Ons Erfdeel. Jaargang 41
(1998)– [tijdschrift] Ons Erfdeel– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 235]
| |
Die mens tussen vergetelheid en glans
| |
IToe Wilma Stockenström se eerste digbundel, Vir die bysiende leser, in 1970 deur 'n obskure uitgewery gepubliseer is, het dit bykans onopgemerk by die kritici verbygegaan. Die literêre wêreld moes wag op D.J. Opperman, daardie fyn leser met sy trefseker oordeel, om van haar verse op te neem in 'n herdruk van sy Groot verseboek, destyds as ‘gevoelige barometer’ vir die jong Afrikaanse digter ‘die akkolade van erkenning’ vir sy werk. Opperman het ook gesorg dat die prominente uitgewery Human & Rousseau nie alleen die voorraad van Vir die bysiende leser oorneem nie, maar om met Wilma Stockenström met die oog op verdere publikasies in aanraking te kom. Sedertdien het van die prominentste kritici met hoë lof oor Stockenström se werk geskryf en is sy naas ander hoë eerbewyse sowel vir haar poësie as haar prosa met die Hertzogprys bekroon.Ga naar eindnoot(1) Dat Opperman in dié mate met Stockenström se poësie beïndruk was, kan naas die intrinsieke gehalte van haar verse aan die verwantskap met sy eie werk toegeskryf word. Met die klipperige landskap van haar verse, die vermoë om in historiese dimensies te dink en die ontdekking van Afrika as vasteland sluit sy aan by die groot tradisie van Opperman, 'n aansluiting wat ook neerslag vind in die kriptiek, die soms barokke katalogisering en die karige aanwending van die lidwoord. Andersyds laat die sinisme en demaskering in haar verse 'n mens aan die satiries-ironiese lyn van Peter Blum se poësie dink, al is daar van regstreekse oornames of navolging geen sprake nie. Belangrik - ook vir die verdere ontwikkeling van Stockenström se digterskap - is die wyse waarop die barheid en verklipte wêreld van Afrika reeds in Vir die bysiende leser gestalte vind en in watter mate tipiese elemente van dié | |
[pagina 236]
| |
vasteland ‘soms (as) hoeders van fossiele’ 'n hele verlede toegesluit hou. Die wêreld van Afrika wat hier ontgin word, is 'n ‘klipperige bed van geboorte en dood / van geslagte en geslagte vaal helde’ en begroei met tipiese plante soos die spiesdoring en driedoringboom met polletjiesgrasveld. In Spieël van water (1973) is die satiries-ironiese lyn van haar poësie sterker aanwesig, veral in die siening van die mens wat in sy vermetelheid die prag van die aarde volgens sy gewaande mening probeer herskep en skend. Soos in haar eerste bundel vind ons hier ook die blootlegging van verrassende aspekte van vroeëre onbeligte fasette van die Afrika-vasteland, vanaf die bar, koue, patriargale weskus met sy legendes en ‘leegtes en putte’ tot die matriargale, ruie, warm, tropiese ooskus met sy vermolming en verwording waaruit ‘die nuwe jongelinge’ van Afrika met rasherinnerings voortkom. Veel meer as in haar eerste twee bundels betrek Stockenström in Van vergetelheid en van glans (1976) die woeste voorgeskiedenis, folklore, primitiewe mite en dikwels bar wêreld van Afrika in haar poësie. Dit is 'n bundel waarin sy feitlik die hele kollektiewe onbewuste van Afrika met haar saamdra om met behulp van die hele beeldwêreld, die folklore en die teleskopering van verskillende periodes uit die geskiedenis van die kontinent iets sinvols omtrent die mens in die algemeen en sy plek in die heelal te sê. Die wêreld van Afrika wat hier gestalte vind, is dié van die prehistoriese mens en dier wat paleontologies opgediep is of in die rotstekeninge van die Sanjagters en die folklore van die swart mense bewaar gebly het. Daarnaas is daar telkens sprake van die tydperke van die Portugese ontdekkingsreise, V.O.C., Groot Trek en stormloop om goud waarin deur vaarders, kolonialiseerders, nedersetters en trekkers met behulp van kruis, fort, blokhuis of voorpos aanslae op die vasteland gemaak word in 'n poging om die wêreld te tem en leefbaar te kry. Die landskap waaraan Stockenström ons by voorkeur voorstel, is dié van 'n ‘ribbetjiemaer veld’ met tamboekiegras, driedorings, katjiepierings en ghaap, 'n knersvlakte deurkruis deur slote en gevul met brulsand en veral klippe, en bevolk deur die leeu, waterslang, olifant, padda, spreeu, eland en ietermagô. Telkens is daar sprake van 'n vasteland wat borrel en gis en wat deur middel van walms, glinstervloed of verteenwoordigende diere 'n ryk primordiale lewe laat vermoed. Op die mens se pogings om hom aan dié land vas te heg en daarmee vergroeid te raak, reageer Afrika egter afsydig: afgesien van walms en winde gee hy niks prys nie, verskaf hy geen kodes nie en dra sy diere geen boodskappe oor nie. | |
IIDie afsydigheid van Afrika, die gebrek aan kommunikasie tussen die ek en sy vasteland en die aanslae wat die mens ten spyte hiervan op sy omringende | |
[pagina 237]
| |
Wilma Stockenström (º1933).
