D.J. Opperman
(1986)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 113]
| |
III Kaapstad
| |
[pagina 115]
| |
Hoofstuk 6
| |
[pagina 116]
| |
Uit 'n dagboek van Mei tot November 1946 praat Opperman ook van die ‘hondehok’ - 'n klein buitekamertjie - waarin hy geslaap het toe sy skoonmoeder vir die bevalling van hulle eersteling by hulle was. Hierdie eersteling is gebore op 10 Mei 1946, 'n dogter wat met die name Catherina Elizabeth na haar ouma Van Reenen vernoem is, maar wat van die begin af as Trienke bekend gestaan het. Dat hulle eersteling 'n dogter was, moes vir Opperman 'n ligte teleurstelling gewees het, want daardeur is die lyn van manlike oudste afstammelinge met die name Diederik Johannes in die familie verbreek. ‘Eerlik gesê,’ skryf hy in sy dagboek uit hierdie tyd, ek het heimlik gewens dat dit 'n seun moes wees, want ek is die sewende Diederik Johannes in direkte afstamming, met die oudste kind van die oudste kind wat altyd nog 'n seun was.Ga naar eind1 Maar in dié sakies kan 'n mens nie kies nie. Trienke is op 'n reënerige dag gebore in die Leeuwendal-kraaminrigting en van die familie het Opperman haar die eerste gesien. In sy dagboek skryf hy: Ek het haar koel nugter beskou: swart haartjies, wit velletjie, 'n vet gesiggie - het ek toe gedink, later moes ek hoor sy is nog so van die swel - en onderwyl ek na haar kyk, die dik toe-ogies, het sy begin huil: toe raak sy my waar ek nog nooit geraak is nie: ek wou saam huil, haar neem en vertroetel, beskerm. Vaderskap was vir Opperman 'n vreugdevolle ervaring, maar terselfdertyd het dit hom ook bewus gemaak van die groot nuwe verantwoordelikhede. In die gedigte ‘Negester en stedelig’, ‘Genesis’ en ‘Nagwaak by die ou man’, wat hy onderskeidelik in die April 1946-, Oktober 1946- en April 1947-nommers van Standpunte publiseer, kom die problematiek van vaderskap, die verantwoordelikheid, die kontinuïteit van die geslagte en die kringloop van geboorte en dood ter sprake. Hierdie gedigte vorm deel van die bundel Negester oor Ninevé wat hy in 1947 publiseer en waarin die ervaring van vaderskap neerslag vind. In Glen Haw het die Oppermans ongeveer 'n jaar gewoon. As baba het Trienke daar 'n massiewe infeksie gekry van die askariswurms wat op die vloer rond was. Marié Opperman het gou besef dat dit vir hulle hoogs noodsaaklik is om 'n beter woonplek te kry. 'n Ramp het hulle getref toe hulle opgebergde huisraad en besittings - waaronder silwer, breekware en skilderye van Opperman se vader - feitlik alles in 'n brand vernietig of beskadig is. Hoewel die waglyste vir huise eindeloos lank was, het Marié se trane een van die amptenare wat vir huisvesting verantwoordelik was, beweeg om 'n woonstel in Drieankerbaai tot hulle beskikking te stel. Begin 1947 het hulle in Richmondwoonstelle nr. 1, Richmondweg ingetrek. Die woonstel was op twee vlakke. Onder het 'n mens verby 'n tuintjie met 'n portaal binnegekom wat eenkant afgeskort is vir pakplek, met trappe wat boontoe gelei het na die leefruimte. Die sentrale bor- | |
[pagina 117]
| |
des was ook die eetkamer. Vorentoe was 'n dubbelslaapkamer en 'n sitkamer met 'n balkon, regs 'n groot kombuis en 'n klein slaapkamertjie. Met die gang af was die badkamer en nog 'n klein slaapkamertjie. Hierdie kamer het ook as studeerkamer gedien. As gevolg van Opperman se gewoonte om in die nag te werk, het die egpaar gevind dat dit vir albei se gerief beter was om in twee aparte kamers te slaap en te werk. Hierdie patroon sou hulle - met uitsondering van die tyd in Tamboerskloof - vir die res van hulle getroude lewe volg en dit sou op geen wyse hulle gelukkige huwelik bedreig nie. Marié wou vir haar man die mees ideale omstandighede inrig waarbinne hy as skeppende kunstenaar ten volle kon ontplooi, en daarby het sy self ook baie skryfwerk in dié jare gedoen. Met 'n pragtige uitsig op die see uit elke kamer het die woonstel in Richmondweg die Oppermans in hierdie stadium van hulle lewe uitstekend gepas en was dit vir hulle ruim genoeg, ook na hulle tweede dogter Heila Marié op 1 November 1947 gebore is. Vir Opperman was daar 'n gerieflike busverbinding na die middestad van waar hy tot by die redaksiekantore van Die Huisgenoot kon loop, terwyl Marié vlakby die ateljees van die SAUK was waar sy vir die grootste deel van hulle lewe in Kaapstad by musiekprogramme, kleuterprogramme, die vrouerubriek en ander uitsendings betrokke was. Die woonstel was ook groot genoeg om vir Tina van Reenen of Sannie Opperman te huisves as hulle van tyd tot tyd by hulle kinders in Kaapstad kom kuier het. Tina van Reenen het vir die bevalling van albei babas haar dogter kom bystaan; tydens 'n later besoek is sy in Januarie 1949 by hulle aan huis na 'n hartaanval oorlede. Met die verskuiwing na Kaapstad was Opperman ver van sy moeder en broers, maar hy het gereeld kontak gehou en bystand gebied om Louis met sy probleme te help. Na hulle vertrek uit Johannesburg het Sannie Opperman besluit om haar huis te verkoop en aan te sluit by haar dogter Liz en Jannie Theron, wat intussen 'n apteek op Sabie begin het. Met dieselfde geesdrif en deursettingsvermoë waarmee sy die bouery in Johannesburg onderneem het, was sy in staat om in Sabie te begin met 'n suksesvolle damesmodewinkel. Dirk se loopbaan het sy noulettend gevolg en alles gelees wat hy geskryf het. In Augustus 1947 was Opperman by sy moeder, suster en swaer met vakansie, onder meer om persoonlik 'n eksemplaar van Negester oor Ninevé aan sy moeder te gee, sy tweede bundel wat toe pas verskyn het en wat aan haar opgedra is.Ga naar eind2 Saam met hulle het hy vir die eerste keer die Kruger-wildtuin besoek. Soos vroeër was die weersiens van Liz vir hom aangenaam, want hulle het mekaar fyn verstaan. As oudste van die familie het hy met Jannie Theron ooreengekom dat sy jongste broer Koos, wat in 1947 in Pietermaritzburg sou matrikuleer, as leerjonge in die apteek op Sabie sou werk en daarna vir 'n kursus in aptekerswese na Kaapstad sou kom. Omdat hulle woonstel vir nog 'n permanente familielid te klein sou wees, het Opperman gereël dat Koos vir die duur van sy studie by bure inwoon en dan by hom en Marié eet. Opperman het | |
[pagina 118]
| |
die huisvesting betaal, terwyl Marié uit haar verdienste sy tafellosies sou kon bekostig. Die moeite wat Opperman in verband met Koos se studie en loopbaan gedoen het en die opofferinge wat hy bereid was om aan te gaan, illustreer in watter mate hy steeds die belange van sy familielede op die hart gedra het, selfs in 'n stadium van sy lewe toe hy feitlik dag en nag met 'n verskeidenheid van dinge besig was. Dit was vir hom 'n vreugdevolle dag om aan die einde van 1947 te hoor dat Koos die matrikulasie-eksamen suksesvol afgelê het. 'n Werklike verrassing was Koos se gedig ‘Goudstad’ wat in die 1947-uitgawe van die skooljaarblad opgeneem is: Monsterkloue met duisend
grou-graniet versteende vingers.
Wat, of eens getas, gegryp het
na iets, wat lank daar nie meer is.
Ook kom vanuit jou handpalm
'n rookwolk en gedruis:
Dit is die polsslag van die lewe,
dit is die teken van die mens.
Wat is dit waarna hul so koorsig jag?
Wat bring die klamme molsgat voort?
Dit is hul god wat hul dáár soek!
Goud en geld is hulle strewe!
Bleek en roerloos troon jou suile
oor suf verstompte mensekind;
gryns 'n spotlag oor die duine,
met jou lokaas, geel die slyk.
Opperman se reaksie op die gedig illustreer weer een van sy kenmerkendste eienskappe, naamlik hoe intens geïnteresseerd hy was in ander se skryfpogings en hoe aanmoedigend hy selfs by 'n onbeholpe gedig kon optree. Op 11 Januarie 1948 skryf hy aan Koos: En daar ontpop jy ook as 'n digter! Ek het nooit geweet dat jy ook in dié mate daarin belangstel nie! Dit was werklik 'n aangename verrassing en ek hoop jy hou vol daarmee. Van die beste digters het nooit in die kuns gestudeer nie, maar was wetenskaplikes, artse, aptekers, wysgere, e.d.m. Graag help ek jou waar ek kan. Dan lewer hy kommentaar op die gedig: Waarvan ek die meeste hou in die gedig - afgesien van die gedagte, is die beeld | |
[pagina 119]
| |
van die ‘versteende vingers’, die ‘handpalm’ en dan veral van die: ‘Wat bring die klamme molsgat voort?’ Dit is werklik vir my baie mooi. Ek is nuuskierig om te sien hoe jy ontwikkel. Hy gee hom die advies om gereeld te lees en 'n gedissiplineerde lewe te lei ten einde volledig as mens te ontwikkel. En aan die einde haal hy Polonius se vermaninge aan Laertes uit Hamlet vir sy jonger broer aan, advies waarmee Opperman terselfdertyd rigsnoere en maatstawe vir sy eie lewe onderstreep. | |
IIToe die moontlikheid van 'n betrekking in Kaapstad ontstaan het, was Opperman dadelik baie geïnteresseerd. Deur sy medewerking aan Die Huisgenoot het hy reeds etlike jare lank met Markus Viljoen en Fred le Roux gekorrespondeer, terwyl die publikasie van Heilige beeste hom in aanraking met C.F. Albertyn en ander werknemers van die Nasionale Pers gebring het. Met publikasies soos Die Huisgenoot, Trek en - sedert die einde van 1945 - ook Standpunte, 'n stimulerende dagblad soos Die Burger en die aanwesigheid van mense soos N.P. van Wyk Louw, Boerneef, J. du P. Scholtz, Markus Viljoen en Fred le Roux was Kaapstad vir hom die plek waar dinge op die gebied van die Afrikaanse letterkunde en geesteslewe aan die gebeur was. Hy het reikhalsend uitgesien na die vrugbare beïnvloeding wat dié persoonlike kontak op hom kon hê. In hierdie verwagting is hy nie teleurgestel nie. Alhoewel Markus Viljoen heelwat ouer as hy was en nie in dieselfde mate 'n literêre belangstelling gehad het nie, praat Opperman later in 'n huldigingsartikel van hom as 'n ‘intieme vriend’Ga naar eind3 wie se ‘huis en kelder’Ga naar eind4 altyd vir sy medewerkers oop was - die volmaakte gasheer wat met sy wye vriendekring as 'n belangrike ‘skakelbeampte’ vir die Nasionale Pers kon optree. Sy vrou was baie geïnteresseerd in die toneel en het bekend gestaan as een van die groot ‘miaauwers’ van die KAT (die Kaapstadse Afrikaanse Toneel), 'n belangstelling waardeur die Oppermans ook met die bekendste Kaapse akteurs van die tyd in aanraking gekom het. Vroeë nie-literêre vriende was ook Jack en Retha Theron. Theron was van 1947 af hoofbestuurder van Saambou in Kaapstad en later aan die spits van KRUIK, terwyl sy vrou - wat saam met Marié Opperman in Pretoria op universiteit was - 'n musiekkring vir Afrikaanse kinders begin het. Saam was die twee ook betrokke by 'n koor van jong vrouens wat dikwels oor die radio opgetree het. Die Oppermans moes in hierdie stadium £8 huur per maand vir hulle woonstel betaal en het dit nie breed gehad nie. Op voorstel van Retha het Theron aangebied om die nodige fondse beskikbaar te stel sodat Opperman vir spekulasiedoeleindes 'n klein eiendom kon koop en later weer verkoop. Opper- | |
[pagina 120]
| |
man was dankbaar vir dié geleentheid en Theron het 'n deelhuis naby die Nuwelandse rugbyveld op sy vriend se naam geplaas. Met die verkoop daarvan 'n rukkie later kon Opperman 'n wins van £1000 net so in sy sak steek. Die vriendskapsgebaar het hom in die geleentheid gestel om vir die eerste keer in sy lewe 'n bietjie geld te belê en finansieel op sy voete te kom. Van dié dag af het hy baie vertroue gehad in Theron se advies wat finansiële sake betref. Toe hy later in Kaapstad en nog later op Stellenbosch 'n woonhuis moes koop, was Theron een van sy adviseurs. Maar veral sy kennismaking en vriendskap met die Kaapse skrywers en letterkundiges was vir Opperman besonder stimulerend. Afgesien van W.A. de Klerk het hy Abr. H. Jonker, die radio-regisseur Ken Swart, Boerneef en I.D. du Plessis vroeg leer ken, terwyl hy gereeld by die Greshoffs aan huis was. Deur sy werk by Die Huisgenoot het hy kennis gemaak met Meyer de Villiers wat in dié jare populêr-taalkundige artikels vir die blad geskryf het; soms het Meyer en Suna de Villiers op 'n Sondag van Stellenbosch oorgekom en by die Oppermans gekuier. 'n Ander Stellenbosser van dié tyd wat dikwels by hulle besoek afgelê het, was Ernst van Heerden, 'n gereelde medewerker aan Standpunte en Die Huisgenoot. Van die kant van die Universiteit van Kaapstad het Opperman ook kontak gemaak met J. du P. (Canis) Scholtz, terwyl hy onder die Nasionale Pers-mense veral bevriend was met Johan Spies, later redakteur van Die Huisgenoot en nog later woordeboekman. Die nouste vriendskapsbande wat Opperman in dié jare gehad het, was egter dié met sy kollega Fred le Roux en met N.P. van Wyk Louw, toe lektor in die Fakulteit van Opvoedkunde aan die Universiteit van Kaapstad. Tussen Le Roux en Opperman was daar van die begin af 'n wedersydse vertroue en respek wat 'n leeftyd lank sou duur. Afgesien van sake van die dag en eie belewenisse het hulle gesels oor die letterkunde en verwante aangeleenthede en veral die literêre skindernuus, kos vir die ewig nuuskierige Opperman. Le Roux het 'n waardering gehad vir die konkrete en die organiese in Opperman se poësie. Met sy goeie oor het hy - in teenstelling tot baie ander kommentators - die klankeffekte in sy vriend se verse gewaardeer. Opperman se poësie was vir hom besonder musikaal deur die ritmiese stuwing en sporadiese gebruik van dissonante in die klank. Met sy belesenheid in die romankuns, wat hy beter as Opperman geken het, kon Le Roux sy vriend in 'n baie vroeë stadium bewus maak van die rol van die verteller in 'n literêre kunswerk, 'n aspek waarop Opperman later as universiteitsdosent telkens gewys het en wat in 'n stadium 'n belangrike rol in sy analises sou inneem. Wat Le Roux veral van Opperman getref het, was die wyse waarop hy sy volle aandag aan iemand kon gee. Hy was bereid om met sy hele persoonlikheid te kyk en te luister na mense, selfs die geringstes onder hulle. Dit was asof hy in daardie oomblik van oorgawe aan iemand anders self wesenloos kon word en hom volkome met die persoon kon vereenselwig om hom of sy standpunt volkome te begryp. | |
[pagina 121]
| |
Aan die ander kant het Opperman baie vertroue en agting gehad vir Le Roux se literêre oordeel. Hoewel hy nooit, selfs nie met sy beste vriende, oor wordende gedigte gepraat het nie, was Fred le Roux gewoonlik die eerste persoon ná Marié aan wie hy 'n voltooide vers sou voorlees of aan wie hy die manuskrip sou wys. Vanaf Negester oor Ninevé het Le Roux al Opperman se manuskripte voor publikasie gelees. As hy met iets klaar was, het hy Le Roux gewoonlik gebel. As hulle dan bymekaarkom, het Opperman voorgelees, en het hulle sekere aspekte bespreek. Soms het Opperman iets verduidelik en was die byeenkoms vir Le Roux ‘soos 'n boeiende seminaarklas’. As hulle klaar gesels het, sou Le Roux die manuskrip saamneem. In die week wat volg, was dit sy gewoonte om die werk noukeurig te lees en vraagtekens te plaas by sekere woorde, frases of struktuuraspekte waaroor hy onseker was. As hulle dan - soms saam met hulle vroue - weer bymekaarkom, het Le Roux gewoonlik eers uitgewys wat vir hom mooi was. By die vraagtekens het Opperman dan rekenskap van sy bedoeling gegee. Soms het hy verander, maar in verreweg die meeste gevalle was Le Roux se reaksie vir hom die bevestiging van wat hy gedoen het. Die noukeurige lees was vir Le Roux 'n vriendskapsgebaar aan 'n digter wat 'n klankbord wou hê. Hy was Opperman se oor, en sy reaksie op 'n manuskrip dié van 'n gevoelige leser in wie sy vriend vertroue gehad het. Terwyl Fred le Roux se vriendskap in hierdie jare vir Opperman die vertroue geskenk het wat 'n skeppende kunstenaar nodig het om voort te gaan, het die kontak met Van Wyk Louw van die begin af 'n element van wedywering bevat. Hulle verhouding was dié van twee kunstenaars wat respek vir mekaar se werk gehad en mekaar as van gelyke geestelike statuur beskou het. Opperman was vanselfsprekend baie onder die indruk van Van Wyk Louw se werk en het hom kort ná sy aankoms in Kaapstad ontmoet. Dit was die gebruik onder die literêre vriende om van tyd tot tyd bymekaar te kom, stimulerend te gesels en by geleentheid nuwe werk voor te lees. Op 1 Mei 1946 teken Opperman in sy dagboek aan hoe Van Wyk Louw in 'n swart syhemp en rooi das die vorige aand in die Greshoffs se huis voor Jan en Aty Greshoff en hulle kinders, Truida Louw, Philip Segal (lektor in Engels aan die Universiteit van Kaapstad) en die Oppermans Germanicus voorgelees het. Van Wyk Louw het kort-kort 'n bietjie kola tonic en water gedrink en dan rustig voortgelees, soms met handgebaar, soms weifelend asof hy bewus word van iets wat hom nog nie bevredig nie. By die voorlees was die soldate-toneel vir Opperman ‘natuurlik’, die ‘slagveld-toneel is lank maar het grootse momente’ en die vierde bedryf (soos tonele 5 en 6 oorspronklik genoem is) laat Van Wyk Louw se sarkasme, ironie, spot mooi tot uiting kom. Die vyfde (tans die sewende en agtste tonele - J.C.K.) is nog nie ‘afgewerk’ nie, maar is alreeds die | |
