| |
| |
| |
| |
Jacob Daniel du Toit
(Paarl, 21 Februarie 1877 - Pretoria, 1 Julie 1953)
Met dr. J.D. du Toit het 'n figuur heengegaan wat op menigerlei gebied leier was gedurende die afgelope halfeeu, die tydperk wat so uiters belangrik was in die Afrikaner se volkswording.
Hy was in sy nederige dienaarskap leier op kerklike gebied; as digter was hy die gewete maar ook die trooster van sy volk; die voortreflike Afrikaanse Psalmboek is sy werk, en in die Afrikaanse Bybelvertaling het hy die leeueaandeel gehad. Met die klim van die jare het hierdie skugtere, nederige mens 'n figuur geword wie se betekenis uitgegroei het ver buite die grense van sy kerklike, politieke en sosiale kring en het hy in sy eenvoudige opregtheid, in sy diepe wysheid, gefundeer in sy innige geloof en onwankelbare beginselvastheid, in sy naaasteliefde die man geword in wie die nasionaal bewuste Afrikanerdom die eienskappe, beginsels en ideale beliggaam sien wat dit as hoogste waardes stel.
Jacob Daniël du Toit is op 21 Februarie 1877 gebore in die Paarl as seun van die geniale leier van die Eerste Afrikaanse Beweging, wat veel meer as blote taalbeweging was: dit was die ontwaking van die Afrikaanse Gedagte juis in 'n tyd toe die gevaar van verengelsing so onontkombaar gelyk het, selfs reeds die bolwerk van die Kerk binnegesluip het. Met breë en vérsiende blik en tegelykertyd met sielkundige insig en praktiese sin het ds. Du Toit die toekoms van 'n kultureel, ekonomies en staatkundig selfstandige verenigde Afrikanervolk beplan. In die sfeer van die Genootskappers wat hierdie taak aangevang het met sulke nederige maar doeltreffende middele, het die jong Japie groot geword en tot bewustheid gekom. Op jeugdige leeftyd help hy sy vader met die hersiene uitgawe van ‘Die Geskiedenis van ons Land in die Taal van ons Volk’. In die met soveel piëteit geskrewe biografie van sy vader sal hy later 'n breë skildering van dié sfeer, van dié manne en hulle ideale gee.
Reeds vroeg verloor die seun sy moeder - dit het 'n diep invloed op sy persoonlikheid gehad. Twee jaar woon hy by sy ouma op Daljosafat. Die herinneringe aan hierdie vrome vrou het hom tot in sy hoë ouderdom bygebly. Daarna gaan hy saam met D.F. Malherbe en A.G. Visser skool op die bekende Gedenkskool. In 1885 word sy vader Superintendent van Onderwys van die Zuid Afrikaansche Republiek en
| |
| |
hertrou. Hy stuur sy twee seuns na 'n Duitse kosskool op Morgenzon (by Rustenburg). Nadat hy weer 'n tydlank leerling aan die Gedenkskool was, gaan Japie studeer aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde, Kerk op Burgersdorp, waar hy in Junie 1899 die proponentseksamen aflê. Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog gaan hy as veldprediker saam met die Boerekommando's. In 1900 vertrek hy na Nederland vir verdere studie aan die Vrije Universiteit, Amsterdam. In 1903 promoveer hy op 'n proefskrif: ‘Het Methodisme’. In dieselfde jaar word hy beroep tot predikant van Potchefstroom - sy gemeente het die hele Westelike Transvaal omvat. Met sy fyn humorsin kon hy in later jare kostelike staaltjies vertel van sy ondervindinge gedurende hierdie jare.
In 1911 word dr. Du Toit, wat, omdat hy aanvanklik die enigste gedoktoreerde teoloog van sy Kerk was, in kleiner kring die bynaam ‘doktertjie’ gekry en tot sy dood toe behou het, hoogleraar aan die Teologiese Skool, wat inmiddels, grotendeels deur sy toedoen verplaas is na Potchefstroom. Hierdie veeleisende amp het hy beklee tot 1949 - veeleisend: behalwe sy kolleges, wat jarelank sowel die Dogmatiek as Ouden Nieu-Testamentiese Eksegese en die Kerkreg omvat het, was hy sy Kerk se raadsman met sy gewaardeerde, op diepgaande studie en sorgvuldige besinning berustende, adviese; daarby was hy 'n besielende kanselredenaar en het 'n belangrike aandeel gehad in die redigering van ‘Die Kerkblad’. Dit verklaar waarom hierdie uitmuntende geleerde betreklik weinig suiwer wetenskaplike werk gepubliseer het op teologiese gebied.
