaan versondig hy sy bure - maar hulle het mos eerste begin te lol! En hy slaan nog geld uit hulle ergernis ook om vir Engela, sy dogter, se numodiese klere te betaal! Dit word 'n wraakneming van 'n getergde man. Die magistraat, afdelingsraad en geregtelike mag agtervolg hom, maar moet met hangende pootjies en skoongewaste koppe stamp-stamp huis-toe ry oor 'n omgeploegde pad. In Meiringspoort vind hy eindelik rus - vir 'n tydlank ten minste. Daar raak hy aan filosofeer oor ‘al die nietige ou mensies op aarde’ en die wondere van die skepping. Maar die lekker rooipitperskes, wat gedienstige jongkêrels vir Engela aandra, laat hom uitvaar teen die nuwe soorte, wat allerhande plae in die land gebring het. En 'n stapel koerante maak hom briesend! Vroutjie peuter aan hom oor sy ongeselligheid, en as gevolg praat hy die arme dominee skoon dronk van pure gasvryheid. Met 'n groot reent raak die kos skaars, maar die jong- | |
[pagina 483]
| |
kêrels knoop al De Rust se kabeltoue aan mekaar om oor die kranse van dertienhonderd voet nuwe voorraad en.... Engela se beste vryer af te hys! Een van die afdrifsels op die rivier is 'n dronk Hotnot, wat onder die sing van ‘God save the King’ op 'n stomp afdryf! ‘Ons het later gehoor dat hy deur Oudtshoorn se distrik met Olifantsrivier af is, al singende ‘Rule Britannia’. En die laaste berigte wat van hom bekend is, is dat hy onder Gouritzrivier se brug deur is see-toe met die laaste van sy drie liedere. Dit was ‘Home Fires’. Kostelike ironie! Oom Hendrik kom ook aangespoel om 'n goeie spook-storie te vertel. En met sy vasgereende bure kom Neelsie gelukkig so goed klaar, dat selfs die armblanke-vraagstuk aan sy geselligheid geen afbreuk doen nie. Engela is ook in die skik met haar uit die lug gevalle vryer en die hele wêreld kom so stadig aan weer reg. Skaars is die pad egter rybaar of die ‘sondesoekery’ begin weer. Twee deputasies kom Neelsie vra om hom verkiesbaar te stel, Prins-Albert vir die volksraad en Oudtshoorn vir die stadsraad. Prins-Albert hoop om op dié manier sy paaie ongeploeg te hou en Oudtshoorn sê: ‘Ons wil hê jy moet so vas wees in die dorp dat jy nooit weer daar uitkom nie.’ Dit is die laaste, maar glad nie die enigste klap wat Sagmoedige Neelsie aan sy eieliefde gee nie. Dié ‘sagmoedigheid’ van hom is sommer bossies. Juis die manier waarop hy daarmee omspring, sy koddige pogings om kastig eie vernaamheid te handhaaf en homself te rehabiliteer is een van die besgeslaagde humoristiese trekke. ‘Neelsie, ons bring jou De Rust se groete. Jy weet hoe lief ons jou het. Moenie laat daar iets tussen ons kom nie.... Bly op Oudtshoorn.... En die beswaar het ek gewaardeer.... En tot vandag toe het daardie mense my nog lief. Ek moet darem maar 'n goeie man wees.’ Komieklike verdraaiings, woordspelings en paradokse, die eienaardige nuanse wat hy in geestige maar ook in die eenvoudigste opmerkings lê - dit is 'n paar middele wat gebruik word. ‘Soos die ou spreekwoord tog sê, as 'n mens dom is moet jy slim wees.’; tafelpote ‘moet glo op een of ander manier ongelyk wees om gelyk te wees.’; ‘Ek wil nie altyd wil nie, maar as ek darem nou wil, dan wil ek, of as ek nie wil nie, dan wil ek nie.’ Met 'n paar woorde bereik hy soms 'n mooi effek. Nadat hy 'n opsomming gegee het van al die swaar goed wat op die tremwa is, voeg hy so ewe droog by: ‘En Engela se klere.’ Anders kom hy weer met groot vertoon van erns die mees vanselfsprekende feit vertel: ‘Engela en Willem het hulle, met prysenswaardige bedagsaamheid jegens ons ouere smaak, onderwerp om maar besonders van ons geselskap te bly en met hulle eie tevrede te wees, by gebreke aan beter.’ ‘The sense of the Comic is much blunted by habits of punning and of using humoristic phrase: the trick of employing Johnsonian poly- | |