[pagina 122]
| |
roerendste omdat die magte almal daar saamgetrek word in persone soos Piso en Germanicus, die stryd tussen die ou Van Wyk Louw en die nuwe Van Wyk Louw, die absolutis teenoor die humanis. Hierdie stryd is roerend en interessant en die uitkoms maak van Germanicus die pendant van Raka. Aan die einde sê hy dit is poësie wat wil prosa word maar tog altyd poësie bly, terwyl die beeldspraak en dialoog aan die gewone Afrikaanse werklikheid ontleen is. In 'n later aantekening noem hy dat Van Wyk Louw Canis Scholtz se klagte oor woorde soos ‘goor’, ‘kots’, ens. teenoor hom genoem het. Volgens Scholtz sou die ‘adel...glo nie so praat nie’, terwyl Opperman meen dat hy by die voorlesing dié woorde op hulle plek gevind het - ‘...ons praat almal natuurlik in dié trant as ons tussen gelykes is.’ In hierdie stadium vind Van Wyk Louw dat Germanicus as tragiese held te onaktief is: ‘Hy staan stil soos 'n doek waaraan twee partye trek.’ As Opperman veel later aan sy vriend vra waarom hy Germanicus nie vir publikasie voltooi nie, sê Van Wyk Louw: ‘Man, die probleem is die persoonlikheid van Germanicus. Hy wil sy gat nie roer nie.’ Hy wil eers 'n ander drama skryf met 'n ‘aktiewe’ held en die twee dan gelyktydig los.Ga naar eind5 Die dagboekweergawe van Van Wyk Louw se voorlees van Germanicus en Opperman se reaksie gee 'n mens 'n aanduiding van die aard van die Afrikaanse literêre en geesteslewe in die Kaapstad van die veertigerjare. Van Wyk Louw moes veel gehad het aan 'n vriend wat só sensitief en indringend ná die blote aanhoor van 'n teks kon reageer. Aan die ander kant moes Opperman ook baie baat gevind het by 'n gevoelige leser soos Van Wyk Louw. Einde Mei 1946 vind Van Wyk Louw Opperman se ‘Genesis’-trilogie ‘duiwels mooi’, veral die rymwoorde ‘tasters, vasters; vlakker, wakker’,Ga naar eind6 soos ook ‘skitter, witter’ in ‘Negester en stedelig’. In Julie lees Opperman vir Van Wyk en Truida Louw en Fred le Roux van sy gedigte voor. Na aanleiding van ‘Na 'n besoek aan die dieretuin’ het Van Wyk Louw beswaar teen die halwe rym aan die begin, omdat ‘die patroon waarmee 'n mens begin (,) gehandhaaf (moet) word.’ Opperman verdedig sy procédé: ‘...die halwe rym is gebruik om die dinge wat nie goed pas aan te dui - veral die toon te suggereer: kraaie, draad, ens.’Ga naar eind7 Van ‘Nagwaak by die ou man’ en ‘Legende van die drie versoekinge’ hou Van Wyk Louw baie. Toe Opperman die kwatryn ‘Tekens’ (uit ‘Almanak’) aan sy vriende voorlees, ‘het dit 'n eenparige applous uitgelok’. By 'n ander geleentheid vind sy voorlees van die reeks parodieë ‘Met apologie’, wat hy in 1948 voltooi, algemene byval. Omdat Van Wyk Louw ook by was, laat Opperman egter die parodie oor hom uit. Van Wyk Louw was nuuskierig om te weet of Opperman ook een oor hom geskryf het. Toe hy uiteindelik die teks te lese kry, was sy reaksie so 'n bietjie suurderig! Oor Opperman se C.M. van den Heever-opstel en die onderskeid tussen ‘manlike’ en ‘vroulike’ poësie daarin, wat oorspronklik in Standpunte ver- | |
[pagina 123]
| |
skyn en later in Wiggelstok opgeneem word, was Van Wyk Louw baie entoesiasties. As kritiek beveel hy by Opperman aan om duideliker te sê dat die ‘manlike’ lyn in die poësie nie noodwendig van hoër estetiese waarde as die ‘vroulike’ is nie. Origens vind hy dit uitstekend: die beste kritiese opstel in Afrikaans. Ook Greshoff was ingenome daarmee. Daarteenoor het H.A. Mulder en W.E.G. Louw - volgens 'n brief van 14 Mei 1946 wat Louw aan sy broer skryfbeswaar teen wat hulle die stroewe styl, die ‘oordrewe geleerdheidsvertoon’ en die ‘Freudiaanse’ interpretasies noem. Van Wyk Louw, so teken Opperman in sy dagboek aan, meen W.E.G. Louw hou nie daarvan om 'n ‘vroulike’ digter genoem te word nie, omdat lesers dit as 'n refleksie op sy manlikheid kan interpreteer. Van Wyk Louw het, volgens Opperman se dagboek, juis vir Truida gesê dat die ‘vroulike’ element by Gladstone opvallend is: hulle het hom al oor sy manier van praat gespot; hy verkeer ook graag in die geselskap van die susters, en hou van kerse wat brand, ens. Uit die dagboekaantekeninge word dit duidelik dat Opperman gekwets gevoel het oor die negatiewe reaksie, veral omdat hy ten spyte van verskille baie waarde aan albei se oordeel geheg het. Veral Mulder en Louw se opmerking dat sy gebruik van vreemde woorde ‘'n skyn van eksaktheid’ skep, het hom teen die bors gestuit. In 'n gesprek met Van Wyk Louw sê Opperman wrewelig dat hy nie sy taalgebruik deur Bosman en Van der Merwe se woordeboek laat beperk nie en dat sy twee kritici se reaksie weens die gebrek aan 'n psigologies-wetenskaplike agtergrond ‘vermetel’ is. Uit die weergawe van die gesprek in die dagboek word dit duidelik dat Van Wyk Louw temperend optree. Vir die toekomstige ontwikkeling van die verhouding tussen Opperman en W.E.G. Louw is die gebeure in verband met die C.M. van den Heever-opstel van kardinale belang. Die vriendskap tussen Opperman en Van Wyk Louw was egter nie net tot die literatuur beperk nie. Ook die hele geesteslewe van die Afrikaner het in hulle gesprekke ter sprake gekom. Op 3 Mei 1946 teken Opperman in sy dagboek aan dat Van Wyk Louw ten gunste van 'n liberaler houding by die Afrikaner voel en die gevaar voorsien dat ons almal - Engelsman, Jood, bruinman, Indiër en swartman - van ons volk wegdryf, 'n gedagte waarop Van Wyk Louw later in sy Liberale nasionalisme sal terugkom en wat as die kiem vir Opperman se belangwekkende stuk uit 1960, ‘Die uitdyende heelal’ (later opgeneem in Verspreide opstelle), beskou kan word. Aangesien albei lede van die Afrikaner-Broederbond was, kom dié organisasie en hulle lidmaatskap daarvan by herhaling aan die orde. Van Wyk Louw was onder die indruk dat ‘ons “skrywers” sonder geld om te belê en sonder ekonomiese sleutelposisies...nie meer so welkom daar (is) nie’ en dat die AB die stryd te veel op die ekonomiese vlak laat konsentreer. Ook I.W. Van Merwe (Boerneef) en Canis Scholtz het hulself | |
[pagina 124]
| |
enigsins verwyderd gevoel van die AB: Scholtz omdat die dominee-invloed te sterk is, Van der Merwe omdat hy die vergaderings vervelend vind. In sy gesprek met Van Wyk Louw, wat hy op 6 Junie 1946 in sy dagboek weergee, voel Opperman die stryd groei tussen 'n afgeslote letterkundige lewe en volksorganisasies. Om dié redes wat hulle juis genoem het, wou ek ook bedank. Maar om die probleem suiwer te sien moet ons die beginsels sien van die AB en die beweging vir die oomblik losmaak van die Komiteekamer. As ek dink aan wat die AB in die verlede verkry het vir ons, wat hy nou nog doen op plekke soos byv. Pietermaritzburg, en wat sy beginsels is selfs vir die toekoms, dat ons hier altemit met 'n depressie ook weer 'n groot taak het, dan moet ek ten spyte van die verveling, die verskil oor godsdienssake,Ga naar eind8 my wil om nie letterkundige tyd aan organisasiewerk te bestee nie, selfs met 'n gevoel van martelaarskap nog die beweging steun en vergaderings bywoon. Die standpunt wat Opperman hier in verband met die Afrikaner-Broederbond in sy gesprek met Van Wyk Louw inneem, is belangrik vir 'n begrip van sy persoonlikheid en sy spesifieke interpretasie van Afrikanerskap. Reeds in hierdie stadium van sy lewe was sy kunstenaarskap vir hom primêr en sou hy alles daarvoor opoffer. Sy opvattinge hieroor - wat hy geleidelik onder invloed van Ovidius en later ook John Keats en Marcellus Emants ontwikkel - bring mee dat daar 'n element van wesenloosheid in die kunstenaar moet wees: die vermoë om soos 'n verkleurmannetjie na gelang van die situasie te verander. 'n Mens kan met reg die vraag stel in watter mate iemand met so 'n opvatting oor die kunstenaarskap nog beginsels en lojaliteite kan hê. Die dagboekaantekeninge gee reeds 'n aanduiding van die mate van konflik wat die lojaliteit teenoor die kuns én die Afrikanerskap by hom moes meegebring het. In hierdie tyd werk hy juis aan die dramatiese alleenspraak ‘Scriba van die Carbonari’, wat in Standpunte van April 1948 verskyn (later opgeneem in Engel uit die klip) en wat hy as sy persoonlike ‘bydrae’ tot die verkiesing van 1948 beskou. In hierdie gedig dien die geskiedenis van die negentiende-eeuse Italiaanse beweging met sy stryd teen die Franse oorheersing, strewe na 'n republiek, geheimhouding, inwydingseed en streng tug as agtergrond vir die toestande en spanninge in die lewe van die Afrikaner in die veertigerjare, soos deur Opperman self ervaar. Die gedig handel basies oor die dilemma van die intellektueel en kunstenaar binne die Afrikaner-Broederbond wat toenemend deur sakemanne en magnate oorheers word, en oor die morele spanning wat deur sy dubbele rol in hom ontstaan. Alhoewel Opperman as lojale Afrikaner in Pietermaritzburg en 'n tyd lank ook in Kaapstad die byeenkomste van die Afrikaner-Broederbond bygewoon het, was hy van vroeg af wars van organisasiewerk en vergaderings. Dit was sy oortuiging dat hy deur sy skeppende werk sy beste bydrae vir die Afrikaner kon | |
[pagina 125]
| |
lewer en dat hy nie lastig geval moet word met verpligtinge wat sy kosbare tyd opeis nie. Daarom was hy vir die grootste deel van sy lewe nooit besonder aktief in die Broederbond nie, al het hy tog in die vroeë sewentigerjare op Stellenbosch opgetree as een van die voorsitters in 'n tyd toe, volgens sy oortuigings, 'n ruimer geesteshouding en 'n liberaler uitkyk binne die organisasie baie nodig was. In die veertigerjare is daar slegs een dokumentêre bewys van 'n toespraak wat Opperman voor die Afrikaner-Broederbond gehou het. Op 30 Oktober 1948 skryf hy aan Van Wyk Louw - wat in daardie stadium in Nederland was waar hy 'n eredoktoraat van die Rijksuniversiteit van Utrecht sou ontvang - dat hy 'n Kaapstadse byeenkoms van die organisasie toegespreek hetGa naar eind9 oor die krisis in die verhoudinge tussen Suid-Afrika en Nederland nadat Nederland nie bereid was om Otto du Plessis as nuwe ambassadeur te aanvaar nie en mev. M.T. Steyn as buitengewone Suid-Afrikaanse gesant besonder koel tydens die Nederlandse kroningsplegtigheid ontvang is. Sowel literêre as algemeen-kulturele aangeleenthede het dus naas die gewone dinge van elke dag in Opperman en Van Wyk Louw se gesprekke ter sprake gekom en meegehelp om 'n gesonde en stimulerende verhouding tussen hulle op te bou. Tog was daar van die begin af 'n element van wedywering. Betreklik gou ná Opperman se verskyning op die literêre toneel is hy en Van Wyk Louw deur die verantwoordelike kritici van die tyd uitgesonder as die twee groot figure van die Afrikaanse letterkunde. Ná die publikasie van Negester oor Ninevé het F.E.J. Malherbe in 'n terloopse gesprek gesê dat Opperman potensieel 'n groter digter as Van Wyk Louw is,Ga naar eind10 terwyl J. du P. Scholtz dieselfde mening teenoor vriende in Nederland uitgespreek het.Ga naar eind11 Daarby was Opperman met die toekenning van die Hertzogprys in 1947 en die verskyning van die een bundel na die ander in die laat-veertiger- en vroeë vyftigerjare veel aktiewer wat publikasie betref as Van Wyk Louw. Al hierdie faktore kon meegewerk het tot 'n element van jaloesie aan die kant van Van Wyk Louw, terwyl Opperman bewus was van die feit dat sy werk met dié van sy vriend vergelyk en daaraan gemeet sal word en dat hy met sy snel opvolgende publikasies Van Wyk Louw as 't ware uitdaag. Van Opperman se kant kon daar verder ook sluimerend die gevoel aanwesig gewees het dat hy as kind van 'n spoorwegwerker met min geleenthede besig was om dieselfde status in die Afrikaanse literêre wêreld as die rykmanseun Van Wyk Louw te bereik. In hierdie stadium was die mededinging egter vriendskaplik, omdat hulle heerlik oop met mekaar kon gesels en mekaar intellektueel kon stimuleer en aanvul. Die eerste aanduiding van iets venynigs in die mededinging was Van Wyk Louw se reaksie op Opperman se ‘Legende van die drenkelinge’, wat oorspronklik as ‘Laaste heiden’ in Die Huisgenoot van 4 Januarie 1946 verskyn het. Hierdie gedig, wat die geskiedenis van die sondvloed as basis het, begin (in die finale teks) met die inset: ‘Toe die eerste los bui oor die aarde val/ het geeneen Hom herken.’ Die ‘Hom’ van Wie hier gepraat word, bly vir drie en | |
[pagina 126]
| |
twintig reëls ongekwalifiseerd totdat daar uiteindelik, met 'n verwysing na die vrees van ‘elke kind en vrou/ en agter al die kalmte elke man.../ vir die ongekende toorn van die Watergees’, 'n duidelike omskrywing en identiteit van die ‘Hom’ gegee word. Van Wyk Louw het gemeen dat hierdie inset baie na aan dié van Raka kom. Raka begin met die woorde: ‘Die vroue het hom die eerste gewaar’, en eers veertien reëls later word die identiteit van die ‘hom’ nader omskryf. Die aapmens volg sy verskyning aan die vroue op met 'n vermaaklike dans en grappies voor die kinders, terwyl die manne later ‘sy krag bemerk/ aan die tekens van die groot bosse’. Hoewel daar beslis 'n ooreenkoms tussen die insette van die twee gedigte bestaan, bou Opperman sy vers op 'n heel besondere wyse op en ontwikkel dit in 'n heeltemal ander rigting as Raka. Deur mense ná aan Van Wyk Louw is daar egter gepraat van ‘nabootsing’ en ‘gebruik van dieselfde effekte’. Die opmerking is waarskynlik in literêre kringe versprei, want in sy keurdersverslag oor die manuskrip van Negester oor Ninevé maak W.E.G. Louw die uitspraak dat ‘Legende van die drenkelinge’, ondanks mooi vondste, ‘wat sy ritmiese struktuur en ook sy rymskema (betref) te seer aan Raka...herinner, sonder die ongelooflike soepelheid van laasgenoemde’. Uit sy reaksie op W.E.G. Louw en Mulder se negatiewe kommentaar op sy Van den Heever-opstel lei 'n mens af dat Opperman in hierdie jare besonder sensitief was vir kritiek op sy werk. 'n Mens kan dus met redelike sekerheid aanneem dat die gerug oor die vermeende ‘navolging’ Opperman se ore sou bereik het en dat hy daaroor gekrenk was, al het dit in hierdie stadium nie sy vriendskap met Van Wyk Louw geskaad nie. | |
IIIToe Opperman in 1946 na Kaapstad gekom het, was Die Huisgenoot die beste weekblad in Afrikaans. Vir die hele duur van sy redakteurskap, van 1931 tot sy dood in 1949, het Markus Viljoen probeer om iets vir die gemiddelde leser te gee, maar ook om vir die meer ontwikkelde leser te sorg. In die dertigerjare, toe die Afrikaner 'n periode van verwarring en onsekerheid op ekonomiese en geestesgebied beleef het, was Viljoen daar oortuig van dat Die Huisgenoot 'n bydrae kon lewer deur die Afrikaner opnuut bewus te maak van sy identiteit. Dit het hy gedoen deur artikels en verhale te publiseer oor die heroïese tydperke - die Groot Trek en die twee Vryheidsoorloë - in die volksverlede en om dié dinge in sy blad te weerspieël waarin die tipiese Afrikaner belang stel: jag, veldplante, dierelewe, herinneringe van ou mense en bydraes oor die kleredrag en leefwyse van die geslag van die Groot Trek.Ga naar eind12 Met die inligtende aard van hierdie artikels, wat Viljoen naas ontspanningsleesstof gepubliseer het, is dit te begrype dat Die Huisgenoot gaandeweg bekend geraak het as ‘die arm man se universiteit’, miskien die laaste keer in die Afrikaner se ontwikkeling - soos | |
