| |
9 Geboorte van die Termietsamestelling
Tot hiertoe het ons die termiete en die miershoop wat hulle bewoon, altyd van buite die miershoop self aanskou. Ons sal nou vir die eerste maal die miershoop, die termiete, hulle groei en lewensloop sover moontlik van binne die miershoop gadeslaan.
Elke tree wat ons hier gaan neem, sal 'n verrassing wees: ons sal baie dinge van naby sien wat ongelooflik is. Ons termiet verskil in alle opsigte van alle aan ons bekende insekte. Morfologies is daar weinig in die natuur wat aan haar herinner. In ontologiese ontwikkeling verskaf sy 'n gedurige verrassing; wat filetiese ontwikkeling betref, moet jy in die see soek (soos die leser reeds gesien het) na 'n analoë sirkel. Die entomoloog wat vir die eerste maal met ons termiet kennis maak, sou geregtig wees om te veronderstel dat sy 'n immigrant van 'n ander planeet is.
| |
| |
Om slegs een ding te noem - die vlerke: waar in die natuur sal jy 'n organisme kry wat vrywillig, so te sê, die magtigste van alle wapens in die bestaanstryd - vlerke - gedurende die individuele lewensloop prysgee? Die verlies van vlerke is 'n tipe, 'n beeld van die verrassings wat die termiet ons gedurig verskaf.
Ons gee hier enkele afbeeldings van die klasse inwoners van 'n Transvaalse termietnes. Wie sou ooit kan dink dat hulle die kinders van een vader en een
A - (Trinervitermes, vergroot.) Geëtioleerde, pas uitgebroeide kleintjie. Kleur: melkwit. Alle klasse en albei geslagte teenwoordig. Geslagsdele rudimentêr; verdwyn met onwikkeling. Volstandig blind. In sommige individue is daar baie rudimentêre, atavistiese kleurkolle in plaas van oë, wat later verdwyn. In ander, weer, kom rudimentêre vlerkknoppe te voorskyn, wat nooit verder ontwikkel nie.
D - (Trinervitermes, vergroot.) Koning en koningin. Volmaakte gewone insekte, met volmaakte oë, vlerke en geslagsdele. Kleur: bruin-swart, met rooi vlekke; hoogs gepigmenteerd. Funksies: Geslagselemente in die miershoop. Gewaarwording- en bewegingsentrum van die brein.
| |
| |
moeder is? Sommige van die afgebeelde vorms het reeds in vorige artikels, terloops, vir een of ander doel hulle verskyning gemaak.
Die leser weet reeds hoe die konings en koninginne in swerms die nes uitkom: hoedat hulle moet vlieg om die seksuele lewe te ontsluit; hoe die koningin 'n sein uitstuur en hoe albei hul vlerke afbreek sodra hulle ná hul eerste en enigste vlug weer die aarde bereik. Die ontwikkeling van die vlerke is baie eienaardig. Vroeg in hul lewe kan jy in die seksuele klas van 'n nes die vlerkknoppe sien. Ná die insek vir die laaste keer vervel het en volwasse is, begin uit die vlerkknoppe die deurskynende vlerkies te groei. Hulle groei aan die knop in 'n soort balgewrig wat die wyds moontlike boog van beweging toelaat. Dit is uit hierdie skarnier dat die insek die vlerke met 'n blitssnelle beweging breek. Sy vang die vlerkknoppe met die naaste paar bene, wat vir hierdie doel gewapen skyn, skuif hulle op langs die knop totdat hulle die skarnier bereik - en daar lê die vlerke!
F - (Bellicosus, vergroot.) Koningin. Eerste stadium van tweede lyn van ontwikkeling. Funksies: Vroulike element van die geslagsdele. Dirigerende en gewaarwordingssentrum van die brein. Soos by hoër ontwikkelde diere ondergaan die vroulike element van die miershoop alleen periodieke metamorfose, en veel groter ontogenetiese ontwikkeling as die manlike.