Kragtens sy amp was hy ook dosent aan die Potchefstroomse Universiteitskollege vir Christelike Hoër Onderwys, wat ontstaan het uit die Literariese Departement van die Teologiese Skool. Hy was saam met wyle Prof. F. Postma grondvester van hierdie inrigting en het dit in die eerste jare van opdraende stryd dienste van onskatbare betekenis gelewer, al sy tak en groot invloed in diens daarvan gestel. Dis hom nog gegun om hierdie in die geloof gestigte klein kollege te sien uitgroei tot selfstandige Universiteit en die eerste Kanselier daarvan te wees.
Toe die Hollandse Kerke in Suid-Afrika in 1916 gesamelik die taak van 'n Bybelvertaling in Afrikaans onderneem het, was die seun van S.J. Du Toit die aangewese man om daarin 'n groot rol te speel. Die Kuratorium van die Teologiese Skool het hom 'n tydlank vrystelling gegee van sy professorale werk. Hy het hom teruggetrek op sy plasie
| |
| |
Krugerskraal, met sy weelderige groei van doringbome en sy rykdom aan oorblyfsels van 'n vervloë Bantoe-beskawing. Hier, in 'n nederige rietdak-buitekamer, het hy hom jarelank aan die inspannende taak gewy. Die ander eindvertalers was drs. J.D. Kestell, E.E. van Rooyen, C.M. Fourie en B.B. Keet. Dr. du Toit het veral groot gedeeltes van die Ou Testament vir sy rekening gehad, waaronder die digterlike boeke en die groot profete. Maar behalve dit het hy die oorwegende rol gespeel in die koördinering en die revisie, waartoe hy deur sy fyn taalgevoel uitmuntend toegerus was. Tereg is hy genoem die siel van die Bybelvertaling. Nieteenstaande die ernstige knou wat sy gesondheid met die hartaanval in 1946 gekry het, het hierdie tingerige man sy laaste lewensjare met taaie volharding gewy aan die revisie vir die tweede druk. Die laaste hartaanval, wat die voorspel was van die einde, het hom getref in die kantoor van die sekretaris van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap in Johannesburg tydens 'n onderhoud i.v.m. die laaste reëlings vir die uitgawe. Vir wie die voorreg gehad het om intiem met Totius saam te leef gedurende hierdie laatste skof van sy lewenstaak, sal die onvermoeide, gewetensvolle ywer waarmee hy aandag geskenk het aan die kleinste eksegetiese en taalkundige besonderheid, lewenslank 'n besieling bly. Bewonderenswaardig, beskamend was die geduld, die selfverloëning waarmee hy steeds kritiek en wenke aangehoor en oorveeg het van persone wat dikwels geen besef het van die werk wat die geringste verandering ingehou het nie. Met onverdrote ywer het hy steeds die ontsaglike taak onderneem wat elkeen van dié veranderings beteken het.
Totius het ook 'n levendige aandeel gehad in die Afrikaanse taalstryd na die Tweede Vryheidsoorlog. Hy het vurige taalstryder gebly, soos o.a. blyk uit sy besielende toespraak by geleentheid van die Moedertaalkongres in 1943 in Bloemfontein gehou toe wetgewing die onbelemmerde ontwikkeling van die Afrikaanse kind op skool bedreig het.
Maar vir hom was dit nooit bloot 'n taalstryd nie. Vir die seun van ds. S.J. du Toit, wat in sy ideë soveel verwantskap met Dr. A. Kuyper vertoon het en 'n bewonderaar was van Bilderdijk en Da Costa, vir hierdie leerling van Jan Lion Cachet, wie se ouers onder invloed van Da Costa tot die Christendom bekeer is, moes die nasionale ten nouste verbonde wees met die Christelike, daaruit voortvloei. Sy vader het hom uit beginsel nooit na 'n ‘neutrale’ skool gestuur nie - sy hele opleiding tot die hoogste wetenskaplike sport het hy aan inrigtinge
| |
| |
van besondere onderwys geniet. En self was hy sy lewe lank 'n voorvegter van Christelik-nasionale onderwys, soos ook uit genoemde toespraak blyk.