wêreld geloods het, is een van die deurlopende temas in Van vergetelheid en glans. In die groot gedig ‘Paleontologie’ verskyn die ontdekkende mens in 'n winddroë landskap om met 'n ‘bukkende gegrou na sy verkliptheid’ en met 'n rekonstruksie van geraamtes met sy ‘spoordraende’ verlede te kommunikeer. Hierdie hele proses word egter voorgestel as 'n geboorte, as 'n ‘droë keisersnee’, as iets wat uit die aarde en die vergetelheid ontruk is, al is ‘niks so onunieks soos die geboorte van 'n mens’:
Per motor oor die ribbetjiemaer veld is jy naby
Nader nog te voet, skoensole links en regs op skalie,
aan 'n verlede waarmee jy meen jy het niks gemeen,
was dit nie dat jy lewe is en dit lewe was:
geskubde kloue hot haar op turf, deur stoom,
en hier en plek-plek die groen van gewasse,
waaierend krullend spoordraend wasagtig.
Dié plek, nou winddroog, nou brandend groot,
suisend van stilte sodat jou stem klip word,
ontvang jou skrede van skoeisel, jou
beslaande afdruk, tweevoetig, jou kykstaan
net soos 'n meerkat oor wat op sy uiteinde
verklaar tot lug, ontvang jou omvattende kennis,
jou bukkende gegrou na sy verkliptheid
onder die dor en die ghaap, jou kundige sif,
| |
[pagina 238]
| |
jou rekonstruksie en monteer met draad en klamp
van been by been van nog en van nog
geskubdes, gepantserdes, ontvang die operasie,
duld die droë keisersnee asof dit donga is.
Duld jou verrukking. Want diep en verdraagsaam
die sterfbedding en lydsaam aardse ontvangenis
en niks so onunieks soos die geboorte van 'n mens.
Hierdie afsydige en onkommunkatiewe vasteland kom ook voor in ‘Die skedel lag al huil die gesig’:
Eendag sal ek, weet ek, die dood
met laggende skedel trotseer. Minstens
my sin vir humor sal ek behou. Maar
of ek soos oorlee mevrou Ples en soos
die bloubok van my geboorteland
ook 'n glaskas in 'n museum sal haal?
'n Seldsame dier is die mens nou nie juis.
Tog, hoe slim tog is ons met ons
innerlike uurwerkvernuf, hoe sterk
die groot swaaiende hyskraangebare
waarmee ons wolkekrabbers reghoekig
neerplak in woon- en sakekomplekse.
Merkwaardig ons grabbelende navorsing
dwarsdeur dolomiet om ons arms diep
soos skagte te sink en die grys erts
te gryp en op te trek, te vergruis en te
veredel tot staaf op staaf korfagtig
gepakte kluise van belegging. A ja,
wonderbaarlik ons vermoë om weggooisand
tot vuurstof te verryk wat as ons wou
alles onherhaalbaar in allerlaaste oplaaiing
woes en skoon kan laat ontbrand.
Ek sê mos die skedel lag
al huil en huil die gesig.