| |
| |
As hulle afgebreek is, kan jy g'n wond van vasgroeiing vind nie; anders as wat jy by so 'n groot en belangrike orgaan sou verwag, is daar g'n bloeiende oppervlakte of punte nie. Daar moet natuurlik organiese verbinding wees; daar moet natuurlik 'n sening deurloop van die sentrale stelsel om beweging van die vlerk te bewerkstellig. Dit kan nie anders wees nie! Maar ek kry daar g'n spoor van nie en dit onmiddellik ná die vlerk afgebreek is. Dit is nog altyd 'n onuitlegbare geheim hoe 'n orgaan so ingewikkeld, wat so 'n krag uitoefen en wat so volstandig onder beheer van die insek is, so min tekens gee van organiese verbinding met die lyf. Een sekonde vlieg die insek; een sekonde later vind jy g'n spoor van die afgebreekte gevoelspier wat die krag na die skarnier gevoer het nie.
Nog iets omtrent die afbreek van die vlerke - 'n interessante veldjie van ondersoek: dit lyk baie of die insek in staat is om die vlerke kwyt te raak deur een of ander vrywillige beweging van die vlerk self. Vóór die insek gevlieg het, sal sy worstel om vry te kom as jy haar aan die vlerke hou, sonder om die vlerke af te breek. As sy die indruk van vlieg reeds weg het (ek dink een beweging van die vlerke is voldoende om die instink tevrede te stel), dan breek sy die vlerke in jou hand af. Die ondersoeker sal goed verstaan dat dit vir haar hele toekomstige lewensloop absoluut nodig is dat sy ten minste die indruk van vlieg moet opdoen. As sy dit nie doen nie, dan sterf sy. Sy kan nooit koningin word nie: die liefdeslewe is vir haar vir ewig gesluit. Maar dit het baie min nodig om hierdie indruk te wek. Soms is die worsteling om te ontvlug as sy aan die vlerke vasgehou word, genoeg om die instink tevrede te stel. Vinnige en langdurige beweging van die vlerke terwyl die insek aan 'n takkie geanker bly sonder werklike vervoer deur die lug, skyn ook soms genoeg te wees. Maar hierdie gevalle is meer in die aard van uitsonderinge; in die reël vind volstandige uitskakeling van die seksuele sin plaas tensy die insek gevlieg en haar vlerke verloor het.
Die koningin en koning is presies eenders en kan met die blote oog nie onderskei word nie. Hulle is ook die enigste volmaakte insekte in die nes. Hulle het twee volmaakte oë en ofskoon hulle in stikdonker gebore is en grootgeword het, is hulle hoogs gepigmenteer. Swart, bruin en tekens van rooi verenig in kleurmengsels wat nooit weer in hulle kinders verskyn nie. Die seksuele organe is volmaak. Al wat onverwag swak is, is natuurlike beskerming. Daar is waarskynlik g'n insekte in ons land wat so baie natuurlike vyande het nie. Die leser het waarskynlik al opgemerk dat al ons regte miersoorte manhaftig helder oordrag rondswerwe. Alleen die reptiele (paddas, akkedisse, koggelmanders, wat almal smaak-blind is) vang hulle. Hulle beskerming bestaan uit wrange sure wat vir dié doel alleen afgesonder word en, dink ek, ook 'n onverteerbare pantser.
So doeltreffend is hierdie beskerming dat verskeie kewers (wat anders onbeskermd is) groot swart miere na-aap, so volmaak dat die meeste diere bedrieg
| |
| |
word. Die ongelukkige termiet, daarenteen, word gretig geëet deur alles wat lewe. Dit is 'n wonderlike natuurstudie om in onbewoonde Midde-Afrika die vlug van die miere te aanskou. Binne 'n paar minute krioel die oppervlakte van die aarde met lewe; insekte en diere storm op die fees toe. Diep uit die aarde kruip paddas, slange, koggelmanders en akkedisse. Hoe hulle almal die tyding kry, weet ek nie. Die skilpad selfs word wakker en kom jaend te voorskyn. Allerlei insekte en ander goggas - reuse-krieke, kewers, oorkruipers, spinnekoppe, skerpioene - wemel deur die gras. Almal het 'n uitnodiging gekry na die groot maaltyd. In die water, net onder die oppervlakte, loer en wag talle visse
E - (Bellicosus, vergroot.) Substituut-koningintipe. Gelyksoortig met vorige vorm, behalwe dat die vlerke nooit ontwikkel nie. Funksies: Word in sommige gevalle tydelik gebruik in plaas van koning en koningin. Albei geslagte teenwoordig.