Dieselfde Christelik-nasionale beginsel het hom ook gelei op politieke gebied. Hoewel hy uit hoofde van sy amp hom slegs 'n enkele keer daadwerklik op politieke terrein begewe het, bv. in die veelbewoë dae toe die Nasionale Party gestig is, en hoewel hy steeds met klem aangedring het op volkseenheid, maar nooit ten koste van die Christeliknasionale beginsel nie, het hy nooit sy persoonlike oortuiging onder stoele of banke weggesteek nie en is daarvoor geëer deur geesgenoot en teëstander. So het hy bv. nie geskroom nie om voor die algemene verkiesing van 1953 'n ope brief tot sy volk te rig met 'n ernstige waarskuwing om hulle te besin op die beginsels en waardes wat op die spel was.
Reeds voor die Engelse oorlog het die jong Du Toit onder die skuilnaam Jaduto (Jacob du Toit) enkele versies en vertalinge van Duitse gedigte in Ons Klyntji gepubliseer. Maar na die oorlog kom sy ware digterskap tot ontplooiing. Onder die deursigtige skuilnaam Totius, vorm hy saam met Celliers en Leipoldt die ‘Driemanskap’, wat bevrydende uiting gee aan die smart oor die oorlogsleed en die verlies van die vryheid. As kinderlik gelowige Calvinis sien hy in dit alles die Raadsplan van die Skepper.
Droewige slae in sy persoonlike lewe is die digter nie bespaar nie. Eers was dit die dood van 'n vereerde vader, 'n broer en 'n suster, later moes hy binne die bestek van twee maande sy jongste seuntjie afgee aan harsingvliesontsteking en sy oudste dogtertjie deur 'n dodelike weerligstraal. Hierdie smart het die fyngevoelige digter op homself teruggedryf, en die heel persoonlike liriek wat hieraan ontspring het, openbaar miskien die mees essensiële van sy digterskap.
Hierdie belewing van sy volk se smart en van persoonlike leed, deur die geloof ervaar as die lot van die Christen op aarde, het Totius voorberei vir sy taak as Psalm ‘berymer’. As wetenskaplike eksegeet en Bybelvertaler was hy hiervoor verder uitmuntend toegerus. Daarby het hy die gawe van nederigheid, van selfontlediging besit, sodat hy by sy vertolking van die Psalms nie in die eerste plek individuele, om nie eens te praat van in dividualistiese, ontroeringe wou verwoord nie, maar, netsoos Revius, hom in alle ootmoed tolk van die Bybelse Psalmdigter en mondstuk van die singende gemeente gevoel het.
| |
| |
Daarom kon hy ook by eie kosbare vondste 'n dankbare gebruik maak van wat 'n hele reeks Dietse psalmberymers vanaf Marnix gebring het en het hy self gepraat van ‘die ou goud van die Afrikaanse Psalmboek’. A. Roland Holst het hierdie trek voortreflik as volg gekarakteriseer: ‘Was het wellicht door deze kuischheid van de ziel, deze schroom zichzelf op den voorgrond te dringen, dat ik vooral bij het lezen van zijn Psalmberijmingen het gevoel kreeg, hier in het geheim te worden genomen van zijn binnenst heiligdom alsof hij het meest verhevene in zichzelf pas uit had kunnen spreken na het te hebben toegedacht - toegeschreven inderdaad - aan wat zoo veel ouder was dan zijn eigen leven? Als er ook maar eenige grond is voor dit gevoel, zou ik hier willen spreken van een offer, zooals slechts de meest zuivere mensch dat brengen kan’.
Netsoos sy aandeel aan die Bybelvertaling was sy Psalmberyming 'n geloofsdaad.
Totius was die seldsame voorreg beskore van na 'n lang lewe van ingespanne arbeid sy taak afgerond te mag weet. Toe sy uur gekom het, was hy volkome sterwensbereid en het alle aardse bekommernisse van hom afgegly.
Hom was ook die groot voorreg beskore van die huwelik met 'n vrou wat hom steeds trou tersyde gestaan het in sy levenstaak. Maria Postma oorleef hom saam met drie seuns en 'n dogter. Sy is die dogter van die stigter van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Deur haar optimisme en humorsin kon sy steeds die lewe verlig van die man op wie so sterk van toepassing was sy ontroerende vers: ‘Want liefde is heil'ge derenis’.
Die liefde van sy volk, wat nie alleen van die digter nie maar ook van die volksman en die kerklike leier as Totius gepraat het, het geblyk uit die spontane hulde by geleentheid van sy sestigste verjaarsdag, waaraan 'n geskenk verbonde was wat die vervulling gebring het van 'n lang gekoesterde begeerte: 'n reis na die Heilige Land. Dit het nie minder geblyk nie uit die in die stillere sfeer van Krugerskraal gebragte hulde by geleentheid van sy sewentigste verjaarsdag, waarby die volk in al sy geledinge verteenwoordig was.