As die spreker aan die begin van dié gedig sê dat sy eendag die dood ‘met laggende skedel’ sal trotseer, dui dit op die sekerheid van die grynsende kopbeen wat sy uiteindelik sal wees, 'n sekerheid wat emfaties deur die verwisse- | |
[pagina 239]
| |
ling van werkwoorde in reël 1 (‘sal ek, weet ek’) onderstreep word. Met hier-die grynsende kopbeen sal sy, blykens die tweede sin van die gedig, haar sin vir humor behou, al twyfel sy of sy so uniek sal wees om soos ‘oorlee mevrou Ples’ ('n paleontologiese uitgrawing wat wêreldroem aan professor R. Broom besorg hetGa naar eindnoot(2) of die uitgestorwe bloubokGa naar eindnoot(3) van die Suid-Kaap (Wilma Stockenström se streek van herkoms - vandaar ‘my “geboorteland”’) in 'n museum sal beland. Uit hierdie twyfel of sy 'n museum sal haal, kom die slotreël van strofe 1 voort, naamlik dat die mens nie 'n seldsame dier is nie. By wyse van onmiddellike kontras word die mens in sy hiperaktiwiteit en altyd durende werksaamhede in 'n lang uitgerekte tweede strofe uitgebeeld, 'n strofe waarin die sintaktiese patroon ingespan word om hierdie energieke dier wat die mens wesentlik is, in al sy belaglikheid voor te stel. Dit begin met 'n aanduiding van hoe vernuftig die mens met die tyd kan omgaan en van sy ‘hyskraangebare’ wat sowel die mens se grootdoenerigheid as sy oorhaastige nutteloosheid illustreer. Om hierdie ‘hyskraangebare’ voor te stel, maak die digteres van 'n assosiatiewe sprong gebruik deur die ‘hyskraan’-komponent in die ‘wolkekrabbers’ wat feitelik oornag neergeplak word, te aktiveer. Nog subtieler word hierdie noeste ywer voorgestel as die ‘grabbelende navorsing’ in die konteks sowel tot beeld van 'n navorser, meer spesifiek 'n paleontoloog, as die aktiwiteit in 'n myn en die goudproduksie lei. As die arms diep ‘soos skagte... sink’, kan die vergruising en veredeling sowel op die taak van die navorser as die mynwerker slaan en kan die ‘staaf op staaf korfagtig / gepakte kluise van belegging’ as 'n beeld van goudstawe maar ook as produk van die ‘grabbelende’ navorser gelees word. Opvallend is dat albei aktiwiteite vergelyk word met dié van 'n besige by wat sy korwe bou. So slim is die mens dat hy selfs uraan, die ‘weggooisand’ en die afvalproduk van die goudmyne, tot ‘vuurstof’ kan omtower wat tot 'n ‘allerlaatste oplaaiing’ kan lei - die atoomuitbarsting wat die dimensies van 'n laaste apokalips kan aanneem. Terwyl hierdie menslike dier in sy driftige ywer uitgebeeld word, handhaaf die sprekende ek egter deurgaans 'n ironiese afstand, iets wat uit die herhaalde ‘hoe’-wendinge in die sinspatroon, die herhaling van ‘tog’ aan die begin van die strofe, die ‘A ja’-uitroep en die plasing van woorde soos ‘Merkwaardig’ en ‘wonderbaarlik’ aan die begin van 'n reël of sinseenheid blyk. By hierdie ironie sluit ook die kort koepletstrofe aan die einde regstreeks aan, al gryp dit ook terug na die insetstrofe met sy grynsende kopbeen en voltooi dit daarmee 'n sikliese patroon in die gedig. Die grimmige humor en ironie bereik hiermee 'n laaste slotakkoord, ook deur die toespeling op die uitdrukking: Wie die laaste lag, lag die lekkerste. | |
[pagina 240]
| |
Die gedig gee dus 'n geestige kyk op die koorsagtige bedrywigheid van die mens, soos dit tot uitdrukking kom in bouvernuf, goudmynbedryf en uraanontginning, maar ook in sy tevergeefse paleontologiese grabbeling na die verlede. Hierdie geestige kyk is egter in laaste instansie blote skyn, want in werklikheid vertoon die mens pateties en droewig ten spyte van sy voortdurende ywer. Daarom dat die gesig aan die slot ‘huil en huil’. | |