[pagina 127]
| |
Opperman dit in 'n memoriam-artikel ná die dood van Viljoen stel - ‘dat die leek en vakkundige...met dieselfde blad tevrede sou wees’.Ga naar eind13 In die agttien jaar van sy redakteurskap het Viljoen dus sowel ‘aangename as verheffende leesstof (verskaf en) rigting en leiding aan ons kulturele lewe’Ga naar eind14 gegee. Daarby het hy ‘'n nuwe geslag Afrikaanse joernaliste gevorm’.Ga naar eind15 Dit kon hy doen deur noulettend aan die ‘taalkundige en stilistiese versorging van die inhoud’Ga naar eind16 aandag te gee, om sy gedagtes - soos hy dit self formuleer - ‘so eenvoudig en duidelik as moontlik te stel, lang woorde te vermy en altyd na helderheid te streef’.Ga naar eind17 Daarnaas was hy verantwoordelik vir ingrypende veranderings in ‘die aanbieding, formaat en tegniese versorging’ van die blad. Deur die hoë peil wat hy gehandhaaf het, kon hy die leidende prosaskrywers en digters na Die Huisgenoot lok en van die beste literatuur in Afrikaans publiseer. Dit was dus 'n ryk joernalistieke tradisie waarby Opperman aangesluit het toe hy op Maandag, 3 Januarie 1946 vir die eerste keer sy opwagting by die redaksiekantore van Die Huisgenoot gemaak het. Op hierdie eerste dag was Opperman en die jeugdige Elsa Joubert die twee nuwelinge in die redaksie. Terwyl hulle saam met Fred le Roux in die kantoor van Markus Viljoen bymekaar was, het C. Louis Leipoldt ingekom met 'n kardoessakkie botterbroodjies vir die oggendtee. Opperman het ook sy ander kollegas ontmoet: naas Elsa Joubert vir Theo Gerdener (die latere politikus), Hein Wicht wat ‘Korsies van pastei’ behartig het en J.J. Blom wat vir die vervolgverhale verantwoordelik was. Opperman se eerste taak was om 'n artikel oor visvang te vertaal, maar in hoofsaak was sy opdrag om die bydraes op die gebied van die poësie en kortverhale te keur en te versorg en om boeke ter resensie uit te stuur. Van die begin af het Viljoen hom baie vryheid gegee om dinge selfstandig te doen, want hy het baie nuwe idees gehad, goeie kontak met medewerkende skrywers opgebou en sy werk betyds en nougeset ingelewer.Ga naar eind18 Sy persoonlike bydrae tot Die Huisgenoot se beeld as ‘die arm man se universiteit’ het begin met 'n rubriek ‘Ken u ons letterkunde?’ waarin vrae oor die literatuur gestel is met die antwoorde elders in die blad. Van tyd tot tyd het hy die redaksionele aantekeninge en die hoofartikels geskryf. Sy eie gedigte uit hierdie periode is nooit in Die Huisgenoot gepubliseer nie, waarskynlik omdat hy gevoel het dat ander medewerkers beswaar sou hê as hy prominensie aan sy eie verse gee en omdat hy sy eie werk liewers in Standpunte wou sien. By die besoek van A. Roland Holst skryf Opperman 'n artikel oor hom (Die Huisgenoot, 9 Augustus 1946; later opgeneem in Wiggelstok). Die uitgawes van 21 Februarie 1947 en 9 Mei 1947 is onderskeidelik aan Totius en Leipoldt gewy. Onder die kortverhaalskrywers wat in sy termyn aan Die Huisgenoot meegewerk het, was Boerneef, Elise Muller, M.J. Harris, Ina Rousseau, Jan Scannell, J. van Melle, G.H. Franz, J.S. Rabie, Holmer Johanssen, P.J. Schoeman, C.M. van den Heever en Henriette Grové, terwyl vertalings van C.G.S. de Villiers opgeneem is. Onder die | |
[pagina 128]
| |
digters was sowel gevestigde name as jonger talente. Naas Totius, Leipoldt en I.D. du Plessis het Ernst van Heerden, S.J. Pretorius en Olga Kirsch gereeld meegewerk en was daar van tyd tot tyd bydraes van nuwe digters soos Ina Rousseau, Dawie Couzyn, C.F. Rudolph, M.J. Harris, Bartho Smit, Izak van der Westhuizen, J.C. Coetzee, P. du P. Grobler, Sheila Cussons, G.A. Watermeyer en H.W. Truter; die meeste van hulle sou in Opperman en Fred le Roux se Stiebeuel hulle debuut in boekvorm maak. Onder die resensente wat boekbesprekings behartig het, was toonaangewende kritici soos Dekker, Schoonees, F.E.J. Malherbe en Mulder naas jongeres soos Meyer de Villiers, Elisabeth Eybers, Gerhard J. Beukes, Ernst van Heerden, P. du P. Grobler en A.P. Grové. 'n Tyd lank is die ‘Kroniek van die Nederlandse letterkunde’ deur Greshoff behartig. Sommige van die medewerkers se bydraes is met geesdrif deur Opperman ontvang en uit sy korrespondensie blyk hoeveel moeite hy gedoen het. As Elize Muller in 1958 die Hertzogprys ontvang, vertel hy in sy rede by die oorhandigingsplegtigheid met hoeveel vreugde hy haar ‘Nag by die drif’ gepubliseer het. Sannie Uys lê haar meesterlike verhaal ‘Die sterfbed’ aan Die Huisgenoot voor. In 'n brief van 30 Oktober 1948 aan N.P. van Wyk Louw sê hy - om redes wat hy nie nader omskryf nie - dat dit vir Die Huisgenoot ‘ongeskik’ is, maar as 'n bydrae vir Standpunte iets besonders. ‘Ek vind daar meer komposisie, humor, ironie, e.d.m. in as in baie van M.E.R. se stukke.’ Daarom verskyn die verhaal in Standpunte en sorg Opperman daarvoor dat dit in die prominente posisie as openingstuk geplaas word. 'n Bydrae wat hy met geesdrif ontvang het, was G.A. Watermeyer se ‘Ballade van die bloeddorstige jagter’ wat in die uitgawe van 28 November 1947 verskyn. Na sy besoek in September 1947 aan Sabie en die Kruger-wildtuin het Opperman 'n paar dae in Braamfontein by sy broer Maans oorgebly. Maans se buurman was Watermeyer en die twee digters het mekaar daar vir die eerste keer persoonlik ontmoet, al het hulle toe reeds sedert Watermeyer se bydraes tot Stiebeuel met mekaar gekorrespondeer. Watermeyer het Opperman 'n knipsel gewys van 'n gedig van hom wat in Die Brandwag van 2 November 1945 onder die titel ‘Jagterswee’ verskyn het: Die geel kapél se kronkels lê
drie sirkels om die maan:
O! watter vreemde wind sal hier
teen middernag my tentseil slaan?
Uit elke kloof en krans
hoor ek die klipdas skree
sy ou, wildwrede roep
van lang-verstarde wee.
| |
[pagina 129]
| |
Die jakkals teen die berghang huil
tot in my senuwee en murg;
'n kolhaas in die kreupelbos
roep skielik skril tot God - en wurg.
Die beenwit horing van die maan
hang rooi bespat met bloed;
vir watter dier se dood
moet ek vannag hier boet?
In 'n brief van 31 Mei 1953 aan G.S. Nienaber skryf Opperman: Ek het gevoel, en hy het erken, dat die tweede strofe sterk aansluit by my ‘Verbond’ en ‘Dertiende dissipel’ - gesê hy behoort dit te verander en dan eerder in die trant van sy pragtige beeld van die geelkapel se ‘drie sirkels om die maan’ verder oor die diere te skryf wat die jagter in 'n droom beskuldig - ek het toe uit my gedeeltelik voltooide ‘Diereriem’ aangehaal (ek dink dit was ‘Krap’). Kortom, toe ek in die Kaap kom, het hy brief na brief begin stuur met fragmente soms soos die gedig vorder, en ek het baie onder die indruk van sy talent gekom; (en) party gedigte in Die Huisgenoot en Standpunte geplaas. Selfs met bydraes wat uiteindelik nie aanvaar is nie, het Opperman besondere moeite gedoen. In 'n brief van 20 November 1947 skryf hy aan P.J. Schoeman dat hy Rook op die horison 'n ‘fyn stukkie prosaliriek’ vind: Myns insiens bereik dit hoogtepunte met die beskrywing van die meide se stormloop, die sprokie van die twee koningskinders (pragtig!), die twee soorte vrouens, die jag op die krokodil en dan die slot; dit is afgesien van tal van afsonderlike beelde, sienings, e.d.m. Aan die keersy vind hy die begin 'n bietjie dralerig en die beelding hou te lank op dieselfde trant aan. - Waar vind die onderhoud plaas? Sel? Maar die petrolkissie en die vuurhoutjies dan? Op hierdie stadium vind 'n mens baie van die beelde treffend, maar hulle ontroer nie juis nie, want die gegewens vir die bepaalde geval is nog te skraal. Die tonele waar die skepsel so bang word, kom vir my ook nie so oortuigend voor nie (hfstk II). Ek voel die jag op die leeus is 'n bietjie lig en dat dit selfs die vertelling vervlak en van sy simboliek laat inboet. Hoofstuk VIII vind ek 'n rare mengelmoes! Die beeld wil al mooi word, maar word deur 'n te opsetlike strewe tot mooiskrywery bederf: aan die een kant deur 'n te verwyfde liefde en aan die ander kant deur Europese literêre beelde. Hier en daar werk die neiging tot die informatiewe ook 'n bietjie steurend in die vertelling - dit is eintlik in vorige hoofstukke. Ten slotte voel ek dat die ms. weer deeglik moet gelees word met die oog op die taal, styl, ritme, e.d.m. want liriek is fyn en teer werk, en dit wil hierdie bydrae tog wees, en dit kan dit wees. | |
[pagina 130]
| |
Die vreugde wat Opperman reeds in Natal gehad het aan die aanmoediging van skeppende talent onder sy skoliere en die aandag wat hy aan Sheila Cussons en C.J.M. Nienaber se werk bestee het, was 'n aanduiding van sy intense belangstelling in ander se skryfwerk en die advies wat hy bereid was om te gee. Die redaksionele werk by Die Huisgenoot het hom in die posisie geplaas om hierdie belangstelling verder te ontwikkel en persoonlik of by wyse van korrespondensie met die belangrikste Afrikaanse skrywers van die tyd in aanraking te kom. Vir die kontak wat hy met so baie skrywers oor dekades heen gehad het en vir die sentrale rol wat hy later in die Afrikaanse letterkunde sou beklee, was die jare by Die Huisgenoot 'n baie belangrike fase in Opperman se lewe. | |
IVDie werk by Die Huisgenoot het Opperman op 'n natuurlike wyse in aanraking gebring met die personeellede van die Nasionale Pers. Besonder gou was daar 'n noue kontak tussen hom en die belangrikste ampsdraers van die uitgewersafdeling. In die jare 1944-1947 was C.F. Albertyn hoof van die uitgewery, maar Opperman het veral geskakel met Johan Spies en D.J. Potgieter wat ook in dié tyd met die publikasie van boeke te make gehad het. In 1948 is George Minnaar bevorder tot hoof van Algemene Publikasies, 'n betrekking wat hy tot 1955 beklee het. Met die aanvaarding van Heilige beeste was Opperman maar te bly dat die Nasionale Pers in 'n tyd van papierskaarste bereid was om sy werk te publiseer en het hy geen besondere eise gestel wat die tipografiese versorging van die uitgawe betref nie. Tog was dit vir hom 'n voorwaarde dat die boek tegnies noukeurig afgewerk moes word en het hy voorkeur aan 'n rooi omslag gegee. Met die verskyning van Negester oor Ninevé het hy egter self met die grafiese kunstenaar Piet Bijl en die drukkerybestuurder onderhandel. In sy artikel oor ‘D.J. Opperman en die uitgewersbedryf’, wat by Opperman se vyf en sestigste verjaardag verskyn,Ga naar eind19 vertel J.J. Human: ‘Toe...(Opperman) daarop aandring dat die reëls bo-aan 'n bladsy telkens gelyk met mekaar lê en nie ongelyk rondspring nie, het die bestuurder glo aan hom gesê hy word nou 'vitterig'!’ Dit illustreer in watter mate Opperman betreklik vroeg reeds alle vertakkinge van die uitgewerswese intiem leer ken het. Hy was gou op die hoogte van 'n verskeidenheid fasette van die tipografie, ontwerp en drukkuns en kon dikwels die amptenare van die Nasionale Pers hieroor van raad bedien. In hierdie vroeë jare is Opperman se posisie bevorder deur die aanwesigheid van Markus Viljoen wie se oordeel groot gewig by die Pers gedra het. Opperman was 'n protégé van Viljoen en via Viljoen ook van Albertyn, 'n situasie wat sy vroeë hoë status by die uitgewery verklaar. Opperman se hegte verhouding met die Pers het egter verder gestrek as die | |
[pagina 131]
| |
nougesette aandag aan sy eie publikasies. Reeds vanaf die tweede nommer van Standpunte - waarvan die uitgawe in dié stadium deur die Nasionale Pers behartig is - het hy nie alleen deur die toesending van bydraes geesdriftig meegewerk nie, maar was hy lid van die redaksie. Sy naam het egter nie by die lys redaksielede verskyn nie, weens besware van die kant van Die Huisgenoot teen sy openlike toetrede tot die redaksie. Saam met Van Wyk Louw (en later ook Greshoff en Fred le Roux) het hy help beplan aan die nommers deur te besluit wat aangevra moes word. Soms het hy bydraes vir Die Huisgenoot aan Standpunte laat toekom, van tyd tot tyd van die anonieme redaksionele aantekeninge geskryf, gehelp met die tegniese versorging van die blad en selfs van die uitbetalings behartig. Nog direkter samewerking met die Nasionale Pers ontstaan as Opperman voel - soos hy dit in sy dagboek uit 1946 stel - ‘dat die jong digter by ons, wat nog nie gebundel het nie, 'n lang tydperk van onsekerheid deurgaan of oorhaastig bundel: daar moes voorlopige publikasies wees om hom te help met siftingswerk, selfkritiek ens. en ook reeds 'n mate van erkenning te gee.’ Na die lees van T.S. Eliot se artikel oor ‘Minor poetry’ dink hy weer oor die saak en vra Fred le Roux se medewerking. C.F. Albertyn was bereid om so 'n bundel uit te gee, en in Maart 1946 nader hulle twintig jong digters - meestal dié wat vroeër in Die Huisgenoot gepubliseer het - van wie veertien entoesiasties reageer. Greshoff het 'n hele reeks moontlike titels vir die bundel voorgestel. Opperman kies daaruit Stiebeuel, terwyl Piet Bijl vir die tekening op die buiteblad verantwoordelik was. Met die tooilose vers, aardse beeldspraak, realistiese inslag en die beweging in die rigting van 'n sosiale poësie het die Stiebeuel-digters vir Opperman veral by die Totius van Trekkerswee aangesluitGa naar eind20 - meer as by enige ander digter van die ouer geslag. Daarom het hy teenoor Fred le Roux gesê dat dit 'n mooi en gepaste huldeblyk sou wees as hulle Stiebeuel aan Totius opdra. 'n Mens kon egter by voorbaat verwag dat Totius, wie se seun die vorige jaar ernstige lewensbeskoulike besware teen Heilige beeste gehad het, sy naam nie ligtelik aan 'n bundel moderne poësie sou verleen as hy onvertroud was met die inhoud nie. Daarom skryf hy op 26 Junie 1946 aan die twee samestellers dat hy ‘ten seerste...die mooi, vriendelike geste’ op prys stel. Vanweë sy posisie kan hy egter dié onderskeiding nie aanvaar nie, hoeseer dit hom ook te harte gaan. Hy vervolg: by my moes as hoofoorweging geld dat ek teologiese hoogleraar is aan 'n Kweekskool, en dit moet ek in ag neem. Soos u weet het daar in later tyd op literêre gebied ook ‘standpunte’ ontwikkel, die een soms vlak teenoor die ander staande, terwyl prinsipiële kwessies in geding is. Daarom sal dit seker ongerade wees as ek, op die deur u voorgestelde wyse, verbind word aan 'n uitgawe waarvan die inhoud aan my heeltemal onbekend is. Die werk aan Stiebeuel het Opperman persoonlik in aanraking gebring met | |
[pagina 132]
| |