[pagina 484]
| |
syllables to treat of the infinitely little. And it really may be humorous, of a kind, yet it will miss the point by going too much round about it.’Ga naar voetnoot1) Gelukkig kan dit nie van Langenhoven gesê word nie. Hy maak 'n spaarsame gebruik van al dié foefies en om die bos loop hy ook nie. Mens kry by hom, wat Meredith noem ‘stout animal laughter’, maar ook ‘spiritual laughter’. ‘Die geagte leser kan glo wat hy wil en as hy nie wil nie kan hy laat staan,’ sê die skrywer in sy voorwoord. Maar die onwaarskynlikheid is in so 'n verhaal 'n deug. ‘There is nothing more powerfully humorous than what is called keeping in comic character.... (i.e.) consistency in absurdity; a determined and laudable attachment to the incongruous and singular. The regularity completes the contradiction; for the number of instances of deviation from the right line, branching out in all directions, shows the inveteracy of the original bias to any extravagance or folly, the natural improbability, as it were, increasing every time with the multiplication of chances for a return to common sense, and in the end mounting up to an incredible and unaccountably ridiculous height, when we find our expectations as invariably baffled. The most curious problem of all, is this truth of absurdity to itself. That reason and good sense should be consistent, is not wonderful: but that caprice, and whim, and fantastical prejudice, should be uniform and infallible in their results, is the surprising thing.’Ga naar voetnoot2) Nou is daar nog 'n paar ‘muggies’Ga naar voetnoot3), wat moet katswink geslaan word, vóórdat hulle ons slaapsiekte kan gee! In Die Brandwag (15 Mei 1912) het Langenhoven gepleit vir ‘sulke handige woorde as: mistyk, baaisikkel, drein, spiets, toast’. In dieselfde artikel kom voor papier (koerant), gedrop, hendikep, remnant, op te dres. As 'n takhaar, soos oom Stoffel in Doppers en Filistyne praat van ‘die haai sosaaietie van die dorp’, dan het ons daar vrede mee. Ons sien hom sy neus optrek vir die hele gedoente en hoor in die klank al sy veragting. Dit is dieselfde beginsel wat hom laat sê Broes Dekstrooi en Makpaatrie en dit tipeer die man meteens. Maar die gereelde gebruik van die sogenaamde ‘handige woordjies’ moet stellig afgekeur word en dit kan ons met Langenhoven se eie woorde doen: ‘Sal 'n groot Afrikaanse letterkunde ooit ontstaan, dan sal hy groot wees omdat hy Afrikaans is: Afrikaans in sinsbou, idioom, taalgenie, taalopvatting, taalgevoel, taalstandpunt.’ (t.a.p.). | |
Herrie op die ou Tremspoor (1925).Hierdie verhaal is 'n vervolg op Sonde met die Bure. Oudtshoorn se weeldedae is nou verby en ofskoon Neelsie rustig kan rentenier, het sy | |
[pagina 485]
| |