en waterskilpaaie. Uit die bosse sluip jakkalse, katte, meerkatte, ape, bobbejane; selfs die vorstelike tier kom gapend maar geïnteresseerd te voorskyn. Daar is 'n tydelike wapenstilstand - behalwe teen die onfortuinlike vlieënde termiete. Dit lyk of hulle moet vlieg net om te sterwe. Die toeskouer verstaan waarom die natuur hulle in sulke ontelbare miljoene produseer, nieteenstaande elke paar die bron van nog tallose miljoene gaan wees. Hy het elkeen nodig, want die slagting is ontsettend. Ook verstaan die toeskouer die jaende haas wat die koninklike paar besiel sodra hulle gevlieg en die vlerke kwytgeraak het. Die enigste beskerming wat hulle aanvaar, is om ná skemer te vlieg. So ontkom hulle ten minste aan die dagvoëls. Maar dit gebeur nie altyd nie. Baiemaal vlieg hulle te vroeg en selfs in die duister vergaar die valke by duisende. Die nagvalkies, uile en ander nagvoëls sit die fees voort tot in die donkerste ure van die nag.
| |
| |
Die leser sal dadelik insien dat daar slegs 'n verskuiwing van natuurlike beskerming plaasgevind het. Al wat die enkeling-koning en -koningin in beskerming verloor het, word meer as vergoed deur die natuurlike beskerming van die saamgestelde dier - die miershoop. Sodra hulle die samestelling gevorm het, verskyn hulle nooit weer in die sonlig nie (behalwe waar wonde, ens., dit noodsaaklik maak, en dan selfs nooit in getalle nie). Hoe ver hulle ook van die nes moet gaan om kos te haal - en dit is soms honderde tree - word na alle rigtings tonnels onderaards gemaak, en ook die kos waarmee hulle besig is, word tydelik met sel- en aardwerk bedek, sodat dit selde nodig is vir 'n enkele een om sy kop uit te steek.
En soos dit met natuurlike beskerming is, so is dit met alle ander psigologiese eienskappe en dryfvere: alles word van die individu op die gemeenskap verskuiwe. Die enkele termiet is gevoelloos. Daar is vir hom nie meer pyn nie. Die leser sal later sien hoe ons dit bewys. Die besering aan 'n groep enkelinge word deur die gemeenskap as pyn gewaar. Bietjie moeilik om te verstaan? - Maar dit sal alles duidelik gemaak word. Dit is net so met ons. Die lewer voel g'n afsonderlike pyn nie. Dit is die samestelling wat die wond aan die lewer as pyn gewaar.
Ook honger en dors voel die enkele termiet nooit. As die kos skaars word en die water opdroog, word die lyding, as sodanig, alleen in die paleisholte gevoel.
Die magtigste dryfveer van almal, die seksuele, bestaan vir die enkeling nie. Van dié ontsettende natuurlike las is hy vry. Die enigste element in die hele lewensloop van die termiet wat na eiebestier lyk, is die kos- en wond- of gevaarseine wat deur die soldate gemaak en deur die werkers beantwoord word. (Hieroor later.) Maar dit sal later duidelik word dat selfs dit hoegenaamd g'n bewys lewer dat die termiet 'n afsonderlike siel besit nie. Buiten outomobiliteit is daar g'n skyn van 'n afsonderlike siel nie. Alle werklike sielsbeweging straal van die paleisholte uit. Die seine, selfs op die uithoeke van die nes, eindig onmiddellik ná skielike vernietiging van die paleisholte, selfs waar daar volslae en langdurige afsluiting van so 'n uithoek deur metaalplate was. Dit is voldoende bewys, myns insiens, dat selfs die groepseine uit die paleisholte (die brein van die miershoop) gedirigeer word; maar in die loop van ons ondersoek sal baie ander bewyse van hierdie algemene beginsel opkom. Hulle sal voortaan raakgesien word sonder dat hulle as sodanige juis aangestip word.