IIIDie mens word egter in Van vergetelheid en van glans as 'n tweeslagtige wese gesien. Enersyds is hy iemand wat homself wil opsluit, toespin en hibernerend in die vergetelheid wil wegsink; andersyds wil hy besin, vooruit beplan, rondom hom ‘tas’ en opgaan na die lig. Hierdie spanning tussen vergetelheid en glans, passiwiteit en aktiwiteit, volledig verankerd wees in die aarde en uitreik na iets hoërs is die sentrale tema van die bundel en hou regstreeks verband met die deurlopende ligmotief wat in so baie verse voorkom. In die besonder word hierdie strewe van die mens in verband gebring met die kunstenaar se drang na bestendiging. Dié beeld van die skeppende mens bereik sy hoogtepunt in ‘Die eland’ wat by die bekende motief van die klipperige Afrika aansluit en gestalte vind in die wêreld van die prehistoriese mens en dier wat in die rotstekeninge van die San bewaar gebly het. In ‘Die eland’ kry ons egter 'n beeld van die skeppende mens, soos vergestalt in die Sanjagter wat die pyl waarmee hy die eland dood, die kwas in die hand neem en die eland in 'n rotstekening verewig:
Dat die klein-klein handjie se aanraak
die eland laat opspring en rooi en vaal draf
dit is die wonder wat hom voltrek in die grot
geel vinger rooi klei dit is die wonder
die eland lewend geraak op die wand van klip
die groot geel mensie en die klem bruin eland
die groot oker dier staan op uit die stof
en bekyk die lewe gelate geverf
uit die bek van die grot by die bak ghwarriebos
menseskepsel loop uit uit die bakkrans
uit na die vaal trop doer teen die vlak
om die wind te skep en die kort pyl te skiet
| |
[pagina 241]
| |
om die bok te skep met die horings swart
en die buik so vaalrooiskurf teen die vaalplatklip
en die sterk pote en die stomp stert en die riffelkwakkie
dit is die wonder wat hom voltrek as die pyl
in die hand wat hand bly kwas word
hand wat die klip laat leef
hand wat laat leef lewende hand
doop in slang en gifbol se gif die pyl
en span die boog breed soos die horison
na die teiken geteken teen die groot-groot lug,
In die eerste strofe van dié gedig word die nietigheid van die Sanjagter beklemtoon deur die ‘klein-klein handjie’ 'n verkleinwoord wat deur die repeterende herhaling van die adjektief nog kleiner gemaak word. Met hierdie klein handjie, dié skynbaar nietige instrument, slaag hy egter daarin om die eland as lewende wese voor te stel. Die eland spring op en draf ‘vaal en rooi’ soos die stof trek, 'n uitbeelding wat die aksent op die vitaliteit en beweging van die dier laat val. En hierdie verewiging is blykens reël 3 van strofe 1 die ‘wonder wat hom voltrek in die grot’: die magiese vermoë van die kunstenaar om die bok in die rotstekening ewig te laat leef. Hierdie magiese vermoë word nog verder uitgebou in strofe 2. Daar word nou gepraat van die ‘geel vinger’ van die kunstenaar wat die rooi klei aanraak en die eland lewend laat raak op ‘die wand van klip’. Hierdie beeld sluit aan by talle voorstellings in die skilderkuns en die literatuur van hoe die kunstenaar uit die dooie rots lewe te voorskyn laat tree. 'n Mens dink hier aan die Griekse mite van Pygmalion en Galatea, maar veral aan Michelangelo se voorstelling van die skepping van die mens in die Sixtynse Kapel waar God die mens met net die aanraking van Sy vinger tot lewe wek. In die derde reël kry ons 'n omkering van die voorstelling in strofe 1. Terwyl daar in strofe 1 gepraat word van die ‘klein-klein handjie’ wat die eland magies laat opspring, is dit nou ‘die groot geel mensie’ wat die ‘klein bruin eland’ tot lewe wek. Maar in die strofe wat onmiddellik hierop volg, is daar 'n verdere omkering. Die ‘klein bruin eland’ groei nou uit tot ‘die groot oker dier’ wat uit die ‘stof’, die ‘rooi en vaal’ van strofe 1, opstaan en wat by die bek van die grot uitkyk.Ga naar eindnoot(4) In strofe 4 word nou gepraat van die jagter, die gewone ‘menseskepsel’ wat nie kunstenaar is nie, wat die ‘bakkrans’ uitloop om die wind te ‘skep’ | |
[pagina 242]
| |
(te kyk van watter kant die wind kom) en om na die ‘vaal trop’ elande ver weg met sy pyl te skiet. In die plek van die kunstenaar wat skeppend is en die eland verewig, kom dus nou die jagter wat met sy pyl die lewe vernietig. In strofe 5 ondergaan hierdie ‘menseskepsel’ egter 'n gedaantewisseling. Nou ‘skep’ hy nie meer die wind nie, maar die bok wat hy pragtig met sy swart horings en - met die effektiewe herhaling van ‘vaal’ - sy ‘vaalrooiskurf’ buik teen die ‘vaalplatklip’ uitbeeld. En dat hierdie dier inderdaad op die rots lewe, sien 'n mens in al die fyn besonderhede wat hy verstrek: tot die sterk pote, die stomp stert