heelparty van die medewerkende digters, soos Jan Rabie, H.W. Truter en Ina Rousseau wat al drie op Stellenbosch gestudeer het. Ina Rousseau het reeds vroeër in Die Huisgenoot met Opperman se poësie kennis gemaak en Heilige beeste was vir haar 'n pragtige bundel. Terwyl sy in die Paasvakansie van 1946 in die Kaap in 'n hotelletjie tuis was, het sy na Die Huisgenoot-kantore gegaan. Opperman kon haar met die intrapslag onmiddellik van 'n foto herken. Hierdie ontmoeting het tot 'n lewenslange vriendskap gelei. Dieselfde aand het sy by die egpaar in Glen Haw gekuier. Opperman se gretigheid om haar met haar skeppende werk te help, het 'n groot indruk op haar gemaak. Van die beste gedigte in Stiebeuel was dié van Sheila Cussons, en Opperman het voortgegaan om haar en C.J.M. Nienaber, as sy eerste protégés uit die Natalse jare, van raad te bedien. In 'n brief van 24 Maart 1946 rig hy aan Nienaber die waarskuwing om nie weer iets in die rigting van Keerweer aan te pak nie en versigtig te wees met die ‘impressionistiese frase’. Vir Sheila Cussons beveel hy aan om nie in dié stadium te bundel nie, maar te wag tot die regte tyd aanbreek. Hy waarsku: ‘Pasop vir die breedte, te veel byvoeglike naamwoorde, die dekoratiewe, die skilderagtige reëltjie - spits die vers meer.’ Die Stiebeuel-digter wat in hierdie stadium die grootste indruk op Opperman gemaak het, was G.A. Watermeyer. Ná ontvangs van ‘Ballade van die bloeddorstige jagter’ het hy gevoel Watermeyer moet 'n bundel publiseer. Uit die werk wat aan hom voorgelê is, maak Opperman 'n keuse, verkort en wysig aan sommige verse (bv. ‘Ballade op die dronkparty’), deel die bundel in vier rubrieke en kies as titel Sekel en simbaal wat die landelike en stedelike wêrelde van Watermeyer se poësie mooi saamtrek. Vir die Nasionale Pers skryf hy 'n kort keurdersverslag waarin hy sê dat ‘van al die eerstelingbundels wat die afgelope paar jaar verskyn het, dit die allerbeste is’. Daar is nie een werklik swak gedig in die versameling nie, en die bundel word aangebied in vier afdelings met die landelike, erotiese en stedelike as uitgangspunt en met ‘Ballade van die bloeddorstige jagter’ as sluitstuk. In Standpunte van Augustus 1948 publiseer hy 'n uitvoerige en indringende opstel oor Sekel en simbaal waarin hy die singende en seggingsvers by Watermeyer aandui, op die gevare wys van die ‘liriese roes (en) die verwaarlosing van die indiwiduele woord ter wille van die singende sinsnede’,Ga naar eind21 en 'n onderskeid maak tussen die skeppend-ontdekkende kunstenaar (waarin hy homself sien) en die digter wat as wildekanarie ‘jubelend of droefgeestig oor die genot of beperkinge van...(die) wêreld’Ga naar eind22 skryf. Nog voor die verskyning van hierdie opstel skryf Watermeyer in 'n brief van 30 Junie 1948 waarderend oor alles wat Opperman vir hom gedoen en beteken het. Sekere gedigte in Heilige beeste het hom, volgens hierdie brief, op die idee gebring om oor die plaaslewe te skryf, terwyl die publikasie van Stiebeuel 'n groter ‘bewuswording’ by hom laat posvat het. Hy gaan voort: Dan volg jou besoek en jou belangstelling in my werk. ‘Hings’ sou ek tien teen | |
[pagina 133]
| |
een nie sonder jou opmerkings voltooi het nie. ‘Reën in die Voorwinter’ sou sonder jou kritiek nie die twee laaste afrondende reëls bygekry het nie. ‘Belydenis van die Ou Man’ sou moontlik nooit voltooi gewees het nie. En, indien jy nie op 'n dag terloops iets oor daardie gediggie ‘Jagterswee’ opgemerk het nie sou daar bes moontlik nooit 'n ‘Ballade van die Bloeddorstige Jagter’ gewees het nie. Sonder hierdie gedigte sou daar geen Sekel en Simbaal verskyn het nie. Daarby kom nog die streng, eerlike kritiek wat jy altyd gewillig aangebied het, dit, gepaard met die voorbeeld van Heilige beeste as model eerstelingbundel het my laat wag tot op 'n paar maande gelede. Selfs toe nog was dit jou finale keuring wat hierdie bundel sy uiteindelike afronding & indeling besorg het - tot selfs die naam toe. Wanneer die verskyningsdatum van die bundel nader kom, reël Opperman - gedagtig aan die ontvangs van Heilige beeste en die vriendskapsgebaar van C.J.M. Nienaber - dat Watermeyer se Johannesburgse vriende 'n verrassingspartytjie vir hom reël en 'n eksemplaar aan hom oorhandig. Naas Watermeyer en sy vrou Letsie was M.P.O. en Eugenie Burgers, Anna Neethling-Pohl, Bartho Smit, Gerrit Bakker, Dawie Couzyn en sy vrou, Jan Schutte en S.J. Pretorius en sy vrou onder die aanwesiges. In 'n brief van 4 Julie 1948 skryf M.P.O. Burgers, wat die inisiatief met die reëlings geneem het, 'n brief aan Opperman waarin hy verslag doen van die vreugdevolle byeenkoms: Die aanwesigheid van die bundel in die huis was 'n algehele verrassing vir hom en vir sy vrou, en die twee was aangedaan soos ek hulle nog nooit gesien het nie. Watermeyer het nie ophou dankie sê nie! En toe - verrassing bo verrassing! - het hy 'n hele ruk lank van die gedigte vir ons voorgelees en oor hulle gepraat. Jy weet seker dat hy moeilik praat - aarselend en selfs hakkelend. Nou, daarvan was daar niks te bespeur toe hy besig was om oor sy werk te praat en die gedigte voor te lees nie. Hy het my oor en oor vertel dat dit die wonderlikste aand in sy lewe was. En hy sluit af: Dirk, jy het met hierdie plan van jou 'n weldaad aan Watermeyer bewys waarvan nòg jy nòg ek die omvang kan bepaal! Van Watermeyer self ontvang hy en Marié 'n eksemplaar van Sekel en simbaal met die volgende inskripsie: ‘Aan Dirk en Marié, Sonder wie se morele steun, kritiek en keuring, die verskyning van hierdie bundel bykans onmoontlik sou gewees het.’ 'n Ander digter met wie Opperman in die eerste Kaapse jare baie noue kontak gehad het, was sy tydgenoot Ernst van Heerden. Met hulle eerste persoonlike ontmoeting is Van Heerden al getref deur Opperman se intellektuele vermoëns, sy integriteit en sy gawe om goeie digkuns en die hoë waarde daarvan te herken sonder enige bygedagte aan politiek of godsdiens. Hy het gereeld by die | |
[pagina 134]
| |
Oppermans aan huis gekom. Alhoewel hulle vriendskap rondom die literatuur en hulle skeppende werk gesentreer het, was daar tog 'n persoonlike element ook by. Meermale was hulle gesprekke oor Van Heerden se bydraes vir Standpunte of Die Huisgenoot of oor Opperman se werk, want Van Heerden was intens geïnteresseerd in sy vriend se poësie. Hy was die eerste deskundige kommentator oor werke soos Heilige beeste, Negester oor Ninevé en Joernaal van Jorik. By die verskyning van Van Heerden se tweede bundel, Verklaarde nag, resenseer Opperman dit oor die radio. Die teks daarvan word in Die Burger en Critisch Bulletin gepubliseer en later in Verspreide opstelle opgeneem. In hierdie bespreking noem Opperman die neiging by Van Heerden om die wêreld ‘van agter glas, 'n ruit of venster’ te bekyk, die lewe te verglans en deur middel van versierende klank en beeld ‘die gekweekte stemmingslewe, die musiekverwysings en die beskrywings soms in die trant van ander kunstenaars’ vir ons ‘brokkies werklikheid’Ga naar eind23 aan te bied. Dié reeks besware vat hy beeldend saam in die treffende frase ‘werklikheid gesluit in sellofaan’.Ga naar eind24 Met hierdie formulering gee Opperman 'n karakteristiek van sy vriend se vroeë werk en wys hy op 'n belangrike gevaarpunt van hierdie soort poësie. In 'n brief van 23 Oktober 1946 waardeer Van Heerden die skerpsinnigheid, maar werp hy teen dat die ‘sjokolade nog sy smaak en die angeliere hul geur’ agter die sellofaan behou en dat die lewe tog (vir hom) 'n operaspel is! Hy lê telkens die manuskripte van sy bundels vanaf Die sewe vrese tot en met Koraal van die dood aan Opperman voor en in sommige gevalle lewer Opperman 'n daadwerklike bydrae. Die titel Reisiger, Van Heerden se bundel uit 1953, word deur Opperman gekies, terwyl hy ook die oorkoepelende motto uit William Blake vir dié werk uitlig.Ga naar eind25 By die gedig ‘Die gewigopteller’ stel Opperman voor dat Van Heerden die reël ‘is 'n triomfantelike dier’ verander na ‘is - triomfantelik! - 'n dier’, 'n wysiging wat deur die parentese en uitroepteken die oomblik van triomf vir die leser funksioneel uitlig.Ga naar eind26 'n Gedig van Van Heerden waarmee Opperman baie ingenome was, is ‘Gebed vir die komende’, gedeeltelik omdat dit die naderende geboorte van die Oppermans se tweede dogter as boustof het. Dié gedig is later opgeneem in Die sewe vrese. Terwyl Opperman 'n gedig soos ‘Chopin’ veels ‘te veel in die estetiserende sfeer’ vind, is ‘Gebed vir die komende’ vir hom besonder treffend. In 'n brief van 19 Oktober 1947 skryf hy aan Van Heerden: Dit kom vir my voor as baie ‘egter’. Mooi vind ek die vraag, die suggestiewe skildering wat daarop volg en dan die kort gebed waarmee elke strofe afsluit. Dit is hier ook of jy vry geraak het van die estetiserende, 'n mens werklik ontroer. Marié sê ook baie dankie, sy is aangenaam verras, nie net deur die gebaar nie, maar deur die intrinsieke waarde van die gedig. Ek het my die vryheid veroorloof om dit ook vir Fred te wys; sy opmerkings was: ‘Ek hou hiervan, meer as van baie van sy ander gedigte wat ek onlangs gelees het. Dit lyk vir my Ernst moet opdragdigter word!’ | |
[pagina 135]
| |
'n Werk waarmee Opperman in hierdie jare besondere moeite doen, is die roman Proefbuis tot proefbuis wat onder die skuilnaam Francois Duminy deur sy swaer Jannie Theron, Liz se man, geskryf is en in 1948 verskyn. In 'n brief van 8 Julie 1947 sê Opperman dat die werk van ‘'n summier letterkundige standpunt...geen groot meesterstuk (is) nie, maar tog 'n roman wat besonder aangenaam lees en met bepaalde ander verdienstes’. Hy lewer detailkommentaar oor tonele, byfigure, die hooffiguur en ontwikkeling van motiewe, en doen aan die hand dat die slot herskryf word sodat die hele boek ‘simbolies (word) van die navorser deur die eeue, van die mens wat altyd worstel...in teenstelling met die huidige sukses-slot wat eintlik steur na die pretensielose, egte skildering van die voorafgaande’. In 'n brief wat hy op 6 Oktober 1947 aan Theron skryf, praat hy meer in die algemeen oor die skeppende skrywer en sy taak. Daaruit kan 'n mens iets te wete kom van die erns en onvoorwaardelike oorgawe waarmee Opperman die kunstenaarskap sien. Die verlossingsgedagte, wat in hierdie jare 'n dominante motief in sy skeppende werk is, figureer besonder markant in die brief aan Theron. ‘As 'n mens ryk aan gees lewe,’ skryf hy moet jy verwag dat jy 'n groter gevoeligheid vir die daaglikse gebeure sal toon - as 't ware kommer sal trek. Ek is bly dat jy ook nou 'n medium gevind het om hierdie gevoelens te verhef en vas te lê. Trouens, dit is my persoonlike oortuiging dat die skrywer as 't ware godsdienstig verplig is om die werklikheid waarmee hy in aanraking kom, te vergeestelik en te laat opgaan in sy skepping. So gesien is die kunstenaar in sekere sin verlosser van die aardse. Ek wei hieroor uit omdat ek voel dat jy teenoor jou eie sielerus verplig is om hierdie gevoelens en ondervindings gestalte te gee in die woord. Bepeins en orden...maak aantekeninge...laat dié dinge na vorms ryp. Moenie te haastig wees om iets as sy finale vorm te beskou nie. En hy sluit af: Laat my toe om net 'n paar waarhede weer te beklemtoon: sorg dat die roman 'n sentrale idee het waaruit die verhaal, die karakters, agtergrond en titel groei. Jy moet die verskillende ervarings in verhaalvorm saamvat - moenie preek, maar laat dade spreek...Ek noem dit net omdat die beskrywing van ervarings maklik 'n roman - aan die ander kant - kan laat verbrokkel tot los episodes. Alhoewel die aangetroude familieband tussen hom en Jannie Theron en sy liefde vir sy suster Liz ongetwyfeld 'n rol gespeel het, is dit tog merkwaardig dat Opperman in hierdie jare van drukke aktiwiteit bereid was om soveel moeite te bestee aan 'n werk wat, ten spyte van sy besliste kwaliteite, blote ontspanningslektuur was. Dit illustreer sy belangstelling in ander se skeppende werk, maar ook sy oortuiging dat hy deur sy advies mense kon help en op dié wyse 'n diens aan die hele Afrikaanse literatuur lewer. Lank voordat daar dus in die | |
[pagina 136]
| |
VSA van ‘creative writing schools’ sprake was, het Opperman deur sy werk by Die Huisgenoot, sy aandeel aan die redigering van Standpunte, sy keurwerk vir die Nasionale Pers se uitgewersafdeling en sy advies op persoonlike vlak hierdie funksie ten opsigte van die Afrikaanse literatuur vervul. In die jare wat kom, sou hy nie alleen hiermee voortgaan nie, maar sy aktiwiteite op dié gebied verder uitbou. | |
VDie noue kontak met die uitgewery van die Nasionale Pers lei in die laatveertigerjare tot een van Opperman se belangrikste ondernemings, naamlik die samestelling van die reeks bloemlesings uit die Afrikaanse poësie. Ten einde die geskiedenis van hierdie publikasies volledig na te gaan, is dit nodig om die briefwisseling en onderhandelinge wat tot die bloemlesings aanleiding gegee het, nader te bekyk. In 'n brief van 23 Julie 1946 vra George Minnaar, indertyd hoof van die uitgewersafdeling van die Nasionale Pers in Bloemfontein, vir Opperman verlof om enkele gedigte uit Heilige beeste in 'n herdruk van D.F. Malherbe se Afrikaanse letterkunde: 'n Bloemlesing op te neem. In antwoord hierop verleen Opperman in 'n brief van 5 Augustus aan Minnaar die nodige verlof, maar voeg by: ‘Ek neem aan dit (naamlik die verlof tot opname - J.C.K.) geskied volgens die normale honorarium-tarief van die Nasionale Pers, nl. 15% pro rata verdeel tussen die skrywers nadat die vergoeding aan die samesteller by die normale produksiekoste getel is.’ Hierop laat weet Minnaar in 'n brief van 17 September 1946 vir Opperman dat hy die aangeleentheid met die samesteller bespreek het. Malherbe het egter besluit om ‘nie van die aanbod gebruik te maak nie’ en dus geen gedigte uit Heilige beeste in die herdruk van die bloemlesing op te neem nie. Hierop laat Opperman in 'n brief van 21 September 1946 vir Minnaar weet ‘dat daar hoegenaamd geen sprake van 'n “aanbod” van (sy) kant was nie’. Hy gaan voort: Die werklike toedrag van sake is dat u my genader het (met u skrywe van 23 Julie) met 'n ‘versoek’ of ek my toestemming sou verleen tot die opname van twee van my gedigte in bogenoemde bloemlesing. Dit is dus nie 'n geval van dat u ‘nie van die aanbod’ gebruik sal maak nie, maar wel 'n geval van u ‘versoek’ wat teruggetrek word. In die onderhandeling is hierdie verskil en optrede van groot belang en daarom wil ek dit graag duidelik aangeteken hê. Uit Opperman se brief kan 'n mens reeds aflei dat veel meer in die spel was as wat hier geformuleer is. Dit was bekend dat D.F. Malherbe nie veel waardering vir die poësie van die Dertigers en die geslag van die veertigerjare gehad het nie, terwyl hy medeverantwoordelik was vir die negatiewe gesindheid teen- | |
[pagina 137]
| |
oor W.E.G. Louw se kandidatuur toe die Vrystaatse Universiteitskollege die vakante leerstoel in Afrikaans en Nederlands in 1941 moes vul.Ga naar eind27 Daarby kan 'n mens met redelike sekerheid aanvaar dat Opperman as flinke literêre speurder in dié stadium geweet het dat Malherbe aanvanklik sterk gekant was teen die toekenning van die Hertzogprys vir Heilige beeste.Ga naar eind28 Hy het verder uitgevind dat sowel N.P. van Wyk as W.E.G. Louw glad nie genader is vir opname van werk met die oog op die nuwe uitgawe nie, terwyl van Ernst van Heerden slegs een en van Opperman twee gedigte aangevra is. Die hersiene bloemlesing sou dus hoegenaamd nie verteenwoordigend van die Afrikaanse poësie wees nie. Afgesien van die wantroue in die samesteller se literêre oordeel was Opperman se belangrikste beswaar dat Malherbe sy onderneming as ‘volkswerk’ beskou, maar tog die volledige outeursaandeel in sy sak steek, sonder enige vergoeding aan die medewerkende digters. Dit was dus nie 'n geval van ‘vir die saak’ nie, maar ‘vir die sak’,Ga naar eind29 soos Opperman dit met sy lewendige slagvaardigheid geformuleer het. Terwyl Malherbe hovaardig teenoor George Minnaar te kenne gegee het dat ‘hy nie oor kultuursake bie nie’,Ga naar eind30 was Opperman - soos hy dit in 'n brief van 18 Augustus 1947 aan W.E.G. Louw stel - nie baie geesdriftig om sy muntstuk in te gooi toe die ‘oubaas’ sy ‘kollektebussie na Heilige beeste uitsteek’ nie. Daarby het Opperman 'n vermoede gehad dat Malherbe hom om die twee gedigte gevra het net omdat hulle 'n kort rukkie tevore saam gedrink het! Opperman het reeds in hierdie jare sterk gelet op die finansiële moontlikhede van literêre werk en was gesteld daarop om vir deeglike arbeid ook behoorlik vergoed te word. Daarom was hy gegrief oor die wyse waarop gevestigde bloemlesers soos Malherbe, E.C. Pienaar en M.S.B. Kritzinger die medewerkers behandel het. Hy vra dus 'n onderhoud met die hoof van die Nasionale Pers se uitgewersafdeling aan. In hulle gesprek sê hy vir C.F. Albertyn hy vind dit 'n skande dat die Pers Malherbe toelaat om die skrywers onder die voorwendsel van volkswerk so uit te buit. Met die opvallende hiate en swak keuse mag die Pers nie so 'n bloemlesing herdruk nie - Van Wyk en W.E.G. Louw word byvoorbeeld weggelaat omdat hulle nog nie saam met Malherbe gedrink het nie! Ook uit 'n sakestandpunt kan 'n mens die publikasie nie verdedig nie. Die Pers laat hulle al hierdie dinge welgeval net omdat dit D.F. Malherbe is. Opperman gee verder aan Albertyn 'n opgawe van die bestaande bloemlesings. Hy wys daarop dat terwyl die Pers die meeste digbundels uitgee, ander uitgewers met hulle bloemlesings die voorskryfmark oorheers sonder om die opgenome digters op enige wyse te vergoed. In hulle gesprek stem Albertyn met Opperman saam, maar sê dat hy in dié stadium nie meer ‘die publikasie kan keer nie’. Mense soos Opperman ‘moet maar die bloemlesing “uitkaffer” as dit verskyn en dan aan die samestelling van 'n nuwe bundel begin dink’. Wat so 'n nuwe bloemlesing betref, doen hy aan die hand dat Opperman met D.J. Potgieter gesels.Ga naar eind31 | |