Die koning en koningin, diep in hul stikdonker holte, verenig in hul gesamentlike personae twee wyd verskillende funksies - die mentale en die geslagtelike. Die paleisholte is 'n analoog van die skedelholte in hoër diere. Die materiaal self herinner aan die brein van soogdiere. Al wat geheel en al ontbreek, is die gevoelspiere wat in die liggaamlike ekonomie van meer ontwikkelde diere so 'n groot rol speel. Ná gewaarwording van die feit dat die miershoop 'n afsonderlike dier is, sou die ondersoeker stellig verwag om ten minste iets te kry wat
| |
| |
na gevoelspiere lyk. 'n Weinig nadenke sal spoedig die feit opklaar waarom niks van dié aard in die miershoop ontwikkel het nie. Die groot funksie van gevoelspiere by die mens, byvoorbeeld, is om beweging (plekverandering) te bewerkstellig en om gewaarwordings van die uitwendige sinorgane na die sensorium aan te voer. Aan die ander kant is daar tallose bewegings en werkinge in die menslike liggaam wat sonder stoflike verbinding deur die brein gedirigeer en beïnvloed word. Ons het tevore reeds gewag gemaak van hierdie invloed-op-'n-afstand wat oral in die liggaam sy verskyning maak. Die werking en beweging van die bloedliggaampies, byvoorbeeld, word deur so 'n onstoflike invloed bewerkstellig, asook die spesiale funksies van al die groot organe. Die invloed wat uitstraal van die koningin is iets geheel en al onstofliks en presies gelyksoortig met die invloed-op-'n-afstand wat so baie funksies in hoogs ontwikkelde organismes bewerkstellig. Later sal duidelik word - wanneer ons eksperimente begin beskrywe - dat die geheimsinnige invloed van die koningin deur alle gewone materie dring. Dit gaan in elk geval maklik deur die dikste sinkplate. Afstand verminder blykbaar die krag van die invloed.
Dit is asof die natuur die koningin net ná haar kortstondige vlug toespreek: ‘Beminde, jy gaan baie verloor. In plaas van hierdie gloed van sonlig, gaan jy jou verdere lewe in stikdonker slyt. In plaas van die burgerskap van die wye veld, in plaas van die vryheid van die hoë lug, van berge, bosse en vlaktes, gaan jy voortaan in die nouste kerker opgesluit word, en selfs in dié enge noute sal jy g'n haarbreedte kan verroer nie. Die jaarlikse terugkeer van die liefdestyd; die soek en kry van jou beminde, die bou van jou huis en al die heerlikhede aan die periodieke sielstorm verbonde, gaan ek jou ontneem. Maar in plaas van dit alles, gaan jy 'n baie groter en wonderliker ding word. Ofskoon jy 'n roerlose gevaarte gaan word, in 'n lewende graf verborge, gaan jy die sensitiewe middelpunt wees - die voel, die dink, die sien - van 'n lewe duisende en nogmaals duisende keer groter en grootser as jy ooit sou gewees het. En, bo alles, ek gaan jou beskerm. Al die duisende gevare, die miljoene vyande wat jou vorige vrye lewe van alle kante bedreig het, sal, sodra jy in jou nuwe lewe aangeland het, tevergeefs aanvallend teen jou pantsering opkom.’
Dit was die noodsaaklikheid van beskerming wat die samestelling van die miershoop ontwikkel het. As enkelinge is die koningin en al haar onderdane die swakste, die mees bedreigde van alle insekte. As enkelinge in 'n onbeskermde omgewing, sou die ras nooit verduur het nie. As 'n saamgestelde dier, is die beskerming van die miershoop byna volmaak. Wonde van buite, verpletterende aanvalle wat die hele sigbare liggaam vernietig, raak haar lewe nie in die minste nie. Alles gaan maar weer voort asof niks gebeur het nie. Die wonde word herstel. Die paleisholte, die koningin self in haar gedaante as brein van die samestelling, is net so goed beskerm as die skedelbedekte brein van die
| |
| |
mens. Daar is weinig vyande wat die lewe van die koningin ooit ernstig bedreig. Een van die grootste is die erdvark; onder die gevaarlikste is groepe kewers wat somtyds 'n verswakte miernes uitroei. In die laaste geval is die oorsaak en gevolge in alle opsigte gelyksoortig met die inval van patologiese organismes by die mens. Die miershoop word siek en gaan dood.