Die waardering vir sy wetenskaplike, digterlike en kulturele arbeid spreek uit die groot aantal eredoktorate wat aan hom deur sowel buitenlandse as Suid-Afrikaanse Universiteite verleen is.
G. Dekker
| |
| |
| |
Geskrifte
Digwerk.
1908 | Bij die Monument: Verse van Totius: met 'n voorrede van President Steyn. Uitgegee ten voordele van die Nasionale Vroue Monument. Potchefstroom. Transvaal Boek Stoor. |
1909 | Verse van Potgieters Trek. Potchefstroom, A.H. Koomans en H. de Graaf. |
1912 | Wilgerboombogies: Verse van Totius, ter gedagtenis aan drie liewe dode. Potchefstroom, ‘Het Westen’-drukkery. |
1913 | Rachel: Verse van Totius: met voorwoord van President Steyn. Potchefstroom, A.H. Koomans. |
1915 | Trekkerswee: Verse van Totius; met tekeninge van J.H. Pierneef. Potchefstroom, A.H. Koomans. |
1920 | Kinderverse van Totius vir skool en huis; tekeninge deur J.H. Pierneef. Potchefstroom, A.H. Koomans. |
1923 | 36 psalme in Afrikaans, berym deur Totius; musiek bewerk deur F.W. Jannasch. Kaapstad, Nasionale Pers, Bpk. |
1923 | 50 psalme in Afrikaans, berym deur Totius; ritmiese bewerking deur F.W. Jannasch. Kaapstad, Nasionale Pers, Bpk. |
1929 | 60 psalms in Afrikaans, berym deur Totius; ritmiese bewerking deur F.W. Jannasch. Kaapstad, Nasionale Pers, Bpk. |
1934 | Passieblomme. Bloemfontein, Nasionale Pers, Bpk. |
1936 | Uit Donker Afrika: Verse van Totius. Bloemfontein, Nasionale Pers, Bpk. |
1937 | Skemering: Verse van Totius. Bloemfontein, Nasionale Pers, Bpk., 1948. Die Berymde Psalms in gebruik by die drie Hollandse (Afrikaanse) Kerke in Suid-Afrika, en die bundeltjie ‘Enige Gesange’. Uitgegee deur die S.A. Bybelvereniging, Kaapstad. |
1938 | Die Trek van Boerewaens. Facsimilé-uitgawe van die geskenk van die P.U.K. vir C.H.O. en die Teologiese Skool aan die Voortrekkerwaens by hulle besoek aan Potchefstroom, 9-13 Nov. 1938. Pretoria, Volkstem-Drukkery. |
1940 | Skrifberyminge van melodieë voorsien en uitgegee op las van die Sinode van die Geref. Gemeentes van Suid-Afrika, 1939. Kaapstad, Nasionale Pers, Bpk. |
| |
Enkele ander geskrifte (nie volledig nie):
1903 | Het Methodisme. Höveker en Wormser, Amsterdam. |
1906 | Van het ambt der ouderlingen en diakenen. Pretoria, Höveker en Wormser. |
1908 | Christelijk Onderwijs met of zonder dogma. Pretoria, Höveker en Wormser. |
1911 | Saam met ds. Hamersma en dr S.O. Los: Geschiedenis der Christelijke Kerk. Potchefstroom, A.H. Koomans. |
1911 | De zestiende-eeuwsche profetie en haar betekenis voor onze tijd (inaugurele rede). Potchefstroom, A.H. Koomans. |
1915 | Methode van echte studie (rektorale rede). Potchefstroom, A.H. Koomans. |
1916 | Preekmethode (rektorale rede). Potchefstroom, A.H. Koomans. |
1917 | Ds. S.J. du Toit in weg en werk: 'n periode van Afrikaanse oplewing. Paarl Drukpers Maatschappij, Beperkt. |
1918 | De Doop des Geestes en de Christelike Doop. Potchefstroom, A.H. Koomans. |
1921 | Saam met ander: Uit die Skrifte. Deel II. Preke oor die Openbaring. Potchefstroom, A.H. Koomans. |
1932 | Die Vertaling van die Bybel in Afrikaans. Bloemfontein, Nasionale Pers, Bpk. |
1945 | Ds. S.J. du Toit en Dr. J.D. du Toit: Bybellande deurreis (Palestina en Sirië). Bloemfontein, Nasionale Pers, Bpk. |
|
|