[pagina 138]
| |
Alhoewel die aangeleentheid onder Potgieter se aandag gekom het, is dit voorlopig daarby gelaat. Aan die einde van 1946 verskyn Stiebeuel en in Maart 1947 vra Potgieter vir Opperman en Le Roux om vir die Nasionale Pers twee bloemlesings saam te stel wat onderskeidelik die beste kortverhale en die beste essays uit die jaargange van Die Huisgenoot sal bevat. Verder vra hy vir Opperman om 'n bloemlesing uit die Afrikaanse poësie saam te stel wat sowel aan die universiteite as op hoër skole gebruik kan word. Dit staan Opperman vry om medewerkers in te roep indien hy dit verkies. In die vier maande wat op hierdie gesprek volg, het Opperman en Le Roux begin werk aan die kortverhale en essays in Die Huisgenoot. Betreklik gou was Opperman egter verveeld en het hy begin twyfel oor hoe ver hulle sou kom. Die bloemlesing uit die poësie was vir hom 'n groter uitdaging en hy het al sy aandag daaraan begin gee. Juis in hierdie tyd nader die bestuurder van HAUM hom met die versoek om E.C. Pienaar se bloemlesing Digters uit Suid-Afrika, wat by hulle verskyn het, maar waarin die poësie vanaf die dertigerjare nie verteenwoordig is nie, met die oog op 'n heruitgawe uit te brei. Opperman wys egter die uitnodiging van die hand omdat hy bewus was van die sterk antipatie wat daar van vrywel alle jonger digters teen Pienaar sedert sy negatiewe resensie oor Die halwe kring bestaan het. Indien Pienaar se naam op die titelbladsy verskyn, sou Opperman nie 'n enkele gedig van 'n jongere kry nie. HAUM wou egter graag die bloemlesing laat uitbrei en op voorstel van Pienaar self het hulle besluit om W.E.G. Louw in dié verband te nader. Intussen het die Nasionale Pers deur Opperman te hore gekom van die moontlike uitbreiding van die HAUM-bloemlesing en begin haastig raak met hulle eie beoogde publikasie. Aangesien Opperman nog nie baie ver met sy keuse was nie en HAUM nou na alle waarskynlikheid W.E.G. Louw om 'n soortgelyke bloemlesing sou nader, kom Opperman met Potgieter ooreen dat hulle Louw as mede-samesteller moet betrek. Daarby wou die Nasionale Pers graag die bloemlesing aan universiteite en skole laat voorskryf. Louw sou dus as universiteitsdosent die nodige skakelwerk hiervoor kon doen. Verder was die broers Louw dikwels ‘moeilik’ as dit kom by die opname van hulle gedigte in bloemlesings. Met W.E.G. Louw as mede-samesteller was die probleme in verband met sy eie werk uit die weg en sou Van Wyk Louw ook geredelik tot opname instem. Opperman en Potgieter kom ooreen dat Opperman eers persoonlik aan W.E.G. Louw skryf. Indien hy instem om mee te werk, sal Potgieter namens die Nasionale Pers aan hulle albei skryf met die versoek om die bloemlesing saam te stel. Op 29 Julie 1947 pos Opperman sy brief aan Louw. Die bloemlesing moet, so sit hy die onderhandelinge met die Nasionale Pers uiteen, vir sowel Matriek as universiteit geskik wees. Die Pers is bereid om vyftien sjielings per bladsy of gedeelte van 'n bladsy te betaal vir 'n oplaag van 5000 eksemplare - die eerste keer in die Afrikaanse uitgewerswese dat daar van vergoeding aan die mede- | |
[pagina 139]
| |
werkende digters by die samestelling van 'n bloemlesing sprake is. Op 4 Augustus 1947 antwoord Louw dat hy in elk geval nie HAUM se uitnodiging sou aanvaar het nie, omdat hulle te min oorspronklike digbundels uitgegee het. Hy sal graag met Opperman so 'n bloemlesing wil saamstel. Hy wei uit oor 'n beoogde soortgelyke bundel van P.J. Nienaber, die basis vir die vergoeding, die vraag of daar 'n inleiding en kort verklarende aantekeninge moet bykom, literêre sake van die dag, gelukwense met die Oppermans se dogtertjie en sy en Rosa se plesier aan Johannes wat sy eerste woorde begin sê. Wat 'n mens opval, is die gemak en wydlopigheid waarmee Louw, enigsins rommelrig, oor allerlei dinge skryf - in skrille teenstelling tot die tersaaklikheid en logiese gang van Opperman se brief. Op 22 Augustus 1947 skryf Potgieter die beloofde uitnodigingsbrief aan Opperman en Louw. In plaas van 'n groot bloemlesing, soos mondeling met Opperman afgespreek, vra hy egter vir twee skoolbloemlesings: een vir die Junior en een vir die Senior Sertifikaat. As W.E.G. Louw 'n maand later in Kaapstad met besoek is, voer hy en Opperman met Johan Spies en Potgieter samesprekings waartydens hulle besluit om ook 'n derde bloemlesing vir die Hoër Onderwys uit te gee. Die hoop word aan uitgewerskant uitgespreek dat die manuskrip hulle einde Januarie 1948 sal bereik. As 'n mens die briewe van W.E.G. Louw nagaan in die maande wat volg, is dit opvallend dat hy telkens met 'n lang omhaal van woorde en 'n sekere hoofsheid oor klein sakies in verband met die bloemlesings uitwei, maar dat daar weinig blyke is van enige werk wat gedoen word. In 'n brief van 28 Augustus 1947 aan die Pers lei hy verkeerdelik uit 'n sinnetjie in 'n vorige brief af dat die uitgewers sy en Opperman se manuskrip aan 'n keurder gaan voorlê en praat hy uitvoerig oor wedersydse vertroue, terwyl hy op 30 Augustus vir Opperman uiteensit hoeveel die Pers uit die boek gaan maak en waarom Nasionale Persaandele derhalwe so gesog is. Opperman beantwoord al die aangeleenthede uit hierdie en vorige briewe sistematies. Tydens die somervakansie van 1947-1948 het hy moeite om afsprake met Louw in die Kaap te reël ten einde die werk aan die bloemlesings verder te voer. Uit sy brief van 9 Maart 1948 blyk dit dat hulle gesamentlike keuse uit Leipoldt, Celliers, Marais, Toon van den Heever, Van Wyk Louw en C.M. van den Heever klaar is. Opperman lê nou sy keuse uit D.F. Malherbe, Keet, Kamp, Fagan, Mocke, Petersen en Stiebeuel aan Louw voor. Eers op 1 Junie reageer Louw op hierdie brief. In plaas van sy keuse uit die betrokke digters vra hy vir Opperman om vir die derde deel van Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner die oorsig oor Louw se eie werk te skryf. In sy antwoord van 13 Junie stel Opperman vir Mulder of anders Dekker vir die taak voor. Aangesien sowel sy werk as Louw s'n in die artikel ter sprake kom en hulle nog boonop die bloemlesings gaan saamstel, kan dit 'n vreemde indruk wek as hulle oor mekaar se oeuvres skryf. In die slotparagraaf sê hy dat hy wag op W.E.G. Louw se keuse. Hierop laat Louw eers meer as ses weke later (op | |
[pagina 140]
| |
2 Augustus 1948) aan Opperman weet dat hy weens werkdrukte nog nie 'n finale keuse kan stuur nie. Ook op 9 September skryf hy dat die tyd steeds ontbreek. Alhoewel dit nêrens uit die dokumente blyk nie, kan 'n mens vermoed - gedagtig aan sy drif om hangende sake sorgvuldig maar met die minste tydverspilling afgehandel te kry - dat Opperman teen hierdie tyd betreklik radeloos oor die laksheid van sy medesamesteller sou wees. Intussen het die Pers op 17 Julie die twee samestellers daaraan herinner dat inlewering van die manuskripte dringend noodsaaklik geword het. As daar geen positiewe reaksie op dié brief kom nie, herhaal hulle in 'n brief van 26 Oktober die dringendheid van inlewering. Opperman was daarvan bewus dat Louw aan die einde van 1948 met groot verlof na Europa sou vertrek en hy was bevrees dit sou die afhandeling van die opdrag nog verder vertraag. Na verdere briefwisseling beloof Louw in 'n mededeling van 11 November dat as hy die manuskripte nie voor sy vertrek na Europa kan klaarmaak nie, hy dit op die bootreis sou probeer doen. Op 16 Desember skryf Louw uiteindelik 'n brief aan Opperman met 'n lang uitweiding oor die redes vir die vertraging: sy besoek aan Johannesburg, 'n artikel oor Leipoldt en sy bydrae vir Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner, III wat hy moes voltooi, eksamenwerk en reëlings vir die reis na Europa. In die brief gee hy sy keuse uit Malherbe, Keet, Kamp, Fagan, J.H. Naudé, Kirsch, Mocke, Stiebeuel, Watermeyer, Petersen, Totius, Langenhoven, J.R.L. van Bruggen, Eitemal, Haarhoff en S.J. Pretorius. Dit was sy voorneme, so skryf hy, om nog bundels aan boord van die skip onderweg na Kaapstad deur te werk, maar tot sy ontsteltenis moes hy ontdek dat hy die boeke nie besit nie. Hy vra Opperman andermaal om verskoning: ‘My opregte spyt vir die vertraging, wat egter geheel en al onvermydelik was.’ As die boot in Kaapstad aankom, het Opperman 'n onderhoud met W.E.G. Louw. Opperman gee aan Louw afskrifte van alle voorlopig gekeurde gedigte waaraan hy bygevoeg en weggelaat het, en Louw onderneem om alles tydens die reis finaal af te handel. Die eerste pak sou hy dan van die eiland Tenerife aanstuur, terwyl die res uit Amsterdam sou volg. Aan die begin van 1949 was die werk oor die periode 1900-1948 vir die groot bloemlesing dus in 'n gevorderde staat, maar die keuse uit die negentiendeeeuse poësie nog onafgehandel. Verder moes 'n aantal nuwe publikasies deurgewerk word en 'n bibliografie nog bykom. Vir die Junior en Senior verseboek is slegs voorlopige keuses uit die periode 1900-1948 gemaak. Alles het gewag op deeglike kontrole, en die finale keuse en rangskikking moes nog plaasvind. Aan die gedigte voor 1900 was daar, met uitsondering van Opperman se aandeel, nog niks gedoen nie, terwyl 'n keuse uit die jongste publikasies moes bykom. Verder moes daar by albei bundels 'n inleiding, en by elke digter lewensbesonderhede en 'n karakteristiek gegee word. Die afskrifte moes ook met die oorspronklike tekste vergelyk en persklaar gemaak word. | |
[pagina 141]
| |
VI'n Belangrike bydraende faktor tot die hoë status wat Opperman van vroeg af in die literêre wêreld geniet het, was die toekenning van die Hertzogprys vir Poësie aan Heilige beeste in 1947. Dit was slegs die vierde keer dat die Hertzogprys aan 'n debuut toegeken is en die eerste keer dat so 'n bundel dit uitsluitlik - sonder verdeling of inagneming van ander werk - ontvang. Publikasies wat ook in aanmerking gekom het, was die debute van Petersen, Kirsch en Pretorius en Van Heerden se Verklaarde nag. 'n Mens kan dus vermoed dat die bekroning vir die keurkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 'n betreklik maklike aangeleentheid sou gewees het. Tog was dit nie die geval nie. Die keurkommissie het bestaan uit F.E.J. Malherbe, D.F. Malherbe en W.J. du P. Erlank. As die kommissie in Johannesburg bymekaarkom, staan Erlank aanvanklik alleen in sy aanbeveling van Heilige beeste, al steun F.E.J. Malherbe hom betreklik gou na die aanvang van die vergadering. D.F. Malherbe was egter onwrikbaar, omdat Opperman se werk vir hom onnasionaal, oncalvinisties en duister was, Die woordewisseling tussen Erlank en D.F. Malherbe was later só erg dat die lede van die hoofbestuur die twee in 'n kamer afgesonder het om sake uit te praat. Erlank se standpunt was dat Opperman een van die mees nasionale digters in Afrikaans was en dat sy poësie as 'n voortdurende worsteling met eie godsdienstige oortuigings 'n veel strydbaarder Calvinisme as dié van die sagsinnige Totius openbaar. Dit is wel minder eksplisiete werk, maar as poësie veel groter as enige ander bundel wat vir bekroning in aanmerking kom. Uiteindelik sê D.F. Malherbe dat hy die bekroning van Heilige beeste sal steun, mits Erlank op die volgende jaarvergadering van die Akademie 'n referaat sal hou waarin hy Opperman as nasionale en Calvinistiese digter sal behandel en waarin hy sal aantoon dat Heilige beeste nie onbegryplike poësie is nie. Erlank aanvaar hierdie voorwaarde en uitdaging. In die keurkommissie se verslag word gepraat van die konkrete en aardse inslag van Opperman se poësie, sy oorspronklike beelding..., verdigtende vermoë en stukrag. Sy sterk verbondenheid met die aardse, tesaam met sy erkenning van essensiële sielswaardes wat temidde van alle verandering konstant bly, gee aan sy digterlike hartstog ewewig, soos dit hom origens behoed teen grootdoenerigheid, selfvertroeteling, en die kultus van die yle en salonagtige literêre uitdrukking, wat ons meermale by jongeres vind.Ga naar eind32 'n Mens kan met redelike sekerheid aanneem dat hierdie kensketsing en lof in hoofsaak die formulering van F.E.J. Malherbe en Erlank was. Alhoewel die verslag ook deur D.F. Malherbe onderteken is, het hy waarskynlik daarop | |
[pagina 142]
| |
aangedring dat sy besware êrens neerslag moes vind. 'n Mens vermoed dus dat die slot van die verslag op sy rekening moet kom: Wanneer u Kommissie hierdie werk aanbeveel as van voldoende betekenis vir bekroning en wanneer die Akademie dit sou bekroon, sou dit egter moet geskied ondanks 'n storende verbanalisering - soos in sommige verse op te merk - van die God-begrip, esteties nadelig, in aards-paganistiese sin. Die oorblywende verse is darem nog van genoegsame betekenis. Die Akademie aanvaar hiermee 'n bepaalde verantwoordelikheid.Ga naar eind33 Hierdie slot verplig Erlank om 'n naskrif by die verslag by te voeg. Daarin sê hy: Ook ek vind die verkorting, om nie te sê vernietiging, van die afstand, wat binne ons Calvinistiese lewensbeskouing altyd moet bestaan tussen die mens as aanbiddende beskouer en God as voorwerp van ons aanbidding, esteties nadelig. Die woord ‘verbanalisering’ is egter m.i. nie gewettig nie. Met daardie voorbehoud plaas ek my handtekening by bogenoemde aanbeveling.Ga naar eind34 Die Fakulteitsraad van die Akademie behandel die verslag op sy vergadering van 7 Junie 1947 in Bloemfontein en besluit eenparig om Heilige beeste te bekroon, 'n besluit wat nog dieselfde dag deur die Akademieraad bekragtig is. Van die kant van mindere skrywers en letterkundiges wat Opperman teen hierdie tyd by herhaling vir sy ‘duisterheid’ uitgekryt het, kom daar na die bekendmaking van die toekenning gou besware. In Die Brandwag van 27 Junie 1947 sê 'n anonieme skrywer die bekroning laat 'n mens ‘kriewelrig’ voel omdat die bundel nie deur die ‘breë volkslaag’ verstaan en waardeer sal word nie. Opperman se werk adem, volgens hierdie artikel, ‘te min van die gees van ons land en sy mense’ en is daarby te ‘duister’. Die Akademie behoort nie 'n werk te bekroon as die algemene publiek dit ontoeganklik vind nie. In aansluiting hierby verskyn 'n hoofartikel in Die Brandwag van 8 Augustus 1947 waarin die saak verder gevoer word. Die redaksie haal goedkeurend 'n naamlose brief aan waarin die Akademie beskuldig word dat hy met dié bekroning die Hertzogprys ‘goedkoop’ maak en pleit vir 'n ‘nuwe beleid’ by toekennings. In Die Brandwag van 29 Augustus 1947 verskyn 'n spotprent van 'n stiervegter met 'n bul wat Opperman se gesig het. Die limerick daarby lui: Toreador van Spanje, senor Rees,
was 'n bul se moses gewees...
Maar sy blus was gou uit
toe hy eenkeer moes stuit
teen Opperman se Heilige Bees.