Het die koningin te duur betaal vir die beskerming? Die natuur beantwoord die vraag anders as ons - of as miskien die koningin - dit self sou beantwoord. ‘Hoe veel of hoe min sy betaal vir die voorreg van my genadige beskerming,’ sê die natuur, ‘hoeveel vreugde sy verloor, met hoeveel ellende sy bedeel word in haar nuwe lewe, is nie van die minste belang nie. Wat traak dit my met die enkeling? Die ras is veilig, seëvierend, onuitdelgbaar! Daarvoor is g'n prys (wat die enkeling altyd moet betaal) te hoog nie.’
Sien die leser waarom die ontwikkeling dié eienaardige koers geneem het om ten alle koste die onbeweeglikheid van die koningin te verseker, om haar in 'n sel op te sluit en haar liggaam uiteindelik alle selfbeweging te ontneem? Hoe meer sy die brein van die samestelling word, hoe nodiger is dit om plekverandering binne die samestelling te verhinder. Is dit nodig om die sielkundige en fisiese redes aan te dui? Ek dink nie. Die verdubbeling van funksies - verstandelik en seksueel - maak die posisie 'n weinig ingewikkeld. Beweging skyn byna 'n integrerende deel te wees van alle seksuele funksies in die natuur. Daar is 'n bepaalde konflik. Wonderlik hoe die ontwikkeling dit oplos! Ek sal hieroor nie uitwei nie. Die natuurkundige leser sal dit insien en selfs die oningewyde sal op die spoor kom as hy hierdie verdubbeling van funksies in die termietkoningin vergelyk met dieselfde baie minder ontwikkelde kompleks in die by-koningin. In haar bied die seksuele funksies nog sterk kop teen die orige psigologiese ontwikkeling en die gevolg is dat die gevaar van die byekoningin op haar huweliksreis die gevaar is van die hele nes. Ná die samestelling gevorm is en ná sy onbeweegbaar gemaak is, word die termiet-koningin nooit weer aan so iets blootgestel nie.
Die menslike toeskouer wat die vlug van die koningin nagaan, wat die blye samekoms van die twee geslagte aanskou het - en miskien opgetree het as gebieder van die Noodlot en 'n bietjie gehelp het waar dit gelyk het of dinge verkeerd loop! - die toeskouer gee 'n sug van verligting as hy die bedreigde paar uiteindelik in die beskermende skoot van Moeder Aarde sien wegsak. Nou, ten minste, is hulle veilig ... Helaas, nog nie! Daar is nog een groot gevaar wat as 'n fronsende Skikgodin die wording - die barensnood - van die nuwe saamgestelde dier gadeslaan. In ons land voer hy 'n genadelose uitsoeking. Ons noem dit Droogte. Die termiete moet water hê, en weer water, en nogmaals water: negentig persent van hul liggaampies bestaan uit water en die grootste deel van hul arbeid is die verkry en verskaf van water, waarvan die miershoop net so afhanklik is as 'n warmbloedige dier. Die koning en koningin moet dadelik water
| |
| |
kry. Hulle kry dit altyd van klam aarde. Daarom vlieg hulle net ná swaar reëns - dit, ten minste, word van hulle deur die natuur verwag. Maar hulle maak soms 'n fout. Hulle eerste sorg is om 'n orgaan te fabriseer vir die uitbroei en voeding van die eerste werkers en soldate. Daarvoor het hulle 'n groot en gedurige voorraad water nodig. As die water in hierdie eerste tyd opraak, dan is dit klaar met alles - 'n einde aan hulle en aan die samegestelde dier. Hulle werk altwee vurig aan die maak van skagte, altyd in die rigting van klam grond, van water. Meestal gaan hulle regaf: die begin van wat later die wonderlike diepteskag word (in droë streke naamlik). Hier en daar in die eerste skagte maak hulle (of kry hulle natuurlike) holtes in die aarde en daarin mak hulle die eerste termiettuine. ‘Tuine’ noem geesdriftige waarnemers dit in die geval van die regte miere. Die termiet gaan op dieselfde wyse te werk, en daarom sal ons die term tuin maar behou. En dit lyk baie na ons eie landbou. Eers word die grond sorgvuldig voorberei. Dit bestaan uit fyngekoude en half-verteerde plantstof, meestal droë hout en grasstingels. En dan word water aangedra, baie