leeglêery vir Vroutjie verveel. Sy begin so aan hom te karring, dat hy verplig is om werk te gaan soek. Die politieke kreet ‘baantjies vir boeties’ verskaf die skrywer 'n humoristiese motief. Na 'n vergeefse rit na Pretoria, ontduik hy Vroutjie se verwyte deur te gaan koffie maak. Op geestige wyse beskrywe hy die gesukkel om die vuur aan die gang te kry. ‘In die ou verlore dae van vammelewe’, toe die hout nog volop was, was dit 'n seldsame plesier. ‘Nou, in vandag se tyd, maak jy in 'n noue pigeon-holeGa naar voetnoot1) van 'n ellendige ysterstoof vuur met gekloofde groenhoutmootjies wat jy in die winkel by die gewig koop. Word met 'n delikate volstruisveerskaaltjie vir jou uitgeweeg, kwartonse en sestiendes.’ Fyngoed is ook nie meer te krye nie, dus gebruik hy die vorige dag se aanskrywings of, soos hy in Aan Stille Waters gesê het, sielkundige romans en doktorale proefskrifte! Sy stemming word natuurlik nie verbeter deur 'n gepeins oor die idilliese toestande van vanmelewe nie en die aanhoudende getiengelieng van die elektriese klokkie - ‘ook weer 'n moderne sielopvreter’ - jaag hom, met 'n jas oor sy naghemp, die straat op! Hy wil 'n blaasbalk koop, maar word agtervolg deur 'n korpulente konstabel. Die moderne klerkie se onkunde omtrent so'n ouderwetse artikel as 'n blaasbalk gee aanleiding tot 'n vermaaklike toneeltjie. By die huis staan Vroutjie alweer oorgehaal en die arme getergde Neelsie gaan troos soek op die werf by sy redelose maats, Herrie en Jakkals. ‘'n Koue neusie in jou hand, 'n growwe poot op jou knie.... dáar nog is daar troos.’ Maar hy het darem genoeg selfkennis om die regte oorsaak van al sy ellende te vind: ‘Dis ekself al die tyd wat myself nie kan veel nie.’ Neelsie se medelyde met die onderwyseresse gee aanleiding tot 'n heftige uitbarsting van Vroutjie en hy moet maar weer gaan werk soek. Ernstiger word die toon van die verhaal, as hy by die magistraatshof kom, waar 'n arme Magdalena besig is ‘om haar skande voor die gapende skouburggehoor ten toon te sprei’. By 'n winkel moet hy uitvind dat sy ouderwetse eerlikheid 'n diskwalifikasie is vir die betrekking van boekhouer, en terselfdertyd word die gewetenlose praktyke van party besigheidsmense aan die kaak gestel. Daar is ook erns onder die skerts. Met 'n paar vlugge vegies word die figuur van die gewigtig-doende stadsklerk, Blarney Woolly Stubbs, wat al sy werk met 'n rubbertjap verrig, goed geteken. Neelsie se volgende probeerslag is om magistraat te word, want om sy ewemens te beoordeel lyk vir hom nogal 'n aantreklike amp. Die magistraat vertel hom egter van sy ‘gedurig knaende vrees’ vir onregverdige uitsprake en Neelsie kom tot die gevolgtrekking: ‘Die ou wêreld is nie so sleg nie!’ Weer soek hy die stilswygende simpatie van sy redelose maats met | |
[pagina 486]
| |
hul ‘liefde wat voel en nie verstaan nie’. Die beskrywing van die piekniek by die seekoegat gee die skrywer 'n kans om sy humoristiese draaitjies met uitstekende effek in te vleg. Daar verskyn natuurlik 'n sonde-soeker op die toneel, maar Herrie se ‘honderd-atmosfeer forspomp’ bring hom tot rede. En selfs in die nukkerige ou gierigaard, Koos Kansa, wat huil as hy 'n sjieling moet uitgee, ontdek Neelsie goeie hoedanighede. Die volgende dag moet Neelsie op las van Vroutjie gaan bone skoffel en met komiese erns deel hy die resultate van sy arbeid mee. Nou oorrompel hy Vroutjie deur die splinternuwe plan om 'n wonderlike boek te skrywe, en hy raak so in ekstase, dat sy meteens die skryfgereedskap wil gaan haal. Met die pos kom daar egter 'n uitnodiging van die Stellenbosse Universiteit, waarin Neelsie gevra word om 'n reeks