Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekendMatteo en Leonardo (1933).In die titelverhaal word die gewetenswroeging van twee moordenaars goed geskilder deur hul onrustige en vreesagtige houding. Deur gebrekkige inlewing ontstaan daar onwaarskynlikhede in die vertelling (b.v. waar die lamp omval) maar as geheel beskou is dit treffend van uitbeelding. Uit So lyk dit aan die Buitekant blyk, dat selfs die onaantreklikste mens dikwels 'n boeiende lewensgeskiedenis het, en dat onder 'n lelike uiterlik soms 'n mooi siel lewe. Hierdie eensame vrou leef in die verlede, want die twee mans wat sy liefgehad het, is haar ontneem. In die onsimpatieke omgewing van die losieshuis vind sy eindelik iemand aan wie sy die groot smart van haar lewe kan meedeel. Van Reenen se Skiettog vertel van 'n jong man wat sy lewenslus verloor onder die geestelike druk van die verlede. 'n Toevallige gesprek wek weemoedige herinneringe, en selfs 'n aantreklike nooi kan Van Reenen nie red uit die wurggreep van sy herinneringe nie. In Kamp se hart leef daar 'n groot jammerte vir die ongelukkiges, die teleurgesteldes. Hy speur die verborge leed van eenvoudige siele na en toon ons hoe hul lewensgeluk verbrysel word deur herinneringe uit 'n smartvolle verlede, deur 'n vergeefse stryd teen die mag van 'n gewoonte, die ontrou van 'n geliefde, die beperkings van hul eie karakter. Hy verdiep hom in die smart van 'n bywonertjie wat deur 'n onbereikbare liefde tot innige tederheid geroer word; hy teken die kronkelinge van die swaksinnige se gebrekkige verstand, die sielsverlatenheid van die straatswerwer, wat tevergeefs hunker na 'n nuwe begin, die wroeging van die moordenaar. Kamp het 'n goeie begrip van die vereistes van die kortverhaal en hy bereik dan ook soms 'n goeie effek deur gekonsentreerde beknoptheid. Deur uitstekende gedagtepraat en ontdekkende dialoog leer ons sy mense ken. | |
[pagina 372]
| |
Dit ontbreek hom egter nog aan dié diepte van lewensvisie wat hierdie mense tot onvergeetlike figure kan omskep. Hierdie gebrek word ook geopenbaar deur sy styl, wat selde bokant die konvensionele uitstyg, en nog dikwels ontsier word deur gebrekkige sinsbou, Anglisismes en taalfoute. | |
Vrugbare Aarde (1936).In vier van hierdie verhale is liefde die hoofmotief. Gouws, wat ná die dood van sy ouers jare lank geswoeg het, staan op die punt om sy lewensideaal te verwesenlik deur 'n huwelik met Hettie. As hy sy belowende oes veilig binne het, kan hy haar gaan haal. Hy bestel 'n handleiding oor welsprekendheid en bou lugkastele oor die vername rol wat hy in die maatskappy gaan speel. Maar die sprinkane verniel sy oes en Hettie gee die voorkeur aan 'n dorpsgas. By sy tuiskoms van die mislukte vryery word hy begroet deur die moedelose jeremiades van Gert Ferreira, 'n onbenullige klerkie, wat hom verbeel dat hy 'n boer is: ‘Ja, neef Jan, ons is verlore, totaal verlore.’ Maar die hulpeloosheid van hierdie onnosele papbroek, wat kerm oor die verlies van 'n armsalige paar sakkies mielies en geen die geringste benul het van wat sy vriend eintlik verloor het nie, stel Gouws in staat om homself weer in die volle krag van sy ou staatmakernatuur op te rig. ‘Dis te veel vir Gouws, hierdie komieklike verskyning. Sy oë versag, 'n wasige glimlag verlig sy trekke. Hy slaan Ferreira op sy skouer. ‘Ons is nog nie verlore nie, maat... Ons kan nog 'n oes inkry.’ So herwin hierdie stoere werker sy lewenslus deur die sagte glimlag van die humor wat hom met sy lewenslot versoen. Die volgende môre is Gouws op die akker: ‘“Homan! Witlies!” 'n Sweepslag kraak en weergalm; stadig sak die ploegskaar weg en rol die groot vet sooie om en om.’ Suiwer laat Kamp die forse gestalte van Gouws voor ons oprys. Mooi is Gouws se houding teenoor die ootmoedige Ferreira, wat hom amuseer deur sy wil-ook-boer-wees-wysheid. Vol teerheid is sy hart vir die suster wat saam met hom geswoeg het. Bedags, in sy mielielande, droom hy oor die toekoms en saans vertolk hy die verlangens van sy haastige hart op sy kornet. As hy na die nooi ry, staan hy regop in die kar ‘soos 'n Romeinse soldaat op sy strydwa’. In sy selfversekerdheid slaan hy weinig ag op die waarskuwing van die huisjong wat beskroomd praat van 'n mededinger. Maar later bekruip die twyfel tog sy hart, want hy ondervra die onderwyser oor die raaiselagtige van die vrouenatuur. As Hettie hom afsê, kniel hy voor haar en pleit hartstogtelik vir sy lewensgeluk. Hoe duidelik begryp ons nie die hele situasie nie wanneer ons Gouws deur Hettie se oë sien: ‘Sy haat hom, sy haat sy stomperige gesig, sy haat sy geel gelaats- | |
[pagina 373]
| |
kleur, die bruin nek wat lyk of dit nie gewas is nie, sy haat sy vaal klere, die groot growwe skoene met hul hakke boontoe.’ Die fyn dorpsmeneertjie het met sy snyerspak en lakskoentjies, hierdie groot liefde van die bonkige boer ydel gemaak! In Die Besoek kry ons die enigsins ongewone motief van 'n troue eggenoot wat die hartstogtelike liefde van 'n aantreklike nooientjie opsy stoot. Annapiet bring 'n hele beroering teweeg in die stille huishouding, en Hendrina maak 'n patetiese poging om die liefde van haar man te behou. Sy gaan heimlik na die apteek om ‘medisyne’ te koop, bewerk haar gesig met skoonheidsmiddele, en trek haar kisklere aan. Maar Hendrik, wat nooit een oomblik weifel nie, kalmeer haar: ‘Gaan nou huis-toe, my hartlam. Was al daardie goeters af. Dan is jy weer my eie, liewe vroutjie.’ Die meesterlike tegniek waarmee Kamp hierdie wedstryd tussen die twee vroue uitbeeld, dwing bewondering af. Sonder oorbodige uitweidings behandel hy dit in 'n vlug tempo. Daar is geen sielkundige uitrafeling nie, maar deur die naakte, beknopte skryftrant, sien ons alles vlak voor ons oë gebeur. Kort en vinnige sinnetjies bokspring oor die bladsye, en die beweeglike plastiek hou ons aandag elke oomblik geboeid. Kamp het veel geleer van die skrywers van die ‘nuwe saaklikheid’. Goed vertel is die vermaaklike verhaal van Gerhardus wat ewe spoggerig Johannesburg-toe gaan om vrou te haal, met die kous op die kop terugkeer en dan maar weer inkruip by sy ou plaasnooi. Minder geslaagd is Maurits en Die Testament, waarin die verhouding tussen vader en kinders die hoofmotief is. Maurits raak as gevolg van sy opvlieënde humeur, van al sy kinders vervreemd en moet in sy ouderdom eensaam agterbly op die plaas. Hierdie verwyderingsproses word deur 'n opeenvolging van goed uitgewerkte toneeltjies geteken. Uiteindelik ontwaak die besef dat sy liefdeloosheid die oorsaak van al sy ellende is. Sy veranderde insigte laat hom die bywonergesin meer Christelik behandel, maar ook by hulle kan die vereensaamde weinig troos vind. Die verhaal breek stomp af nadat hy ook die bywoners weggejaag het van die plaas. Die omgekeerde verhouding vind ons in Die Testament waar die afgeleefde blinde gesinshoof geterg word deur die ondankbaarheid van sy kinders. Die onverkwiklike kibbelary oor die erfnis is wel lewendig geteken, maar ook hier laat die enigsins onduidelike slot die leser onbevredigd. Hierdie relaas van verbitterde familietwiste word nie gedra deur 'n besielende gedagte wat daaraan 'n diepere betekenis gee nie. Afgesien van hierdie tekortkomings is Vrugbare Aarde ongetwyfeld 'n baie lesenswaardige boek, waarin Kamp se verteltalent so buitengewoon mooi ontwikkel het dat dit skone verwagtings vir die toekoms wettig. |
|