water, totdat die tuingrond met klammigheid deurtrek is. Beide die koning en koningin werk onophoudelik. Hulle rus nie vir een sekonde nie. Hulle slaap nooit - dag of nag. Maar dit is die laaste keer dat dit nodig sal wees om hulle hande in koue water te steek. Nooit weer gaan hulle werk nie, want die funksies wat hulle van nou af gaan uitvoer, kan nouliks werk genoem word. Uiteindelik is die eerste tuintjie klaar, diep in 'n holte van een van die skagte. Daar moet g'n dunste ligstraal ooit die tuin bereik nie. Alles gebeur in pikdonker. Die eerste tuin bestaan uit 'n koekie sel- en aarwerk, en as dit alles klaar en goed klam is, dan beplant die twee termiete die grond. Hulle plant die saad van 'n eienaardige paddastoel wat 'n enorme rol in die
toekomstige lewe van die miershoop speel en wat derhalwe die noukeurige aandag van elke ondersoeker verdien. Ek sê hulle plant die saad. Ek kan dit egter nie as 'n feit konstateer nie. Maar dit lyk baie so. Hulle loop op die klam koekie rond, en binne die kort tydjie wat vir ontwikkeling nodig is, verskyn die paddastoel oor die hele oppervlakte, binne en buite, in die vorm van 'n wit skimmel. Ek het self in die monddele en aan die pote van vlieënde miere stukkies hylae en spore (saad) van die paddastoel gekry net ná hulle die geboorte nes verlaat het. Dit lyk of hulle met opset die saad saamdra om in hul nuwe nes te plant. Aan die ander kant is dit lig moontlik dat die beplanting blote toeval is. Jy kry ook spore aan termiete wat niks met die tuine te maak het nie. In die nabyheid van groot termietversamelings kry jy spore van die paddastoel in alle onderaardse holtes en gange. Dit word deur water, deur lug, deur wurms en insekte vervoer. Dit is dus moontlik dat die paddastoel mettertyd vanself, sonder tussenkoms van die termiete, op die voorbereide koek sou verskyn het. Maar die termiete verrig met opset baie meer wonderlike dinge as die beplanting van 'n tuin sou wees. Derhalwe sal ons maar aanneem dat die spore met opset oorgedra word en dat
| |
| |
die beplanting met opset gedoen word. Of hulle plant of nie - oor die besproeiing en bemesting is daar geen twyfel nie. Die skag wat na die water lei, word gedurig verdiep. Tegelyk met die uitgrawing van die nat grond, word die water in die liggaam van die twee diere vergaar. Die tuin word benat en bemes met druppels helder, blink vloeistof, wat al die klasse later vir die mees uiteenlopende doeleindes gebruik.
In hierdie eerste tuin lê die koningin haar eerste eiers. Sy kan nou nog vinnig loop en werk.
Intussen gebeur daar wonderlike dinge met die paddastoelplantasie. Die twee diertjies doen iets aan die miselium van die plant wat die groei en ontwikkeling teëhou, en tegelyk begin die temperatuur van die tuin op 'n verbasende wyse styg. Die oorsprong van hierdie hitte is in die begin een van die mees verbysterende geheime van die miernes. Van die diertjies self kan dit nie kom nie. Hul liggaampies behou altyd die temperatuur van hul omgewing. Dit straal uit van die tuin, want die tuin moet as broeikas dien en moet later die hitte van die samegestelde dier verskaf. Die normale warmtegraad van 'n miernes in die paleisholte is van vier tot ses grade Fahr. hoër as die bloedhitte van die mens. Daar is min twyfel dat 'n groot deel - die grootste deel miskien - van hierdie hitte deur die sogenaamde tuine verskaf word. Dit is bekend dat daar in alle paddastoele 'n temperatuurverhoging plaasvind by rypwording van wat die saad genoem kan word. In die termiettuin word die temperatuur op sy hoogste en staande gehou deur - so lyk dit - iets wat die termiete aan die plant doen wat die groei en ontwikkeling teëhou juis waar die meeste hitte afgegee word. Die tuin is iets baie meer as broeikas en kinderkamer. Die verskaf van warmte is natuurlik 'n baie groot funksie, maar dit word die maag en lewer van die saamgestelde dier.