Opperman ontvang die Hertzogprys vir Heilige beeste op 25 Julie 1947 by 'n | |
[pagina 143]
| |
plegtigheid in die Andrew Murraysaal van die CSV-gebou op Stellenbosch. By dié geleentheid spreek F.E.J. Malherbe die huldigingswoord uit, terwyl Erlank volgens die ooreenkoms met D.F. Malherbe 'n referaat lewer oor ‘Die gemeenskap en die digkuns’.Ga naar eind35 Ná die plegtigheid is die Oppermans saam met Ernst van Heerden en Ina Rousseau vir die middagete na die Uitspan-kafee, want dit was in dié jare nog nie die gebruik dat die Akademie of die uitgewers 'n dinee by so 'n geleentheid aanbied nie. Daarna het hulle opgestap na Ernst van Heerden se woonstel in Christellahof om verder te gesels. | |
VIIMet die aanvaarding van die redaksionele pos in 1946 het Opperman gevoel dat dit behalwe by hoë uitsondering beter vir hom is om geen resensies te skryf nie, veral nie oor boeke deur skrywers wat aan Die Huisgenoot meegewerk het nie. As F.E.J. Malherbe hom vra om soos in die verlede boeke vir Ons Eie Boek te bespreek, wys hy die uitnodiging van die hand. In 'n brief van 1 Mei 1946 aan Malherbe sê hy dat hy sy tyd saans graag vir sy eie skeppende werk wil oophou; indien hy by wyse van uitsondering tyd aan die skryf van studies oor skrywers of die bespreking van boeke afstaan, moet dit oor werk wees wat vir hom persoonlik van belang is.Ga naar eind36 Die gevolg van hierdie (volkome verstaanbare) standpunt is dat daar in die periode 1946 - Februarie 1949 slegs een boekbespreking van Opperman verskyn, nl. die reeds genoemde resensie oor Ernst van Heerden se Verklaarde nag wat hy as radiorede lewer en wat daarna in Die Burger en Critisch Bulletin gepubliseer word. Reeds hierdie bespreking kan 'n mens nie meer 'n gewone resensie noem nie, want Opperman probeer om met 'n analise van die psigiese werklikheid, die geestespole ‘erns’ en ‘spel’ en die verhouding tussen die ‘sobere’ en die ‘versierende’ tot die essensiële van Van Heerden se bundel deur te dring en daarby ook iets oor die digterskap as sodanig te sê. In 1945, nog vóór hy by Die Huisgenoot werksaam is, verskyn van hom in dié blad 'n indringende studie oor N.P. van Wyk Louw se poësie,Ga naar eind37 die eerste van sy groot opstelle wat hy later in Wiggelstok opneem. In die daaropvolgende jare publiseer hy, hoofsaaklik in Standpunte, ewe indringende studies oor die poësie van C.M. van den Heever, A. Roland Holst, Gerrit Achterberg, Totius,Ga naar eind38 Jan Greshoff en G.A. Watermeyer, terwyl hy ook 'n kort opstel aan die aard van die kwatryn wei en die verhouding tussen Calvinisme en kuns (laasgenoemde later opgeneem in Naaldekoker) nagaan. Hierdie opstelle is nie alleen belangrik vir die nuwe lig wat hulle op die onderskeie digterskappe, literêre kategorie of besondere soort kuns werp nie, maar ook vir die insig in die literatuur as sodanig en in Opperman se opvattinge oor die digterskap in die besonder. In die studie oor Van Wyk Louw wei hy uit | |
[pagina 144]
| |
oor die slopingsproses en die wegbreek van alle beskuttings en 'n vaste waardestelsel, wat in hierdie poësie, soos dikwels in groot literatuur soos dié van Dostojewski (oor wie hy in sy studentejare 'n opstel skryf) voorkom, terwyl hy aan die hand van Clifford Dyment tussen die kunstenaar van die daglig en die kunstenaar van die nag onderskei. In die opstel oor C.M. van den Heever maak hy 'n onderskeid tussen die manlike en vroulike digter wat hy verder met die begrippe Oosters, ontvanklik en kontemplatief, teenoor Westers, daaddrang en vormdrif, aandui. Die studie oor Van den Heever, wie se poësie met die eenselwigheid, neiging tot ontgrensing en vaagheid in baie opsigte die teenpool van Opperman se eie werk is, illustreer hoe verkeerd Leo Spitzer was met sy opmerking dat die kritikus alleen dit analiseer wat hy liefhet. Hy kan ook met dieselfde deeglikheid en hartstog werk ontleed wat hom teenstaan en waarvan hy gru. Die verkenning van Totius se poësie gaan uit van die begrip dialektiek en die verdeling in nasionale en persoonlike boustof, terwyl hy 'n groot deel van hierdie oeuvre sien as ‘die moeisame stryd van 'n persoonlikheid wat telkens van 'n “ramp” herstel’.Ga naar eind39 In die studie oor Watermeyer wys hy naas sy geesdrif vir Sekel en simbaal op die gevaar van die ‘liriese roes’ en die ‘veelwoordigheid’.Ga naar eind40 Wat 'n mens in opstel na opstel opval, is Opperman se vermoë tot sintese. Ten grondslag daarvan lê egter 'n baie deeglike bestudering van elke afsonderlike teks, sodat die sintese op 'n duidelike onderbou berus. Daarnaas word 'n mens in hierdie opstelle telkens getref deur sinvolle opmerkings oor die digterskap as sodanig. In die opstel oor Van Wyk Louw onderskei Opperman tussen die seggingsvers en beeldingsvers as ‘die twee rigtings waarlangs elke kunstenaar se werk ontwikkel’.Ga naar eind41 Totius se simboliek herlei hy tot waarneming en lering wat 'n verband toon met die Nederlandse emblematakuns en heel selde ‘die suiwer simbool of gestalte (is) wat sonder toeligting vanself sy dieper waarheid aan ons openbaar’.Ga naar eind42 'n Mens voel dat Opperman veral met hierdie laaste omskrywing sy eie poëtiese werkwyse in gedagte het. As hy na aanleiding van Totius se gebruik van geskiedkundige en Bybelse verwysings praat van 'n verskuns wat gebaseer is ‘op die beginsel van geringe aanduidings’ en van die ‘goeie begryper (wat)...'n halwe woord’Ga naar eind43 nodig het, voel 'n mens dat dit eweneens 'n beginsel is wat Opperman in sy eie werk toepas. En as hy na aanleiding van Trekkerswee sy waardering uitspreek vir Totius se ‘nugtere sienings, sy stel van problematiese gegewens van nasionale, metafisiese en bloot menslike aard’,Ga naar eind44 is dit die digter van die latere Joernaal van Jorik wat hier reeds sy eie gedagtes oor 'n epiese werk van groter omvang formuleer. In dieselfde opstel praat hy van die ouer poësie wat die Afrikanernasionalisme met ‘enkelvoudige beelde’ soos die besembos, ossewa en boer voorgestel het, beelde wat vandag ‘poëtiese wapens’ in die politieke stryd is. Daarteenoor is ‘die neiging in die jonger poësie...om die nasionalisme eerder onregstreeks vollediger uitdrukking (met “overtones” en “undertones”) te laat vind’,Ga naar eind45 'n uitspraak wat 'n mens ook dadelik aan Joernaal van | |
[pagina 145]
| |
Jorik laat dink. Orals in die opstelle gee Opperman blyke van sy gevoeligheid vir klank en ritme. In Totius se werk hinder die ‘dreunklank’ wat 'n mens later ‘hardhorend’ maak, terwyl ‘die stem wat op die lange duur oortuigend bly,...sagter en selfs prewelend’Ga naar eind46 is. C.M. van den Heever se vers word ‘baiemaal 'n weemoedige, monotone geneurie waaronder 'n mens dreig om in te sluimer, maar kort-kort deur jou kritiese sin gewek word om te vra: Wat is die verband? Waarna mik die digter? Wat is die noodsaak van hierdie vers?’Ga naar eind47 En na aanleiding van Van Wyk Louw se Gestaltes en diere sê hy dat die liriek en epiek nader na mekaar toe beweeg. Hy vervolg: In die beste moderne vers is die eintlike suiwer sang aan die wegsterf. Dit is asof ons hedendaagse bewussyn die sogenaamde spontane sweeftog in dwang hou; dit word deur die intellektuele gedemp maar ook gerig, verhewig en geaksentueer. So 'n vers, soos by Louw, het egter 'n eie kinetiese genot. Met sterk voortstuwinge en enjambemente word die beweging in Louw se vers soos dié van 'n aflosren: 'n veerkragtige wegspring langs 'n voorbestemde baan waar die beweging opgeneem word deur 'n volgende veerkragtige wegspring. Hierdie impulse breek soms deur die tradisionele versvorme heen in die heffingsvers.Ga naar eind48 Uit enkele uitsprake in hierdie opstelle kan 'n mens meer te wete kom van Opperman se siening van die digterskap. In die kort aantekeninge ‘Oor die kwatryn’ beredeneer hy die voor- en nadele van die verskillende rympatrone en gee hy voorkeur aan die aaba-rymskema, terwyl hy ook die struktuur van dié soort gedig nagaan en dit karakteriseer as ‘klein stukkies dinamiek van die gees’Ga naar eind49 - 'n belangrike sleutel tot Opperman se eie praktyk. In aansluiting by Vondel se opvatting dat 'n digter deur bestudering van ander digters sy eie werk kan verryk, sê Opperman in sy Van Wyk Louw-opstel dat ‘die grootste kunstenaars nog altyd die grootste studente was, en dan met 'n besondere vermoë om hulle medekunstenaars te absorbeer’.Ga naar eind50 Vir Opperman se opvatting oor die wyse waarop 'n digter sinryk by 'n tradisie aansluit en vir 'n begrip van die hoeveelheid stof wat daar in sy bundels in die volgende jare verwerk word, is hierdie uitspraak van die grootste belang. Die absorbering van ander kunstenaars hoef nie klakkelose navolging of - soos hy later in verband met W.E.G. Louw sal aandui - 'n afgeleide digterskap tot gevolg te hê nie. Sinvolle beïnvloeding word ‘eerder 'n bestuiwing wat met elke bundel 'n voller en skoner bloei bring...(,) 'n groot distillasieproses: van retort na retort, 'n kleiner drup, maar suiwerder, gekonsentreerder’.Ga naar eind51 In die geval van Opperman se poësie is daar uiters selde voorbeelde van klakkelose navolging, maar by herhaling treffende gevalle van sy sinvolle omgang met die literêre tradisie en die verryking deur 'n distillasieproses. 'n Ander opvatting wat hy verder ontwikkel in die Van den Heever-opstel, is ‘wesenloosheid’ as essensiële voorwaarde vir die digter, 'n opvatting wat hy later met verwysing na John Keats vollediger sal | |
[pagina 146]
| |
formuleer. In die geval van C.M. van den Heever word die wesenloosheid egter iets negatiefs, want sy ‘ontvanklikheid’ bring mee dat hy ‘telkens 'n ander digter se persoonlikheid...aanneem’Ga naar eind52 en sy verse ‘onder hipnose van 'n ander digter skryf’.Ga naar eind53 Uitgaande van die indeling tussen vroulike en manlike poësie en die Oosters-Westerse wêreldbeeld sien hy ‘reseptiwiteit’ as die een voorwaarde vir die totstandkoming van kuns, maar daarna 'n ‘identifikasie met die gegewe, die Ding, voordat dit volkome gestalte in die taal vind.’Ga naar eind54 Daar is dus sowel 'n passiewe as 'n aktiewe fase in die totstandkoming van 'n vers, 'n wesenlose ontvanklikheid en 'n vereenselwiging wat tot gestaltegewing lei, ‘die vermoë tot belewing én beelding’.Ga naar eind55 Die volwasse skeppingsproses is dus nie manlik of vroulik nie, maar ‘hermafrodities’.Ga naar eind56 In sy opstel oor Van den Heever verwys Opperman na Rilke en in 'n aantekening in Standpunte III: 2, April 1948, wat slegs as ‘Die Redaksie’ onderteken word, kom hy terug op die Duitse digter se opvattinge oor ‘transformasie’ en strewe na verobjektivering. In dié verband verwys hy ook na Nijhoff se De pen op papier en T.S. Eliot se ‘objective correlative’ wat sentraal in sy ontwikkelende poëtiese teorie en praktyk sal staan. In die Van den Heever-opstel druk hy die hermafroditiese kunstenaarskap en die verhouding tussen weerspieëling en omskepping uit in die gedig ‘Minerva aan Tiresias’ wat hy later in Kuns-mis opneem. Opperman se insig in die digterskap, en sy besondere digterskap, blyk verder uit 'n uitspraak wat hy in sy studie oor Watermeyer maak. Watermeyer is die ‘beskrywend-ontspannende kunstenaar’ wat ‘oor 'n bekende wêreld dig’.Ga naar eind57 Daarteenoor - en hier het hy homself in gedagte - is daar 'n ander tipe digter. Hy skep in sy gedigte voortdurend nuwe waardes, nuwe spanninge - bepeil as 't ware met klank, beeld, gestalte en rym die onbekende. So 'n digter is soos die vlermuis wat bewegend tussen wisselende gestaltes van die nag, met fyn verontrustende klank en weerklank sy plek in die heelal bepaal. Hy is skeppend-ontdekkende kunstenaar.Ga naar eind58 Uit die ‘wisselende gestaltes’ waarvan hy hier praat, kan 'n mens aflei hoe Ovidius se Metamorfoses 'n steeds bestendige aanwesigheid in sy denke oor die poësie bly. Jare later sal hy in die ‘Vlermuis’-afdeling van ‘Blom van die baaierd’ hierdie opvatting in 'n strofe verwerk: Ek moet met rympies in U duister maal,
'n rukkerige vlug my lewe lank,
en tussen sterre en die stekels staal
telkens met klank en weerklank
my wisselende plek in die heelal bepaal.
As 'n mens Opperman se kritiese stukke in Die Natalse Afrikaner en later in | |
[pagina 147]
| |
Die Huisgenoot en Ons Eie Boek nog as die werk van 'n student en 'n ‘vakleerling’Ga naar eind59 kan tipeer, tree hy in die opstelle wat hy van 1945 af publiseer, te voorskyn as die volwasse letterkundige wat met sy borende intellek in die werk onder bespreking kan indring, maar daarby ook met sy hele digterskap op ander digters reageer. Wat sintetiese vermoë, logiese opbou, verrassende formulering en helder insigte betref, was daar tot die publikasie van dié stukke niks in Afrikaans wat daarmee vergelyk kon word nie. Hy oorweeg dit in hierdie jare om sy kritiese opstelle in boekvorm uit te gee, maar dit duur tot 1959 voordat hy tot bundeling oorgaan. | |
VIIIDie ooreenkoms tussen die uitspraak in die opstel oor Watermeyer en die strofe uit ‘Blom van die baaierd’, wat eers ongeveer vyf jaar later ontstaan, laat 'n mens vermoed dat Opperman met sy skeppende werk sistematies te werk gaan en dikwels invalle of beelde neerskryf wat eers veel later gebruik word. 'n Digter wat só behep was daarmee om skeppenderwys te lewe en vir wie die kunstenaarskap só sentraal was, is gewoonlik dag en nag in diens van die poësie. Dit bring mee dat hy voortdurend met allerlei idees speel, selfs al is hy nie aktief met nuwe werk besig nie. In stadia wanneer die organiese groei nog nie in 'n bepaalde rigting beweeg nie, skryf so 'n digter gewoonlik beelde of reëls wat hom te binne skiet in 'n manuskripboek neer. Hy lê as 't ware 'n kweektuin met allerlei plantjies of steggies aan. Die manuskripboeke van Negester oor Ninevé, Joernaal van Jorik en Engel uit die klip, waaraan Opperman in die jare 1946 - Februarie 1949 en later werk, bevestig dié werkwyse.Ga naar eind60 Voor die verskyning van Negester oor Ninevé publiseer hy uit dié bundel ‘Nagstorm oor die see’ en ‘Vrou’ in die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring van 1945,Ga naar eind61 terwyl ‘Legende van die drenkelinge’ as ‘Laaste heiden’ in Die Huisgenoot van 4 Januarie 1946 verskyn. Al die ander gedigte wat voor die definitiewe uitgawe van die bundel gepubliseer word, verskyn in Standpunte: ‘Ballade van die grysland’ en ‘Negester en stedelig’ in die uitgawe van April 1946, ‘Genesis’ in die uitgawe van Oktober 1946 en ‘Nagwaak by die ou man’, ‘Man met flits’ en ‘Pasiënt’ in die uitgawe van April 1947. Naas die ander gedigte in die manuskripboek, wat uiteindelik in die bundel opgeneem word, is daar talle gedigte wat Opperman ná oorweging vir publikasie verwerp. Van dié gedigte, soos ‘Leda se klag’ en ‘Oggend’, ondergaan 'n gedaantewisseling en essensiële beelde daaruit vorm later deel van Joernaal van Jorik. ‘Kontak’ vind Opperman in sy eerste vorm nie bevredigend nie, maar in die ‘Spel’-gedeelte uit ‘Genesis’ keer dit in 'n gewysigde staat terug. 'n Gedig soos ‘Barende vrou’ kom in verskeie versies | |
[pagina 148]
| |
voor. Opperman verwerp uiteindelik al hierdie variante en behou slegs flardes soos ‘waters van die dood’, ‘ark van haar skoot’ en ‘nagwaak/ van nege mane’ in die ‘Genesis’-trilogie. ‘Waterloot’ word ook verwerp, maar die primêre beeld verskyn veel later in ‘Lente in ons prosa’ wat Opperman as ‘afvalproduk’ in Kuns-mis opneem. ‘Uit die dagboek van 'n seun’ is die ruwe voorstadium van die uitvoerig uitgewerkte gedeelte oor die ‘rooivalkies’ in die ‘Kamera’-afdeling van Joernaal van Jorik. Ook 'n gedig soos ‘Voorjaar’ is uiteindelik te lig bevind vir finale gebruik, terwyl ‘Drinkliedjie van 'n volk’ die voorstadium is van ‘Vigiti magna’. 'n Vergelyking tussen laasgenoemde twee gedigte illustreer die hoeveelheid werk aan hierdie poësie en watter hoë eise Opperman aan homself gestel het. Uit die oorspronklike gedig behou hy letterlik net enkele woorde, rymklanke en sienings, en laat hy die onbevredigende en enigsins naïewe refrein heeltemal weg. Ook ‘Gebed vir die ongeborene’ vergelyk onbeholpe met die glashelder ‘Negester en stedelig’ wat uiteindelik daaruit ontwikkel. En dat hierdie kweektuin dikwels steggies bevat wat eers jare later uitgeplant word, sien 'n mens in die aantekening oor ‘Boelalalamp’ op p. 102 van die manuskrip - 'n gegewe wat eers in die bundel Dolosse van 1963 finale vorm vind. Om die ontstaans- en ontwikkelingsgeskiedenis van al die gedigte in die Negester oor Ninevé-manuskripboek - wat uit 275 bladsye bestaan - na te gaan, sal 'n aparte studie verg. As voorbeeld van die verskillende voorstadia en Opperman se werkwyse as kunstenaar kan 'n mens egter kyk na die manuskripgegewens wat daar in verband met 'n gedig soos ‘Digter’ bestaan. Reeds in die tyd dat hy aan Heilige beeste werk, skryf Opperman 'n kwatryn met die titel ‘Alkoholiese digter’, wat die verre voorloper van die uiteindelike gedig is: Ek moet my eilandnood in die verblyf
as laaste woord van (aan) die wêreld skryf
en daarom drink en drink
dat my boodskappe in bottels dryf.
In hierdie vroeë fase is daar sprake van 'n vae en ongekwalifiseerde ‘eilandnood’ en 'n digter wat sy boodskappe in bottels laat dryf. ‘Verblyf’ klink enigsins na rymdwang en die kompulsiewe drang na alkohol in die derde reël word 'n blote herhaling sonder werklike effekte. Die siening van gedigte as ‘boodskappe in bottels’ is wel verrassend, maar dit word nie beeldend genoeg gevoed deur die res van die gedig nie. As Opperman in die Negester oor Ninevé-manuskripboek weer met die voorstelling van die digter op 'n eiland begin, laat vaar hy die hele gedagte van die alkoholiese digter en kies sy gedig 'n heeltemal ander koers. Die eerste stadium sien as volg daar uit: | |
[pagina 149]
| |
In dié eerste stadium sien 'n mens reeds waarheen Opperman op pad is. Hy wil die afsluiting en eensaamheid van die banneling beklemtoon deur die ‘omsluiting’ deur die see, al is dit nog nie naasteby beeldend so oortuigend soos die latere ‘geëiland’ nie. Verder wil hy ook die verwydering van die vaderland en die verlange van die spreker voorstel, maar die neiging tot kriptiese formulering in ‘water vergesigte’ is nog onbevredigend. Opperman wil hier 'n saamgebalde konstruksie na analogie van ‘emmers water’ of ‘bottels wyn’ skep, maar dit druis in teen die gangbare Afrikaanse patroon wat 'n meervoudelike naamwoord deur 'n enkelvoudige selfstandige naamwoord laat volg. In die voorstelling van die digterlike skikkingsproses gebruik Opperman hier reeds die beeld van die ‘klein stellasies’ wat ‘agter die glas’ tot stand kom, die twee poëtiese kerne waaruit die gedig uiteindelik groei. In dié stadium is die ‘klein stellasies’ met die verklarende toevoeging ‘van die vers’ egter nog te eksplisiet in vergelyking met die latere flitsende metafoor, terwyl die slotreël voltooidheid mis. In die tweede stadium het die gedig al 'n hele ent gevorder: | |
[pagina 150]
| |
In vergelyking met die vorige stadium het Opperman hier 'n vaster greep deurdat hy in sy eerste strofe reeds drie van sy rymwoorde (stryd, gevang, verban) vaslê, al is hulle nog nie in die regte volgorde nie. Die verbanningsoord word ook nou gekonkretiseer as ‘Ceylon’, maar in 'n latere byvoeging (‘'n’) maak Opperman dit weer losser van tyd en plek en veralgemeen hy dit. In wat tans nog die derde strofe is, stel hy die wordingsproses voor met die woorde ‘groei en pas’ wat in die konteks egter toutologies aandoen, terwyl die slotreël nou ‘geslote agter glas’ lui - die eerste voltooide stukkie van die gedig. In hierdie stadium is die tweede strofe nog in 'n amorfe staat en oorwegend beeldloos, terwyl die ‘klein stellasies van my vers’ steeds te eksplisiet bly. 'n Mens kry verder die indruk dat Opperman met die verwysing na ‘'n tafel, bed of kerk’ nog onseker is oor waarheen die gedig-skip groei; die woord ‘kerk’ moet blykbaar 'n religieuse verdieping gee, maar dit is geheel en al onduidelik. In die verdere variant op dieselfde bladsy van die manuskripboek is strofe 1 feitlik finaal. Strofe 2 word nou ook, soos strofe 1, vierreëlig gekonsipieer, die rymwoorde ‘drange’, ‘vaderland’ en ‘verlange’ gee die klankstutte, en die onbevredigende ‘water vergesigte’ verdwyn heeltemal, maar die geheel is sintakties onbeholpe omdat Opperman nie raad weet met die vierde reël nie. In die volgende twee ontwikkelingstadia het Opperman, waarskynlik as gevolg van die onduidelike tweede strofe en die onsekerheid oor waarheen die gedig-skip groei, sekere gegewens bygevoeg wat hom op 'n dwaalspoor bring. Die eerste van hierdie twee fases lui: | |
[pagina 151]
| |
'n Muf nag het om my gestol, 'n grot,
waarin die wolke soos swart klippe hang
en druip
Ek is gevang, die nag groei tot 'n grot
wat drup
Ek staan gevange in 'n nag se grot
Gevange staan ek in die nag se grot
Die tweede fase, waarin die verband met die oorspronklike gedig-in-wording duideliker is, sien as volg daar uit: Die grot-beelde en die woord ‘doem’ wat ‘wand na wand’ weerklink, moet blykbaar die eensaamheid en idee van gevangeskap verder versterk, maar dit swaai só ver weg van die voorstellingswêreld waarmee Opperman besig is, dat 'n mens geredelik kan aanneem dat hy dit moeilik in dieselfde gedig 'n tuiste kon laat vind. Behalwe vir die woord ‘swerk’ in die volgende fase, wat nog by die grot-idee kan aansluit, laat vaar hy dan ook dié voorstelling geheel en al. Die | |
[pagina 152]
| |
grot-gedeeltes dien as voorloper vir die slot van die tweede gedig uit die ‘Genesis’-trilogie in Negester oor Ninevé wat Opperman etlike maande later voltooi; sommige beelde toon 'n woordelikse ooreenkoms met dié uit die manuskrip: Maar ek hoor net in 'n nagtelike wakkerskrik
onder druipstene van die sterre die getik
van dou in gleuwe...hoe die heelal as grot
op ‘liefde’, ‘dood’, ‘geboorte’, ‘God’,
en alle woorde, alle name wat ek noem
van wand tot wand weerklink met: ‘Doem!’