en die ‘riffelkwassie’ (die geriffelde geslagsorgaan). Strofe 6 sluit regstreeks aan by reël 3 van die gedig as die gedagte van die ‘wonder’ hervat word. Nou word daar gepraat van die ‘pyl’ wat in die hand van die skeppende mens 'n ‘kwas’ word. En die ‘klein-klein handjie’ van die eerste reël van die gedig word nou die ‘hand’ (drie keer herhaal) wat die mag het om die klip te laat leef. Hierdie hand het in strofe 7 selfs die vermoë om die jagter met sy pyl en gif op die rots te verewig en in al sy krag voor te stel soos hy die boog span, nou egter ontdaan van sy vermoë om dood te maak. Daarom dat hy blykens die slotreël hom rig op ‘die teiken geteken teen die groot-groot lug’, nie op die eland nie, Teenoor die ‘klein-klein handkie’ van die nietige kunstenaar staan ‘die groot-groot lug’, feitlik 'n heelal wat hy in sy kunswerk kan betrek. ‘Die eland’ is met sy voorstelling van die Sanjagter en die talle subtiele herhalings 'n voortreflike voorstelling van die wyse waarop die kunstenaar dinge in sy kunswerk kan vaslê en tot ewige lewe kan verhef. | |
IVIn Monsterverse (1984), haar eerste bundel wat ná Van vergetelheid en van glans verskyn, teken Stockenström die mens, soos vroeër in Spieël van water, in sy geringheid en vermetelheid: 'n wese wat voortdurend wil opglans, die wêreld wil herskep en ‘sterbesete’ uitreik na iets anders. Soos in Van vergetelheid en van glans kan daar egter niks van die mens se lewe paleontologies uitgedelf word nie. Spelonke bewaar slegs ekskresies en oorblyfsels van die verlede; nêrens is daar 'n grot wat die verlede kan besweer met ‘druipsteensale’ of 'n skelet kan laat ‘toedrup tot fantasie’ nie. In somber oomblikke word selfs die poësie 'n ontbeerlike ‘kommoditeit’, kan die digter hoogstens ‘disparate reëls’ voortbring ‘wat nie wil klont’ nie en is die mens vervul met die verganklikheid van dinge. Sy ywerige bedrywigheid is tevergeefs ‘teen die geweld van niks’. Die mens moet die waan dat hy die hemele besit, finaal van hom afskud en teenoor ‘die mal getwis oor gode’ slegs die ‘swaartekrag van betekenis / ... digby die grond’ as enigste sekerheid ontgin. | |
[pagina 243]
| |
In Die heengaanrefrein (1988) - geskryf by geleentheid van die Hugenote se koms na die Kaap driehonderd jaar gelede, maar volkome geonthistoriseer tot 'n besinning oor die mens se herkoms en bestemming - word onder meer die motiewe van die pionier met die kultivering van die aarde verbind. Dit loop uit op 'n vreugdevolle gevoel van hoop in die ‘ruim land’ as die sinvolheid van 'n bestaan en lewe in die ‘fyn geskryf’ en in ‘'n woord van wonder’ vasgelê word. Die ‘moddertaal’ wat die Hugenote saam met die Hollandse koloniste aan die Kaap ontwikkel, gee - in 'n pragtige kontinuering in die beeldspraak - die geleentheid vir ‘paddavissies’ om in te swem; die ‘emmersvol klanke’ word uiteindelijk 'n ‘groot gekwaak’. Stockenström se bundel, Aan die Kaap geskryf, sluit met sy tematiese gerightheid op 'n bepaalde plek of stad in 'n sekere sin aan by die poëtiese besinging van 'n streek, 'n tradisie wat na die sewentiende-eeuse Nederlandse poësie met sy lang uitgesponne aleksandrynse barokverse terug te voer is. Hierdie ‘lied van die land’ vind 'n mens byvoorbeeld in Vondel se lofsonnet oor Amsterdam en De Ystroom van Antonides, terwyl Jan de Marre in sy Eerkroon voor de Caab de Goede Hoop uitvoerig by al die heerlikhede van die Kaapse natuurskoon stilstaan. Aan die Kaap geskryf het iets van hierdie tradisie van die laus in die poësie, al is die bundel nie 'n ongekwalifiseerde loflied nie. Dikwels praat die spreker in Aan die Kaap geskryf op 'n geestige of skalkse wyse, soms met 'n satiriese ondertoon wat 'n sekere afstandelikheid verraai. tog is daar in baie van die verse by die sprekende ek 'n intense vreugde by die aanskouing van al die natuurweelde. Wat 'n mens veral opval, is die voortreflike en verrassend oorspronklike wyse waarop Stockenström 'n gedig beeldend kan laai, soos in een van die hawe-gedigte waarmee die bundel afsluit,
Voor haar siel weet sy die baai van drie berge
sien haar weer, diensmeisie van die oop see.