Deur die gedurige en vinnige metabolisme word nie alleen voedingstowwe nie, maar ook spysverteringstowwe in die plant vergaar. Onder die mikroskoop en skeikundig kan die volgende onder meer onderskei word: olie, protoplasma, glikogeen, koolhidrate, proteïde-kristalle, gom, alkoloïde en verskeie ensieme (net soos in die menseliggaam) wat gekompliseerde suikers opbreek in dekstrose en leulose, en wat gewone suikers in alkohol en koolstof omsit. Al waarvan daar geen spoor is nie, en wat natuurlik in die dierlike liggaam baie voorkom, is stysel. Dadelik sal ingesien word dat die tuin in werklikheid een of ander spysverteringsorgaan is, en later word hierdie funksies heeltemal duidelik. Die spysverteringskringloop in die termietnes werk so:
Die koning en koningin, en later die werkers, is die enigste klas in die nes wat hout en grasstingels en ander ruwe plantstof kan opkou en tot 'n sekere graad verteer. Geen ander klas in die termietnes kan iets anders as vloeistof inneem of verteer nie. As die werkers (in die eeste stadium verrig die koninklike paar die funksies van werkers) die kos tot 'n sekere stadium verteer het, dan
| |
| |
gaan dit na die maag en lewer (die sogenaamde tuine). Hier word dit verder verteer en verander deur die paddastoele en die vergaarde spysverteringstowwe hierbo genoem. Dit is alles net soos in die menslike liggaam. As die maag en lewer met die voedsel klaar is, dan word dit weer deur werkers en soldate opgeneem in die vorm van vloeistof, en daarna word dit deel van die sirkulasie. Meer as die helfte van hierdie verteerde voedsel word in bouwerk opgebruik. As 'n nuwe torinkie gehanteer word, word die hande dadelik net so klewerig asof hulle met stywe stroop in aanraking was. (Anders as met stroop, verdwyn die klewerigheid later vanself.) Onder vergroting kan gesien word hoe die werker elke klippie in sy kake omrol net voor hy dit neerlê, en met klewerige vloeistof aan alle kante smeer. Dit is vloeistof wat hy uit die tuine kry. Die waterdeel daarvan word onophoudelik na die tuine aangedra deur 'n stroom werkers wat oënskynlik net daarmee en met die beplanting belas is. As 'n diepteskag teenwoordig is, word op elke paar voet 'n holte gemaak en daarin word 'n klein tuinkoekie geplaas. Gedurende groot droogtes word die water gedurig na die diepste koekies gedra en daar word die paddastoele aan die lewe gehou. Die groot voordeel - besparing van arbeid - om hierdie plantbedekkinkies so na aan die water te hê as moontlik, is klaarblyklik. Hiervandaan word die saad aangedra na nuwe tuine of om opgedroogde tuine te herplant. Die beddinkies word nooit vir enige ander waarneembare doel gebruik nie. Anders as by die ander groot tuine, sal jy nooit babatjies op hulle kry nie.
'n Ander funksie van die paddastoeltuin skyn die afsondering van kleur te wees. 'n Donkerrooi kleurstof is uit die paddastoel verkrygbaar. Dit lyk dus asof die termiete die donkerrooi verf van hulle liggaampies uit die tuine klaargemaak kry. Die babatjies is almal geheel kleurloos, soos 'n mens sou verwag van diere wat in stikdonker gebore is. 'n Mens sou ook verwag dat hulle nooit kleur sonder lig sou kry nie, en daar hulle in donker voortlewe, is dit moeilik om die verskyning van al die briljante tinte te verstaan. Dit kom van die tuine. Die babatjies bly melkwit totdat hulle paddastoelstof begin inkry. Dan eers verskyn in hul lyfies die bloedrooi van die volwasse diertjie. |
|