In die tweede helfte van die tweede grot-fase voeg Opperman enkele belangrike gegewens by wat in sy voltooide gedig neerslag sal vind, nl. ‘die klein gloed v/d kers’, die woord ‘skik’ en ‘die smal poort/ v/d wonder’, al is die ‘nagtelik groei’ nou toutologies met die ‘kers’-beeld en is daar nog steeds sprake van die onhelder ‘bed of kerk’ waarheen die gedig-skip groei. Vir die ontwikkeling van die gedig is die volgende stadium met al sy probeerslae van kardinale belang: | |
[pagina 153]
| |
Alhoewel reëls 2 en 3 van strofe 1 nou omgeruil is en in vergelyking met die finale teks 'n agteruitgang op die tweede stadium beteken, laat Opperman hier die woord ‘uiteindelik’ weg wat vir die konteks geen sin het nie. Uit die deurhale en herskrywings is dit duidelik dat hy nog baie probleme met strofe 2 ondervind, al kry hy hier reeds die gelukkige verbinding van die konkrete en abstrakte in ‘horisonne en verlange’. Strofe 3 kry nou ook vaster vorm deur die verdeling in vier versreëls. 'n Belangrike groeipunt hier is die gedronge, flitsende metafoor ‘klein stellasies vers’ wat die vroeëre eksplisiete beeld vervang. Die opvallendste ontwikkeling, alhoewel nog onvoltooid, is egter in strofe 4. Afgesien van die feit dat daar nou vir die eerste keer van 'n aparte vierde strofe sprake is, skakel Opperman hier in die loop van die verskillende probeerslae die oorspronklike groeistadia van die gedig-skip uit. Terwyl daar in die tweede stadium en ook die tweede grot-fase nog sprake was van ‘'n bed of kerk’ waarheen die gedig ontwikkel, noem Opperman nou net die ‘kerk’ in die eerste van hierdie probeerslae en kry die ‘klein skip’ veel meer prominensie soos dit algaande beeldend gevoed word deur ‘takelwerk’ en later ‘boeg en mas’. Die vier reëls wat hy hier vertikaal skryf, is kennelik die eindproduk van die vyf variante van strofe 4 wat in hierdie stadium ontstaan. Die volgende stadium van die gedig sien as volg daar uit: | |
[pagina 154]
| |
Met die pyltjie herstel Opperman die korrekte volgorde van die reëls in strofe 1, terwyl ‘verlore’ by ‘vaderland’ in strofe 2 bykom. 'n Belangrike deurbraak wat die beelding in dié strofe betref, is die byvoeging van ‘eiland’ in die rymposisie met ‘vaderland’, al weet Opperman nog nie hoe om dit te gebruik nie. Die verandering van ‘klein’ na ‘geel’ bring 'n alliteratiewe verbinding met ‘gloed’ in die derde strofe tot stand, terwyl die byvoeging van ‘laat’ die outonome ontwikkelingsgang van die gedig beter tot uitdrukking laat kom en die digter reduseer tot blote ‘handlanger’ - 'n opvatting wat Opperman later ook teoreties in sy ‘Kolporteur en kunstenaar’-lesing sal uiteensit. Met hierdie twee wysigings is die derde strofe in sy voltooide staat. Uit die res van die manuskrip in hierdie stadium werk Opperman verder aan moontlikhede wat hy reeds in die vorige fase uitgeskakel het, sonder dat hy van die materiaal sinvol kan benut. Die variante van die vierde strofe wat 'n mens hier aantref, is dus duidelik 'n verswakking in vergelyking met die voorafgaande. Die laaste twee holografiese stadia verteenwoordig die eindfases van die boeiende geboorteproses van ‘Digter’. Die eerste van dié twee stadia, wat | |
[pagina 155]
| |
albei - in teenstelling tot die vorige fases - met ink en met byvoegings in potlood geskryf is, sien as volg daar uit: Behalwe die woord ‘uit’ is strofe 1 nou in sy finale vorm, terwyl Opperman strofe 3 reeds in die vorige stadium voltooi het. Wat die slotstrofe betref, keer die digter nou terug na die vertikaal geskrewe reëls van die voorlaaste stadium. Uit die ‘stellasies vers’ van strofe 3 kom die skeepsbeelde ‘boeg en mas/ en takelwerk’ sinryk los. Aanvanklik gebruik Opperman nog die woord ‘geskik’ omdat dit klankmatig aansluit by ‘skip’ en hy daarmee die abba-rympatroon van die ander strofes ook hier voortsit. Aangesien die woord egter 'n herhaling van ‘skik’ in die voorafgaande strofe sou wees, laat vaar hy dit in die gedeelte wat met potlood bygeskryf is: ‘en die uiteindelike/ reis met die klein skip’. Behalwe vir die aandagstreep wat later die komma in reël 3 vervang, kry die slotstrofe daarmee sy finale beslag. Met die woord ‘uiteindelike’ word die | |
[pagina 156]
| |
rympatroon nie alleen deurbreek nie, maar plaas Opperman ook - in teenstelling tot die oorwegend manlike ryme van die res van die gedig - 'n woord met vroulike uitgang in die gunstige posisie aan die einde van die versreël. Daarmee suggereer hy die bevryding wat hier teenoor die gevangeskap vir die krygsgevangene én die digter aanbreek: teenoor die statiese ballingskap en eensaamheid van vroeër kom nou die reisvaardigheid van die gedig-skip en die banneling-digter. Ook wat die sinsbou betref, is ‘uiteindelike’ hier besonder funksioneel, deurdat dit, in teenstelling tot die ‘statiese’ bywoord van die voorafgaande stadium, sintakties deur die enjambement heen uitreik na die selfstandige naamwoord ‘reis’ en daarmee na semantiese voltooidheid. En ook die tweede strofe, waaraan Opperman so lank gewerk het, bereik hier feitlik sy voltooide staat. In die vorige stadium het hy reeds die belangrike woord ‘eiland’ gebruik wat die ‘Ceylon’ van die eerste strofe verder omskryf, maar dit nog nie juis ontgin nie. In die fase onder bespreking oorweeg hy drie moontlikhede. In die eerste stadium praat hy van sy drange wat ‘my daagliks eiland/ in horisonne en verlange’, reëls wat hy met die potloodbyvoeging wysig tot ‘my daagliks geëiland/ hou in horisonne en verlange’ wat die durende proses en statiese posisie van die banneling beter weergee. In 'n potloodbyvoeging aan die einde van die bladsy speel hy daarmee om sy rymwoorde om te ruil en die ‘horisonne en verlange’ aan die ‘drange’ van die spreker te koppel. Afgesien van dié ietwat onduidelike koppeling voel 'n mens ‘net’ en ‘menslike’ (wat hy later self skrap) as weinig funksionele woorde en vullings aan, terwyl ‘verlange’ met sy uitreikende vroulike uitgang nou sy gunstige posisie as slotwoord van die strofe moet ontbeer. Daarteenoor is ‘bedags’ 'n verbetering op ‘daagliks’, omdat dit die moontlikheid van 'n kontras met die ‘snags’ van strofe 3 en 4 skep. Dit duur egter tot die finale holograaf en die tikskrif voordat die digter ‘daagliks’ en ‘bedags’ vervang met ‘dag na dag’ wat veel beter by die durende toestand van ‘geëiland/ hou’ aansluit. In die laaste holograaf vervang Opperman ook ‘uit’ in reël 2 deur ‘met’ en ‘in’ in reël 8 deur ‘met’. In die eerste geval transendeer die ‘stryd’ met dié wysiging die Anglo-Boereoorlog en word dit uiteindelik die stryd van die skeppende kunstenaar, terwyl die ‘met’ van reël 8 en verlange van die banneling en sy uitstaar na horisonne mooi die durende toestand suggereer. In die tikstadium het Opperman - blykbaar met die oog op die alliteratiewe moontlikhede - ‘horisonne’ met ‘vergesigte’ vervang, maar dit later weer herstel. In die slotstrofe plaas hy ‘tot’ in die plek van die tweede ‘en’ in reël 2, maar wysig dit weer in die tikstadium, klaarblyklik om die akkumulatiewe effek wat die eerste twee enne in die strofe wek, te laat voortduur. Om aan die leser oor te dra dat hierdie laaste ‘en’ sintakties op 'n ander wyse funksioneer as sy twee voorgangers, vervang hy die komma in die tikstadium met 'n aandagstreep wat in hierdie konteks 'n sterker markeringsmiddel is. | |
[pagina 157]
| |
Daarmee is die gedig voltooi. Aan die einde van die laaste holograaf en die getikte weergawe plaas Opperman die datum 25.1.1946 wat die finale voltooiing van die gedig aandui.Ga naar eind62 Van die eerste inval wat uiteindelik in kwatrynvorm kristalliseer, behou Opperman later net die ‘eiland’-gedagte. Uit die twee poëtiese kerne ‘die klein stellasies v/d vers’ en ‘agter die glas’ bou hy sy gedig met die noukeurige wik en weeg van elke woord sorgvuldig op, sodat die totstandkoming van die geheel terselfdertyd 'n pragtige illustrasie word van die oorgawe van die vakman en kunstenaar wat geen moeite ontsien om 'n perfekte produk te lewer nie. Soos die banneling met bewonderenswaardige geduld sy skippie in die bottel stellasiegewys opbou, so bou Opperman hier met fyn woordkeuse laag op laag van sy gedig op totdat die ‘klein skip’ finaal en onherroeplik ‘geslote agter glas’ bestaan. | |
IXIn 1946 werk Opperman hard aan die manuskrip van Negester oor Ninevé en bereik hy met die motiewe van skuld en verantwoordelikheidsbesef naas die kringloop van geboorte en dood en die kontinuïteit van die geslagte 'n bevredigende bundeleenheid. In die tweede helfte van 1947 en 1948 is hy besig met verse waarin veral die gegewe van die kunstenaarstaak sentraal staan. Van hierdie gedigte verskyn in die April 1948-uitgawe van Standpunte; ‘Scriba van die Carbonari’, ‘Minerva aan Tiresias’, ‘Paardeneiland’, 'n reeks kwatryne (later ‘Aluin’ genoem), ‘Mériba’, ‘Nuwe Jerusalem’, ‘Diereriem’ en ‘Toorklip’. Hierdie gedigte neem Opperman egter eers in 1950 saam met ander in Engel uit die klip op; ‘Minerva aan Tiresias’ verskyn veel later in Kuns-mis. Aan die einde van 1946 was Negester oor Ninevé in 'n finale staat. Opperman lê dit voor aan die Nasionale Pers se uitgewersafdeling wat die manuskrip aan W.E.G. Louw vir keuring stuur. Tot die gramskap van Opperman duur dit meer as vier maande voordat die manuskrip tesame met die aanbeveling van Louw die Pers bereik. Uit die lang gesloer het hy - ten regte of ten onregte - volgens 'n persoonlike mededeling afgelei dat Negester oor Ninevé 'n bietjie op Louw se ‘maag gaan lê’ het. Hier was 'n digter - so het Opperman Louw se ‘dilemma’ vir homself voorgestel - wat reeds met sy tweede bundel van die beste poësie in Afrikaans lewer, Louw se eie digterskap ver verbystreef en 'n bedreiging vir die status van sy gewaardeerde ouer broer inhou. Of die vermoedens in verband met die vertraging blote inbeelding van Opperman was of daadwerklike oorwegings aan Louw se kant, is 'n betwisbare aangeleentheid. Die verslag wat die Nasionale Pers uiteindelik van Louw ontvang en wat die datum 30 Maart 1947 dra, gee egter blyke van die hoë waardering wat hy vir hierdie poësie het. Hy meen die verskyning daarvan gaan ‘'n | |
[pagina 158]
| |
gebeurtenis van betekenis in ons letterkunde’ wees. Dit is 'n bundel wat die belofte van Heilige beeste ‘ruimskoots vervul’ en die werk ‘van 'n bewuste kunstenaar, iemand wat sy eie stem gevind het en wat weet wat hy wil sê’. Na 'n kensketsing van die bundel as geheel sonder hy ‘Ballade van die grysland’, ‘Legende van die drie versoekinge’ en ‘Negester en stedelig’ as boeiende gedigte uit. In ‘Negester en stedelig’ waardeer hy die ‘soepele vormgewing ..., die fonkelende beelde, (en) die hele losse en ope tekstuur van die versbou’. Verder spreek hy sy waardering uit vir die ekonomiese woordgebruik van die ‘Almanak’-kwatryne, al moet die uitgewer self ‘oordeel of sommige van dié gedigte “door den beugel” kan gaan’. Kritiek het hy op ‘enkele lomphede’ wat hy in die manuskrip aandui, veral verplaaste aksente soos mis - uitwis en Hoofreënboog in die rympare. Hy meen egter dat die bundel verdien om ‘sonder enige voorbehoud...uitgegee te word’. Hy sluit af deur te sê dat Opperman ‘met hierdie bundel 'n plek (sal) inneem onder die beste digters van ons tyd in Afrikaans’. Negester oor Ninevé verskyn amptelik op Vrydag, 5 September 1947 in 'n oplaag van 2000 eksemplare teen 'n aanvanklike verkoopprys van 7/6.Ga naar eind63 Opperman moet egter reeds so vroeg as 14 Augustus 'n aantal vooruiteksemplare van die bundel ontvang het. Op dié datum skryf hy - gedagtig aan albei egpare se ervaring van die naderende geboorte die voorafgaande jaar - voorin 'n kopie van Negester oor Ninevé 'n versie vir Fred en Ria le Roux: Aan Fred en Ria
As herinnering aan die nagte
van júlle Negester,
en dankie, Fred vir wel deurdagte
raad...en stukke her en der (!)
en jou voordragte.
Dirk
In 'n eksemplaar vir Van Wyk Louw lui die opdrag: Aan Wyk + Tr.
Beskou my bundel, Wyk
onder meer as huldeblyk
aan jou as digter, denker;
en dankie vir die wenke
voor die ter perse
gaan van hierdie verse.