Sy onderwerp haar, met krakende gewrigte
vasgemeer, aan die wydsbeenhyskraan se vólmaak
van haar buik, die stewe gapend groot
oop vir die instop van vrag wat haar diep
laat dryf, en loom laat sy haar sleep
uit na die storms, onderweg na land
op land, selfgenoegsaam, totdat die hawe
waar die leeu wag hou, haar weer gewaar
en sy stoom die baai binne, en stadig
kom die verkeer in rat. Wie belet
ooit die sege van die onopgesmukte skip
wat onversadig op die halfronde se stede
| |
[pagina 244]
| |
vaar om met 'n droë bevalling aan te doen,
sy sonder wie beskawings sou verskrompel?
Welkom is die vaartuig van die seer gerieflike
ontvangenis, sonder voorbehoud, in die vieslike,
besoedelde, weliswaar, waters van die ekonomie.
Die knoppies is gedruk, die dolosse gegooi.
Die basiese beeld waarmee Stockenström hier werk, is dié van 'n boot wat die ‘baai van drie berge’ - Tafelberg, Leeukop en Duiwelspiek - uitvaar om die produkte van die land oor die wêreld - of dan ten minste oor die ‘halfrond’ - te voer. Hierdie vragboot word egter reeds in die tweede reël van die gedig as ‘diensmeisie van die oop see’ voorgestel, 'n siening wat haar nie alleen vroulik maak nie, maar gedienstig en diensvaardig. Dat hierdie diensvaardigheid seksuele gunste nie uitsluit nie, blyk uit die volgende reël as sy haar vrywillig ‘onderwerp’ terwyl die hyskraan soos 'n man ‘wydsbeen’ op haar stelling inneem en haar ‘buik / vólmaak’. Die lading van die vrag word dus as 'n bevrugting voorgestel; vandaar dat haar ‘stewe’, die voorstuk van die boot, ‘gapend groot / oop’ is - 'n voorstelling wat 'n dienswilligheid suggereer, maar die seksdaad amper na iets gewelddadigs laat lyk, soos 'n mens ook uit die vasgemaakte ‘krakende gewrigte’ kan aflei. Blykbaar laat sy haar dit alles welgeval, want daarna raak sy ‘loom’ en laat sy haar gewilliglik uitsleep na die oop see. Wanneer sy terugkeer na die ‘hawe/waar die leeu wag hou’, 'n toespeling op Leeukop maar terselfdertyd op die minnaar wat wellustig haar koms afwag, kom die ‘verkeer in rat’ en word die spel hervat. Al is hierdie boot soos 'n eenvoudige ‘onopgesmukte’ meisie, is sy noodsaaklik vir die voortbestaan van beskawings. In die stede wat sy besoek, laai sy haar vrag af, ná die bevrugting nou gesien as 'n ‘droë bevalling’ wat aan die ‘droë keisersnee’ van ‘Paleontologie’ uit Van vergetelheid en van glans laat dink. En hierdie boot is altyd, selfs al gaan daar vieslikheid mee gepaard, bereid tot ‘ontvangenis’ sonder ‘voorbehoud’, 'n woord wat ook sonder voorbehoedmiddels suggereer. 'n Gedig soos hierdie illustreer hoe voortreflik Stockenström twee betekenislae naas mekaar tot stand kan bring. Met die gedronge beeldspraak en geskubde taal van haar poësie sluit sy aan by Opperman en Blum en reageer sy op die al te losse prosodie van die Breytenbach-navolgers. Reeds in Vir die bysiende leser kan 'n mens hierdie aspekte van haar digkuns terugvind, iets wat ook in haar jongste bundel aanwesig is. Deur die besondere verkenning van die mens in sy verhouding tot die wêreld en uiteindelik ook tot 'n bowe-werklikheid bereik sy haar hoogtepunt in Van vergetelheid en van glans. In geen bundel na dié van Blum vind die droë, harde landskap van Afrika en sy voorgeskiedenis van ontdekkingsreise, primitiewe lewe en paleontologiese opgrawings vollediger gestalte nie. |
|