lesings te gee oor 'n aantal hooggeleerde onderwerpe. Hier kom die skrywer op sy geliefkoosde terrein: spotterny met akademiese geleerdheid. Maar die grootste gedeelte van dié spot laat hy op sy eie hoof neerkom! Vroutjie se hele houding verander meteens. Sonder tydversuim verkondig sy haar man se verhoogde status wyd en syd. Dis mos 'n uitsoekkans om al die buurvrouens die stuipe te laat kry van afguns! Ouman word vandat hy ‘'n gevoel van verantwoordelikheid’ opgedoen het met voorkomende vriendelikheid behandel en sonder verdere rusie kry hy sy wens om met die trem op die ou spoor te trek na 'n rustige oord, waar hy hom kan voorberei vir sy professorale taak sonder om sonde van die bure te beleef. ‘Moenie jou kordaatstuk herhaal nie,’ sê Langenhoven, die spreukskrywer, en die wysheid van dié gesegde blyk ook uit hierdie tweede tremreis. Die skrywer sorg wel op sy humoristiese trant vir afwisseling, maar die hele episode mis natuurlik die geniale frisheid van die eerste uittog. In die koringlande van Hansie du Toit kom die trem tot stilstand en met innige simpatie word die smart van die boer geteken, wat sy veel belowende oes deur 'n plotselinge haelstorm sien verwoes. Willem, die aspirant-skoonseun, verskyn ook weer op die toneel en verder die goed getekende oujong Saul, wat, as hy oor sy neiging om te vloek berisp word, telkens tussen 'n paar nuwe knope uitroep: ‘Basie, ek minder darem, ek minder.’ In die vredige stilte van Meiringspoort begin Neelsie dan eindelik aan sy professorale taak. Van die begin af het Vroutjie hom deur-'n-tyd aangepor en sy neiging om steeds uitstel of uitvlugte te soek gee aanleiding tot komiese stroebelings. Maar nou moet hy eindelik in volle erns begin! Na 'n voorlopige skermutseling met 'n lywige Duitse handboek oor egiptologie, vind hy ‘'n eenvoudige uitweg, wat darem geensins 'n versaking van (s)y studie sou beteken nie’. Hy verdiep hom in 'n uitgebreide versameling van sensasie-romans, wat hy vir die voordeel van die Stellenbosse studente ‘met vernietigende doeltreffendheid’ wil bespreek! Veroordeling van ander mense se werk is mos die vernaamste taak van die | |
[pagina 487]
| |
akademiese geleerde! So interessant vind Neelsie sy nuwe ‘studievak’, dat selfs die koms van professor Smith - waarskynlik die enigste akademiese geleerde wat genade gevind het in sy oë - vir hom 'n onwelkome stoornis is. Hy kry dadelik sonde met hom oor 'n paar taalkundige punte, maar die professor verlos hom tog van die geleerdheids-nagmerrie deur die meedeling dat die registrateur hom per abuis 'n lys van onderwerpe vir proefskrifte gestuur het. Om Vroutjie se hooggestemde verwagtings nie teleur te stel nie, word die ywerige leser van sensasieromans begiftig met.... 'n doktorsgraad! Met hierdie humoristiese klimaks eindig die ervarings van 'n aarts-luieraar, wat daar 'n kuns van gemaak het om alle werk, wat nie na sy sin is nie, mis te loop. Met 'n ironiese glimlag wikkel die deskundige bone-skoffelaar sy sagmoedige nietigheid toe onder die breë plooie van 'n doktorale toga. Langenhoven, die onversoenlike hater van akademiese fariseërs, het in hierdie parodie op alle geleerdheidsvertoon met beminlike selfbespotting uiting gegee aan sy ou wrok. | |
