Christiaan Maurits van den Heever
(27 februari 1902 - Johannesburg, 7 juli 1957)
Christiaan Maurits van den Heever is gebore in 'n konsentrasiekamp in die Oranje Vrystaat tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Te midde van 'n felle stryd is hy in die wêreld gekom en dwars deur sy lewe was daar strydende elemente in sy gemoed en in sy omgewing. ‘Uit teenoorgestelde spanninge’ sê Herakleitos, ‘kom die skoonste harmonie’; en dit is iets wat ons ook van die kunstenaar Van den Heever kan sê.
Van sy vroegste dae af was hy 'n natuurkind. Hy het sy kinderdae op 'n plaas in die Vrystaat deurgebring en diepe omgang gehad met veld en met dier. Hierdie invloed het hem nooit verlaat nie, selfs al was hy die meeste van sy latere jare in stede woonagtig. Hy was in die stad, maar nie van die stad nie. Altyd het hy teruggegaan na die Natuur vir die diepere gedagtes van sy filosofie en ek voel oortuig (ons het gesprekke daaroor gehad) dat dit die landelike element in Stijn Streuvels was wat vir hom aangetrek het. Hy het dan ook dikwels oor Stijn Streuvels gepraat en daar is beskrywings in Somer en in Droogte wat vergelyk kan word met soortgelyke beskrywings in die Vlaamse skrywer. Besonder aantreklik vir hom was die bekende verse van Guido Gezelle, van wie hy 'n Bloemlesing uitgegee het, veral 't Ruischen van 't ranke riet, met sy Homeriese opskrif.
Dit was dan ook die kontras tussen stad en platteland wat hom veral geboei het. In sy eerste romans skilder hy die degenerasie van die boer wat na die stad trek. Ons vind it in werke soos Op die plaas, Langs die grootpad, Droogte en Groei.
Later word hy minder eensydig en toon aan dat die twee tipes mekaar kan aanvul; en tog bly sy hart steeds in die natuur van die plaaslewe. Soos Vergilius, verstaan hy die natuur as digter. Die herhaalde en fynbeskrewe natuurtonele in sy romans, wys waar sy belangstelling lê.
‘Somer’, wat ek in Engels vertaal het, tril met die skoonheid van die plaaslewe. D.F. Malherbe - een van die leermeesters wat hom seker die diepste beïnvloed het - noem dit sy beste werk. Ook oorsee is die Engelse vertaling goed ontvang, asook die vertalings in Vlaams en Duits. Insig in die menslike gemoed teen die agtergrond van die natuur, is die sterkte van hierdie idille.
Die roman Laat vrugte, staan, saam met Somer aan die spits van C.M. van den Heever se prosa. Oom Sybrand het die oordrewe trots (hubris)