Dirk
Ook vir Canis Scholtz, vir wie hy in hierdie jare al redelik goed geken het, stuur hy 'n eksemplaar. Omdat Opperman op pad was na sy moeder met die bundel, | |
[pagina 159]
| |
skryf Scholtz, wat bekend daarvoor was dat hy selde gul komplimente uitdeel, op 18 Augustus 1947 'n baie geesdriftige bedankingsbrief aan Opperman. Hy sê: Met die lees het ek al hoe meer onder die indruk gekom en opgewonde geraak. Ek het gevoel ek moet somaar dadelik aan jou skryf en het vir Marié gebel om jou adres te kry. Ek is baie bly, vir jou en Marié se ontwil, vir myself en vir alles wat Afrikaans is. Ek het vandag baie gedink aan die dae toe ek Van Wyk se werk die eerste maal leer ken het, in die drukproewe van Alleenspraak wat Gladstone vir my gebring het om na te sien, en aan die jare wat daarop gevolg het. Dis nie dat ek jou eerste bundel nie ken nie, maar die kennismaking met die tweede was vir my darem soos 'n nuwe ontdekking. Ook die meeste resensies oor die bundel was onverdeeld gunstig. In Die Burger van 13 September 1947 wys Flip du Plessis op die sentrale ‘gedagte van die kontinuïteit wat die gees van die mens aan die skepping verleën’ en die verantwoordelikheid wat die man in die ‘grysland’ teenoor sy kind het en waardeer hy die groter bundeleenheid wat 'n mens hier in vergelyking met Heilige beeste aantref. In sy bespreking in Die Transvaler van 11 Oktober 1947 verwys M.P.O. Burgers na die verskil van mening oor die bekroning van Heilige beeste met die Hertzogprys en die besware teen die sogenaamde duisterheid van Opperman se verse. Met verwysing na uiteenlopende geskrifte, van Job en Johannes se Openbaring in die Bybel tot die poësie van Blake, Browning, Rilke, Leopold en A. Roland Holst, stel hy hierdie besware in perspektief, dui hy die ryk geestesagtergrond van Opperman se bundel aan en kom hy tot die slotsom dat Negester oor Ninevé 'n ‘gevorderde voortsetting van Opperman se digterskap’ is, 'n digterskap wat hy in belangrikheid naas dié van N.P. van Wyk Louw plaas. In vergelyking met sy enigsins negatiewe reaksie op Heilige beeste is G. Dekker nou veel gunstiger. Op 21 Oktober 1947 bespreek hy die bundel oor die radio, en in Die Ruiter van 21 November 1947 verskyn sy resensie oor Negester oor Ninevé.Ga naar eind64 Hierin ontleed Dekker die ‘ideëwêreld’ en die ‘denkvorme’ ten grondslag van die bundel: die kreatiewe ewolusie, die kontinuïteit van die lewe, die goddelike mag teenoor vernietiging, en die kringloop van geboorte en dood. Hy meen die bundel sal nie aan die verwyt van ‘duisterheid’ ontkom nie, want dit ‘verg inderdaad ingespanne studie voor die beelde en simbole hulle dieper sin ontsluit en vir die leser 'n eenheid van verbeelding word’. Alhoewel hierdie poësie sonder die vernuwing van Dertig en die hele Europese geesteslewe ná die Eerste Wêreldoorlog ondenkbaar is, sien hy Opperman as ‘'n selfstandige digter en 'n belangrike figuur in ons poësie wie se verdere ontwikkeling met belangstelling gevolg sal word’. In Ons Eie Boek, XIV: 1, Maart 1948 verskyn Ernst van Heerden se resensie, die tweede studie wat hierdie kritikus aan Opperman wy en wat hy in 1963 in sy bundel Rekenskap opneem. Negester oor Ninevé is vir hom die bevestiging van Opperman se | |
[pagina 160]
| |
kunstenaarskap en 'n merkwaardige bundel om ‘die strakker intellektuele inslag van die verse, die visionêre grootsheid van die digter se sieninge en...die eerste fel-deurdringende poëtiese belewing van die erotiek in Afrikaans’. Naas 'n verkenning van die belangrikste motiewe in die bundel gee Van Heerden ook 'n aanduiding van Opperman se metaforiek, flitstegniek en gebruik van die kwatrynvorm. Iets van die ‘geloof en elementêre menseliefde’ wat hy by A. Roland Holst aantref, vind Van Heerden ook ‘in hierdie boeiende verse van D.J. Opperman. Sy eie konstellasie van die “negester” is meer as 'n simbool van vrugbaarheid en lewensgang; dit is 'n stralende belofteteken, vir die mensdom èn vir die digter, van hoop en uiteindelike triomf.’ In teenstelling tot hierdie gulle reaksies toon die resensie van F.I.J. van Rensburg in Die Volksblad van 17 Januarie 1948 minder begrip vir Opperman se verse. Alhoewel hy die ‘vrugbare verbeelding’, die ‘helder oog’ en die ‘nuwe sieninge en ongewone groeperinge’ waardeer, mis Opperman vir hom ‘'n sterk beeldende vermoë’. Hy meen wel dat ‘beeld na beeld hul tuiste ... vind binne die omtrekke van die gedig’, maar vind die vers ‘oorlaai’ en hy kry - feitlik in teenspraak met sy vroeëre opmerking - die indruk ‘dat die dinge wat so opgenoem word’, nie ‘fataal saamhang’ nie. Hy gaan voort: Hulle (die beelde - J.C.K.) wek die indruk dat hulle saamgevoeg is, groot getalle van hulle. Die gedig het hom nie volgesuig en slegs sy versadigingspunt bereik nie: sekere dinge kan maar nie in die oplossing verdwyn nie. Hierdie neiging tot oormaat hang saam met die sterk individuele karakter van die beeld by Opperman. Soveel krag word op die enkele beeld saamgetrek, dat daar nie 'n grootse samehang van die beelde is nie. Daar is 'n onvermoë van die dinge om te ‘verbind’. Vir Die Huisgenoot-resensie het Opperman ná raadpleging van kollegas H.A. Mulder uitgenooi. Mulder was reeds in hierdie stadium ernstig siek en het lank geneem om die bundel deur te werk, met die gevolg dat sy bespreking eers in die uitgawe van 9 Julie 1948Ga naar eind65 verskyn. In teenstelling tot die ‘maklik stromende vers’, die ‘spontane gevoelsuitdrukking’ en die ‘passiewe afwagting van die skoonheid’ in die impressionistiese poësie beoefen Opperman vir hom ‘'n amper bewus gekonstrueerde vers’ waarin ‘die persoonlike gevoelens...soveel moontlik teruggedruk word agter die digter se strewe na strengobjektiewe beelding’. Dit alles hang saam met ‘'n sterk intellektuele element’ in hierdie poësie. Die vernaamste nuwe motiewe in vergelyking met Heilige beeste is ‘'n apokaliptiese visie van die grootstad’, die ‘skuldgevoel’, die ‘doodsgedagtes’ en die ‘erfsonde’. Hy wys verder op die ‘eienaardig-stotende ritme, gepaard met veelvuldige enjambemente en aksentverspringings’ wat Opperman volgens hom van Raka oorgeneem het. In aansluiting by W.E.G. Louw se keurdersverslag toon hy die verwantskap tussen die aanhef van ‘Le- | |
[pagina *1]
| |
1 Veggeneraal J.D. Opperman - grootoom van die digter en heldefiguur in die Opperman-familie - wat tydens die Anglo-Boereoorlog naby Ermelo op die slagveld gesneuwel het.
2 D.J. Opperman, eienaar van die plase Geduld nr. 2 en later Stedham, en grootvader van die digter.
| |
[pagina *2]
| |
3 D.J. Opperman sr., vader van die digter.
4 Mev. H.S.M. Opperman, moeder van die digter.
5 Die eerste foto van Opperman - ongeveer drie maande oud - saam met sy moeder.
| |
[pagina *3]
| |
6 Saam met enkele van sy broers en susters. Agter: die digter, Maans en Liz; voor: Vi en Louis.
7 Liz, sy ‘beminde suster’, as jong meisie
| |
[pagina *4]
| |
8 In matriek (1934) as lid van 'n aflosspan met die beker wat hulle gewen het. Opperman sit links voor. Links agter staan Gerard Boonstra, Opperman se Wetenskaponderwyser en die persoon wat hom later as student finansieel sou bystaan.
9 As lid van die eerste rugbyspan van die Hoërskool Vryheid in 1934. Opperman staan agter, derde van links.
| |
[pagina *5]
| |
10 Die matriekklas en enkele van die onderwysers van die Hoërskool Vryheid in 1934. Opperman staan agter, tweede van regs, terwyl dr. P.C. Schoonees, die skoolhoof, derde van links sit.
11 Opperman as jong man in sy laaste skooljaar op Vryheid.
| |
[pagina *6]
| |
12 In later jare saam met prof. G.S. Nienaber, dosent tydens sy universiteitsjare in Natal.
13 Opperman as M.A.-student in Pietermaritzburg in 1939.
14 In 1942 tree Opperman in die huwelik met Marié van Reenen. Hierdie foto is op hulle troudag geneem.
| |
[pagina *7]
| |
15 Die eerste stadium van Opperman se gedig ‘Digter’ uit Negester oor Ninevé, uit die manuskripboek in die besit van die Manuskripte-afdeling van die Stellenbosse Universiteitsbiblioteek.
| |
[pagina *8]
| |
16 Die vyfde stadium van ‘Digter’.
| |
[pagina *9]
| |
17 In 1948 tydens die Nederlandse digter J.C. Bloem se besoek aan Suid-Afrika. Van links na regs: Opperman, I.D. du Plessis, Bloem, N.P. van Wyk Louw en Jan Greshoff.
18 Saam met Jan Greshoff, sy Nederlandse vriend uit die jare in Kaapstad.
| |
[pagina *10]
| |
19 N.P. van Wyk Louw met sy dogters Ria en Nakkie en Opperman met Heila (voor Louw) en Trienke in 1949 in Richmondweg, Drieankerbaai, waar die Opperman-gesin toe in 'n woonstel gewoon het en Joernaal van Jorik geskryf is.
20 Tydens T.S. Eliot (heel links) se besoek aan Suid-Afrika in 1950 met proff. W.S. Mackie en J. du P. Scholtz.
| |
[pagina *11]
| |
21 Die Oppermans in later jare saam met prof. en mev. I.W. van der Merwe (Boerneef). Van der Merwe was letterkundige kollega van Opperman aan die Universiteit van Kaapstad.
22 Einde 1952 saam met sy vrou en moeder ná die toekenning van die graad D. Litt. van die Universiteit van Kaapstad op grond van 'n proefskrif wat die volgende jaar as Digters van Dertig gepubliseer is.
23 In later jare saam met Hannes van der Merwe, sy buurman in Baaisiglaan, Tamboerskloof.
| |
[pagina *12]
| |
24 Besig om vleis te braai in die agtertuin van Kraaines, die woning in Tamboerskloof, Kaapstad, waar die Opperman-gesin in 1954 ingetrek het.
25 Saam met A.P. Grové wat verskeie insiggewende kritiese werke oor Opperman se poësie geskryf het.
| |
[pagina *13]
| |
26 Opperman teken 'n eksemplaar van Periandros van Korinthe by die verskyning in 1954 vir mev. Fannie Jordaan (later van der Merwe).
27 Fred le Roux en Ria Olivier (le Roux) as Periandros en Melissa in die eerste produksie van Periandros van Korinthe in die Klein Teater, Kaapstad, 1955.
| |
[pagina *14]
| |
28 Die drinkgelag-toneel in die 1955-produksie van Periandros van Korinthe.
29 By 'n fontein in die tuin van die Pitti-paleis, Florence, tydens sy Europese reis van 1956-1957.
30 Saam met Fred le Roux in Pompeji.
| |
[pagina *15]
| |
31 Die Oppermans herenig met hulle kinders in 1957 na afloop van hul Europese reis.
32 In 1960 aanvaar Opperman die professoraat in Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Hier hou hy op 26 Februarie van dié jaar die lesing ‘Kolporteur en kunstenaar’, sy eerste openbare optrede in sy nuwe hoedanigheid.
| |
[pagina *16]
| |
33 Saam met sy Stellenbosse kollegas. Van links na regs: Opperman, Jaco van der Merwe, Meyer de Villiers, W. Kempen en W.J. du P. Erlank.
34 Op die stoep van Opperman se eerste strandhuis op Franskraal. Agter hom is sy vrou, Marié, en Antoinette en Schalk Pienaar; voor hom sit Japie de Villiers en staan Hein Basson.
| |
[pagina 161]
| |
gende van die drenkelinge’ en die inset van Raka aan, al is daar vir hom by Opperman nie van ‘'n bewuste navolging of nabootsing’ sprake nie maar eerder 'n voortbou op 'n ‘digterlike tradisie’. As beswaar sê hy dat Opperman se vers ‘soms alte stroef houterig’ word, die gevolg van 'n alte ‘gedronge sintaksis’, ‘uitdrukkings wat te veel aan wetenskaplike verhandelings laat dink’ en ‘die telkens amper meganies terugkerende opsommings’. Hy waardeer egter Opperman se ‘plastiese gawes’ en sy ‘visioenêre krag’ en noem Negester oor Ninevé ‘een van die hoogtepunte in ons jonger poësie, 'n datum in die ontwikkeling van ons digkuns’. Nog voor die verskyning van Mulder se bespreking ontvang Opperman in sy hoedanigheid as redaksielid 'n ongevraagde resensie oor Negester oor Ninevé van A.P. Grové met die oog op publikasie in Die Huisgenoot. Grové was in daardie stadium 'n jong, onbekende letterkundige wat ná sy Potchefstroomse opleiding onder G. Dekker pas 'n betrekking as lektor aan die Natalse Universiteitskollege in Pietermaritzburg aanvaar het. Op versoek van sy studente skryf hy 'n beskouing oor Heilige beeste vir een van die universiteitsblaaie, aangesien hulle baie belanggestel het in Opperman se poësie en die bundel druk gelees en bespreek is. Weens die uitnodiging aan Mulder kon Opperman die resensie van Grové nie vir publikasie in Die Huisgenoot aanvaar nie, maar hy het - soos hy later sou sê - onmiddellik besef dat die Afrikaanse kritiek met Grové se struktuurgerigtheid en belangstelling in vormelike aspekte 'n nuwe era betree. In sy beskouing, wat hy later in die bundel Die duister digterGa naar eind66 opneem, toon Grové aan dat die drie basiese motiewe van Heilige beeste (‘die aardse, die vrou en die Groot-Groot-Gees’) in Negester oor Ninevé verband kry deur die groter motiewe van geboorte en dood, die polêre spanning tussen lewensbeginsel en die ontreddering wat in die titel aanwesig is, skuldgevoel en die idee van uitverkiesing. In teenstelling tot die meeste ander resensies oor die bundel gee Grové meer aandag aan die afsonderlike gedigte, terwyl hy met sy verwysing na die ‘sober enkelwoord’ sonder ‘mooidoenery en fraaiings’, die met ‘suggestie gelaaide woord’ en die ‘intellektuele besinning’ ten grondslag van dié verse belangrike aspekte van Opperman se poësie raak aantoon. Hierdie bespreking is met die aandag aan verse soos ‘Nagwaak by die ou man’, ‘Legende van die drenkelinge’ en ‘Digter’ die eerste voorbeeld van detailkritiek op gedigte van Opperman en is die begin van 'n toegewyde studie wat Grové vir die hele duur van sy loopbaan as letterkundige aan Opperman se werk sou wy, 'n begeleidende kritikus wat sekuur ingestel was op die soort vers wat Opperman skryf en wat hy deskundig en met fyn smaak en oordeelsvermoë kon ontleed. | |
[pagina 162]
| |
XAlhoewel die werk by Die Huisgenoot en die kontak met al die skrywers stimulerend vir hom was, het Opperman gevind dat hy te min tyd vir sy eie skeppende werk kry. Terwyl hy op 'n dag, soos sy gewoonte in hierdie jare was, voor die ou Waldorf in St. Georgestraat in 'n lang ry op die Seepuntse bus wag, merk hy teenoor Elsa Joubert op dat hy nie genoeg geleentheid het om te skryf nie. In sy dae by die onderwys kon hy al sy voorbereiding en korreksies van Maandagoggend tot Vrydagmiddag klaarmaak, sodat hy die hele periode van Vrydagaand tot Sondagaand aan sy eie werk kon wy. Daarby het hy gevoel die druk van 'n gewilder en sensasioneler weekblad word al hoe erger. Die direksie van die Nasionale Pers was gesteld op hoër ‘sirkulasiesyfers’ en die resep daarvoor was die ‘mooi nooi en 'n moord’ waarvan Opperman in Joernaal van Jorik praat - 'n gedig waarmee hy juis in hierdie jare besig is. Met Fred le Roux weg om die aanvoorwerk vir die nuwe vrouetydskrif Sarie Marais te doen en Markus Viljoen reeds 'n lang tyd ernstig siek, het hy gevoel dat sy werklas groter word en dat die verantwoordelikheid vir die blad al hoe meer op hom alleen begin rus. In die loop van September 1948 besoek Canis Scholtz vir Opperman om hom te pols oor die moontlikheid van 'n lektoraat by die Universiteit van Kaapstad. D.B. Bosman, die hoof van die Departement Nederlands en Afrikaans, was in daardie stadium met groot verlof en daar was sprake dat hy as Suid-Afrikaanse ambassadeur na Nederland sou gaan en sy betrekking by die Universiteit sou neerlê. Scholtz het in sy plek as hoof van die Departement waargeneem. Die pos wat Scholtz vir Opperman kon aanbied, was 'n tydelike aanstelling as lektor vir twee jaar in die plek van Marie Bax wat oorsee gestudeer het. As Bosman sou bedank en Scholtz in sy plek as professor benoem word, sou daar 'n permanente lektoraat vir Opperman beskikbaar wees, al moes die pos volgens voorskrifte van die Universiteit opnuut geadverteer word. Hoewel sy vergoeding by die Universiteit van Kaapstad aanvanklik hoër sou wees as by Die Huisgenoot, sou Opperman in die twee jaar as tydelike lektor geen verhoging kry nie en sou sy salaris in dié tydperk by die tydskrif geleidelik klim en uiteindelik dié oorskry wat hy by die Universiteit sou ontvang. In dié omstandighede wys hy die aanbod van die hand, in weerwil van die feit dat sy vrou in die verandering die moontlikheid van nuwe prikkels en groter geleenthede vir sy skeppende werk gesien het. Scholtz en Bosman gaan gesels egter met die prinsipaal en die registrateur en kon ná onderhandelinge vir hom 'n aanvanklike £600 per jaar met die vooruitsig van £700 na twee jaar aanbied. Al is die redakteurskap van Die Huisgenoot aan hom voorgehou, besluit Opperman om die pos by die Universiteit van Kaapstad te aanvaar. In 'n brief van | |
[pagina 163]
| |
30 Oktober 1948 skryf hy aan Van Wyk Louw (wat in daardie stadium in Nederland was om 'n eredoktoraat van die Rijksuniversiteit van Utrecht te ontvang): En al trek ek nou oor twee, drie jaar 'n paar honderd pond meer by Die Huis. wat baat dit my eintlik? Lekker huis, groot motor, minimaal lees, nog minder leef, nog minder skryf.... Finansieel gaan ek swaar kry by die Univ., maar ek het tog die tyd...om mens te wees. In die redakteurskap as sodanig stel ek tog nie belang nie. - Die pers het my natuurlik al links en regs probeer omhaal. Albertyn het my na sy getapyte sanktum ontbied en met sy weloorwoë hermansdrupstem die wondere probeer voorskilder van die pos wat op my wag...die armoede van dosente benadruk...- later uit radeloosheid gesê: ‘Ja, 'n mens kom maar selde 'n Goethe teë wat roetine en kuns kan verbind.’ Die pos wat Opperman aanvanklik by die Universiteit van Kaapstad aanvaar, sou dus 'n tydelike betrekking vir die jare 1949-1950 wees. Aangesien die lesings by die Universiteit eers ná die lang vakansie sou begin, het die aanstelling gegeld van 1 Maart 1949. Met Fred le Roux weg en Markus Viljoen ernstig siek het Opperman uitgesien na die nuwe werkomstandighede wat hom in staat sou stel om kollegas soos Canis Scholtz en I.W. van der Merwe daagliks te sien, terwyl Van Wyk Louw van die Fakulteit van Opvoedkunde en Marthinus Versfeld van die Departement Filosofie ook dikwels saam met die lede van die Departement Nederlands en Afrikaans tee gedrink het. Opperman beëindig sy werksaamhede by Die Huisgenoot aan die einde van Januarie 1949 en gebruik Februarie as verlofmaand om sy lesings vir die onderskeie kursusse voor te berei. |
|