Doppers en Filistyne (1921).‘Nou ja, net soos Delila met Simson gemaak het - gekerm en gekarring tot sy haar sin gekry het - net so het Soetlief met my gewerk tot sy my oorgelewer het aan die dorpse Filistyne’. Soetlief volg dieselfde taktiek as Vroutjie. Sy is moeg vir die rustige plaaslewe en dwing dorp-toe om ook in die ‘adelkringe’ te kom. Oom Stoffel, 'n opregte ou takhaar, moet toegee en dan begin die sonde met die dorpse bure en die dorpse gewoontes. Alles is ‘blink bedrog’. In plaas van sy koele rietdakhuis trek hy in ‘'n moderne ongerieflike verspotterigheid.... wat jy kon omstoot buiten dat die uitgeknipte blikversierseltjies jou hande stukkend sny.’ Van ‘sonde en ergernis en dorpse modes en dorpse vleis en brood’ word hy dodelik siek. Neelsie jaag hom die stuipe op die lyf en as die dokter hom wil opereer, slaan hy die kêrel ‘dwars oor die wastafel’ en vlug na die plaas. By sy terugkoms begin die spokery met sy buurman Makpaatrie oor die waterlei-beurt. Steekbaard, die ou plaashond, bevlieg die Skotsman, want hy reken: ‘'n Vroumens met 'n lang rooi snorbaard en rokkies bokant die kaal knieë - nee, soiets moenie wees nie.’ En hy veroorsaak nog meer moeilikheid deur 'n slagting onder die Skot se ‘uitheemse soorte bog-ongedierte’. Die anderkantse buurman was ‘Ja-mes Wénderbaail’. Miesies Ja-mes gee Soetlief 'n kursus in dorpse beskaafdheid, maar oom Stoffel hou sy lyf nog altyd takhaar. Die onderhoud tussen hom en Miesies Ja-mes is 'n meesterstuk van vlymende satire. Soos Langenhoven die verengelste Van der Byl-familie geteken het sal hulle bly lewe in ons letterkunde. Hier is hy werklik 'n ‘virtuoos van het sarcasme’. Neelsie se joernalistieke ervaring kom oom Stoffel te pas as hy die | |
[pagina 488]
| |
Taaims-vaatdoekie aan flenters skeur en die hele redaksie met sy karreekierie deurloop. Die Progressiewe Hollandse predikant word ook ongenadig geroskam. As Neelsie met 'n vernuftige varkeberekening bewys, dat oom Stoffel koninklike bloed in sy are het skaam die ou hom bitterlik. ‘Ek het gedog my peddekrie was skoon’! Dit is die ou Boeretrots wat met al sy veragting van uitheemse titels hier opflikker. Engela se klererekening bring vir Neelsie ‘in die verknorsing’ en dit gee aanleiding tot 'n humoristiese hofsaak. Die gedig wat hy in die tronk maak, het egter onder sy verdrietige stemming gely. ‘Die dorpse duiwels se naam is legio’ en in die loop van die verhaal kry meer as een 'n goeie raps onder oom Stoffel se kierie. Dit word 'n deurlopende veroordeling van alle nuwe boggedoentes, van die ‘met blink klatergoud-beslane doodkis’, die ‘Mayoral Sunday’, die ingevoerde Engelse honde tot die vrot perskes, pere en appels met fensie-name en fensie-wurms, om maar 'n paar te noem. Oor alles moet hy sy takhaarwysheid lug, en as hy nie te kwaad word nie, laat hy ons glimlag oorslaan in 'n onbedaarlike skaterlag. Al die nuwerwetse verspotterigheid word met die ou plaaskierie goed deurgeloop. Dan kom egter ‘'n groot versoening.... my ou teëparty is almal bekeerd; wat my vyande was is vandag my vriende’ (p. 136). ‘Soos met 'n towerslag is ons gevoelens teen mekaar verander en van onverdraagsaamheid tot liefde oorgegaan. Makpaatrie en Broes is nie meer uitlanders nie; hulle is Afrikaners.... Op die ent van vergaderings en konserte sing ek God save the King uit volle bors....’ (p. 67). Die groot versoening het nie alleen van die Engelse Jingo's Afrikaners gemaak nie, maar ook die Afrikaner-Jingo's bekeer (p. 86). Voortaan werk oom Stoffel saam met Miesies Ja-mes by die verkiesings. Maar die kastige ‘versoening’ is juis die toppunt van alle ironie! Oom Stoffel gee homself sy eie doodsteek! Hy het die teëparty so ongenadig gekneus en gelooi, dat ons voel dat húlle nooit ofte nimmer met hom kán saamwerk nie. Hoe moet ons dan die psigologiese raaisel van die versoening verklaar? Delila-Soetlief het die ou takhaar se baard afgeskeer! Nie alles nie - hy het nog heelparty van sy ou swaap-nukke - maar Soetlief ‘knip elke oggend (s)y bokbaardjie vir (hom) met die skêr reg volgens die nuutste S.A.P.-mode’. En al die tyd verbeel hy hom, dat Soetlief en sy ou vyande ‘aan (s)y kant kom staan het en saam met (hom) voel vir die beginsels en ideale, wat (hom sy) lewe lank besiel het....’! So kom daar 'n vlymende politieke ironie in die boek. En dit is 'n raak hou, omdat Langenhoven dit reg gekry het om die ou takhaar homself te laat veroordeel. ‘If you detect the ridicule, and your kindliness is chilled by it, you are slipping into the grasp of Satire. If instead of falling foul of the ridiculous person with a satiric rod, to make him writhe and skriek aloud, you | |
[pagina 489]
| |
prefer to sting him under a semi-caress, by which he shall in his anguish be rendered dubious whether indeed anything has hurt him, you are an engine of Irony.’Ga naar voetnoot1) Die ‘satiric rod’ was oom Stoffel se kareekierie; die ‘semi-caress’ het van Soetlief gekom. ‘The foppish irony fretting to be seen, and the irony which leers, that you shall not mistake its intention, are failures in satiric effort pretending to be treasures of ambiguity’Ga naar voetnoot2). Omdat Langenhoven so goed daarin geslaag het om ook hierdie fout te vermy, daarom sal die satire ook vir later tyd sy oorspronklike frisheid behou, wanneer die politieke koalisie daarin gehekel, al lank reeds tot die geskiedenis behoort. Hy het self die grootste gedeelte van oom Stoffel se ervarings deurleef en kon die oubaas teken in 'n stemming van vergewende spot. Sy humor is soos Höffding sê ‘das Gefühl des Lächerlichen auf Grundlage der Sympathie’. Al is hy vandag oom Stoffel se politieke teenstander, hy het die ou bondgenoot nog lief. ‘Der Humor trägt die Versöhnung im Gemüte. Er unterscheidet sich von dem Witze, dasz er an den Dingen mit denen er spielt einen innigen Herzenanteil nimmt, und dasz die Lust des Lachens ein inniges Mitgefühl der Rührung für das Verlachte begleitet und durchklingt.’Ga naar voetnoot3) Dié simpatie behoort Langenhoven in staat te stel om ook die langsame groeiproses van die versoening in oom Stoffel se gemoed uit te beeld. Oom Stoffel word ons voorgestel as 'n ongeletterde takhaar. Sagmoedige Neelsie, sy neef, skuld hom 'n klompie geld en die moet sy spelling en interpunksie verbeter. Dat Neelsie die Akademie-spelreëls op kritiese wyse toepas - daaroor sal weinig hom seker berisp; maar van die kommas het hy seker 'n goeie honderd vergeet. ‘Inhoud woordekeus en styl’ - alles is van oom Stoffel. Hoe goed Neelsie hom ingeleef het in die psige van die ou takhaar blyk uit iedere pagina. Oom Stoffel word vir ons 'n lewende persoonlikheid. Hy redeneer met die egte boere-logika. ‘Soetlief het rooihare. Met 'n rooihaar-ding - of jy hom ruil of koop of aanteel of trou; hoé jy hom ook kry - steek jy jou in 'n waag.’ Dié stelling bewys oom Stoffel deur sy ervaring met vosperde. ‘Onder al.... die klomp was maar een goeie. Nou kan die leser by homself uitsyfer wat die kanse is wanneer 'n man 'n rooihaar-ding aanskaf.’ Dit is 'n raak psigologiese uitbeelding, wat ons direk tref deur sy egtheid. Ook oom Stoffel se gesukkel om die hoe en die waarom van al die dorpse instellings en gewoontes te verstaan is goed weergegee. ‘Hoe dit uitwerk weet ek nie en Neelsie kan my dit ook nie uitlê nie.... Waarom kan die Engelse kerk my kerk vat en hom uit 'n blote dorp optel en in 'n city neersit?’ Dit is deur sulke trekke, dat oom Stoffel lewendig voor ons kom staan. Hy bly nie in die boek nie. Die dorpelinge het straatlampe, ‘om hulle | |
[pagina 490]
| |
op hulle pad hel-toe te verlig.’ Die dokter ‘kap met die punte van sy vingers oral oor my bors en my maag rond nes 'n houtkapper aan 'n vrot wilgerboomstam.’ ‘Waarom sou ek daardie ou koeie uit die sloot opgrawe en aan hulle dooi beendere kou en gallamsiekte kry?’ ‘Ou Ja-mes wat anders so suinig is dat hy 'n vlooi sal afslag en dan die soutkorreltjie viermaal middeldeur maak om die vel in te pekel.’ Uit sulke en tallose ander voorbeelde blyk hoe diep Langenhoven ingedring het in oom Stoffel se gedagtewêreld. Oom Stoffel is 'n afsonderlike persoonlikheid. Hy leef, en hy leef sy eie lewe. Hy praat ook sy eie taal, maar wanneer hy skryf, dan herken ons af en toe Neelsie se gladdigheid, regsgeleerdheid en humor. Opvallend is dit nie, maar ons voel dit tog in sinne soos die volgende: ‘Maar toe die ou weer met my oor die muur aan 't raas gaan, beskuldig ek hom dat hy met vrou en kinders en volk, en met die medepligtigheid en korrupsie en kollusie van ou Broes Dekstrooi, my stelselmatig van my water besteel.’ Só kan 'n ou takhaar nie skryf nie. ‘Ek het geen rede om te dink dat oom Stoffel Multatuli lees nie,’ sê Sagmoedige Neelsie (p. 83 voetnoot). Ons ook nie, maar vir Neelsie self moet Multatuli in baie opsigte 'n simpatieke skrywer wees. Fonkelende vernuf, bytende sarkasme, 'n voorliefde vir paradokse en soms ook vir ou-testamentiese wendings, dit en nog meer het Langenhoven met Multatuli gemeen. Ook sy spellingopstandigheid en afkeer van ‘hooggeleerde akademiese here’ en deskundiges herinner ons aan Multatuli. ‘Die geleerde mense is alleen geleerd - die verstandige mense is ongeleerd.’ ‘Die land wemel van skitterende deskundiges’ (Die Burger, 14 Aug. 1922). En dat hulle self so weinig presteer en net ‘die verstandige mense’ se werk wil kritiseer - dit steek Langenhoven in die krop. Is dit nie of ons Multatuli se uitdaging hoor aan die ‘hooggeleerde Muurling’: ‘Laat zien wat gij voor den dag brengt, gij.... geen doctorandus meer, maar doctor, leeraar! Gij, geen doctor meer, geen leeraar meer, maar hoog-doctor, hoog-leeraar, leeraar van doctoren, doctor van leeraren, opperleeraar, opperdoctor!’ (Idee 279). ‘Komäan, hoog-geleerden en zeergeleerden, lever eens wat volkeren-wijsheid aan 't volk dat uwe wijsheid in huur heeft, en betaalt!’ (Idee 281). Sou Langenhoven hom nie met Multatuli vrolik maak nie oor ‘den armen speciaal-professor die gestruikeld is over 'n speciaal eigenschapje van 'n speciaal-atoom zijner specialiteit’? Ons gun hom die plesier, as hy maar onthou dat 'n kunstenaar nog iets anders is as 'n hooggeleerde.Ga naar voetnoot1) En ons lag saam met hom | |
[pagina 491]
| |
oor ‘taal- en spelling-grille’ as hy net nie in ernstige letterkundige werk daaroor peuter nie!Ga naar voetnoot1) |
|